NetFiksie - nuwe fiksieArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.
LW Hiemstra Trust



Wim Alberts
Wim Alberts het regsgrade aan die UOVS en Unisa behaal, en was vir ’n aantal jare ’n dosent in Handelsreg by Unisa. Tans is hy ’n vennoot in ’n firma van Patent- en Handelsmerkprokureurs in Johannesburg.
  Wim Alberts

Inkopies

Wim Alberts


      okapi: a mammal (Okapi johnstoni) discovered in the deep forests of the Belgian Congo in 1900 and closely related to and in many respects resembling the giraffe but being somewhat smaller than an ox, having a relatively short neck, a coat of solid chestnut on the body, the cheeks yellowish white, and the upper parts of the legs ringed with cream and purplish black.


Seinfeld, George, en Elaine was nie binne nie; daar was nie ’n Saab afslaankap buite nie, net ’n Corolla met RAU op die deure. Maar voor hom, met wit bakkersmus en uniform aan, was Kramer. Hy wou egter incognito wees.

“Nee, baas, daardie program, ek, ek ken hom nie,” sê Kramer.

“Jy hoef nie vir my te sê baas nie, hoor?” sê die student

Die bakker vat aan sy mus, kyk na die deeg aan sy hande. Die student besing weer die brood se lof, sluit die gesprek af en stap na buite.

Die winkeltjie is net langs BJ’s, as mens links afdraai van die nasionale pad, sodra jy die dorpie binnekom. So drie honderd meter aan met die gruispad, aan die linkerkant, vind mens Naledi Kafee. Dit is gebou met rooi bakstene rondom ’n staalstruktuur, en het ’n sinkdak. Die winkel is omtrent veertig meter lank, en vyftien meter breed. Op die voorste muur is ’n reuse Coke bottel, minstens ’n meter groot, en nog groter daaronder Things go better with Coca-Cola. Die student wonder hoekom adverteer Coke — hulle verkoop klaar die meeste? Hy onthou dan wat die vorige hoof van Coke (met ’n Spaanse van) gesê het: hy sal nie rus voor daar Coke in elke huis se krane is nie.

By die ingang van die winkel is ’n sinkplaatafdak met daaronder ’n plaveisel van rooi bakstene, dalk wat van die bouery oorgebly het. Die sinkplate is gegalvaniseerd, en Yskor se handelsmerk, die blou Y, is daarop. Daar het hy die wit Corolla (is alle universiteitsmotors nie wit nie?) langs die eienaar se BMW, wat ook wit is, geparkeer.

Aan die regterkant van die winkel is die bakkery, met ’n take-away-afdeling wat klante van buite bedien. Langs die bakkery, aan die agterkant, is ’n slaghuis, met daarnaas ’n kamer waar tweedehandse meubels verkoop word. Aan die linkerkant van die gebou vat die toonbank helfte van die spasie op, en die ander helfte word opgeneem deur ’n rak met skoene (waaraan ’n bordjie met Spaander Road op hang.) Teen die skoenerak is tien duimspykers ingeslaan waaraan klomp skoene hang, party tekkies met die landswapen, Converse All Star, LA Boy of Power daarop, sandale, en blink mans- en vroueskoene.

Die student gaan sit agter die toonbank met sy RAU skryfblok op ’n knypbord, en begin aantekeninge maak. Sy taak, as deel van die B.Com (Hons) (Bemarking) kursus is om ’n studie te maak van die bestedingspatroon van plattelandse verbruikers, en die invloed van bemarking daarop. Eintlik weet hy nie waar om te begin met data vasvang nie. So hy skryf maar neer wat hy sien, en hoop om later sin daarvan te kan maak.

Net regs van die kasregister is ’n tydskrifrak. Daarop is daar koerante (The Star, The Citizen, Die Volksblad) en tydskrifte (Bona, Ebony, True Love, SA Soccer, Sports Illustrated, en Sarie). Dit kan dalk as algemene bemarking bestempel word, voel hy, weliswaar nie gefokus spesifiek op die koper in hierdie tipe winkel nie. Hy maak ’n nota: Kyk altyd na teikenmark!

Die klante se t-shirts trek sy aandag. Die gewildste temas is Tupac (5), Up the Bucs (4), Once a Pirate Always a Pirate (11), Fairway Stars (3), ANC Regional Committee — The People Shall Govern (1), en twee met Renaldo op geel Brasiliaanse sokkertruie. Laasgenoemde moet die invloed wees van televisie. Visa borg die uitsending van die World Cup, maar sal nie veel vir die verbruikers beteken nie. Die houers van die regte vir die Brasiliaanse span se handelsmerke het dus wel hulle produk in die twee gevalle suksesvol bemark — duisende kilometers weg — deur niks te doen nie! Hy gaan dit moeilik vind om die resultaat teoreties te verantwoord.

In my view dangerous weapons can be grouped in at least three categories, namely:

(1) obviously dangerous objects  …

(2) others which are not mainly manufactured or intended to be used for injuring or killing living beings but which are notoriously useful for that purpose, as, for instance, the pocket knife (formerly the Three Star knife was, judging by evidence in many murder and culpable homicide cases, commonly used but the Three Star knife seems to have run out of favour and to have been surpassed in popularity by the ubiquitous Okapi knife), fixed blade knifes, iron rods (usually referred to in evidence in the Transvaal courts as a “reinforcer”) either sharpened or unsharpened, screw drivers, scissors (cf S v Lehnberg en ’n ander 1975 (4) SA 553 (A) at 556E) or anything with a sharp blade or point which is capable of being used for stabbing, cutting or otherwise injuring somebody;

Die eienaar, ’n studentevriend van die professor (“ek maak met die ou winkeltjie meer geld in ’n week as daai prof van jou in ’n maand”) sit agter die toonbank op ’n stoel met wieletjies. Sodra ’n klant kom betaal, ry hy vorentoe deur sy voet te haak aan ’n plank onder die middelste rak. Dan stoot hy homself weer na agter. Het hy al geval, wonder die student. Hy hoop so.

Die meeste klante koop melk, brood en mieliemeel. Bo-op die toonbank is glashouers, en party koop van die lekkergoed daarin. Sunrise toffies 10c een, Chocolate Eclairs 35c, Chappies 10c, Nutpuffs 50c, sour balls 30c. Die vroue koop veral Dolly Varden gliserien, Vaseline en Grand Pa hoofpynpoeier. Hy sien niemand wat sigarette koop nie, maar snuif wel, Babaton teen R3,90 per blikkie.

(3) other objects which on the face of them appear to be completely innocuous and which are only in exceptional cases or circumstances used to cause bodily injury to another person, as for instance, stones, bricks, hot water, the heel of a shoe, the bricklayer’s trowel, the pick handle, the housewife’s broomstick, the chain used by the schoolboy for locking his bicycle (cf S v Nabo 1968 (4) SA 699 (E)) and many others.

’n Blanke vrou kom in met twee klein hondjies aan rooi leibande. Een is ’n toypom, die ander ’n Maltees met lang hare. Die eienaar ken altwee se name, dit is op koperplaatjies om hulle nek. Die toypom is Fuzzy, en die Maltees is Babuschka. Babuschka is blind.

“Morê, Billy.”

“Hallo, Lizette. Gaan dit goed?”

“Ja man, dankie. Net die gewone, hoor?”

Die eienaar staan op en loop om die toonbank, kry twee brode en sit dit op die toonbank. Op die brood is ’n blou plakker met Jan se brood daarop. Uit ’n bruin papiersak met vetkolle op haal hy ’n paar stukkies biltong uit. Hy gooi dit na die honde. Die Maltees kan nie die biltong sien nie, en die Toypom eet haar stukkies ook. Die eienaar sien dit nie.

Die vrou betaal en groet.

“Dit is die apteker van die dorp, sy kom koop elke dag brood hier. ’n Classy vrou, hoor!”

Die student knik met sy kop en sê onhoorbaar, “O”. Hy maak ’n nota dat die apteker sover die enigste blanke klant was.

“Onthou dat ek vir jou ’n brood of twee saamgee, hoor,” sê die eienaar. “Julle stadsjapies weet mos nie wat lekker brood is nie.”

“Ja, ek sal, dankie.”

Stilte heers. Die dak kraak, die student wil een maak.

Van die staalbalke hang advertensies die hele winkel vol. Vegas Subtropica Bananas with Bounce, Dettol, Nugget, Goldi Chicken en plakkaatgrootte advertensies van Vaseline Blue Seal, Sprite, Vaseline Lip Ice. As die wind waai draai die plakkate: Kaapse Appels, dan Kaapse Pere. Die student sien dit as meer gefokusde bemarking. Die vraag is egter steeds: word die teikenmark bereik? Die probleem is natuurlik ook hoe om die sukses van die bemarking te meet.

Die student is skielik opgewonde. Hy het ’n vraag. “Waarom is dit Jan se brood? Is dit die bakker se naam?”

“Nee, die vorige eienaar was Jan. Hy het self die brood gebak en toe vir Abraham opgelei. So almal ken dit as Jan se brood. Dis nou my trade mark.” Hy gee ’n laggie.

Die student weet weer nie waaroor om met die eienaar te praat nie. In die oggend was die winkel besiger, toe was dit nie so erg nie.

Regs van die kasregister is ’n verskeidenheid van tabak. Honderd gram Zebra kos R8,60, Tamboetie R3,45 (Light is R1,50), Fox R8,60, PW R8,90, Horseshoe R9,90, Boxer R2,40. Singleton snuif kos R2,50. Onder die kasregister is Everyday Power Plus batterye, SADI musk deodorant, en Hibond Extra superglue.

Langs die eienaar is ’n Supersonic radio (R65,99). Hy sit dit aan. Dit is op Radio Oranje. Die klank word harder, dan sagter.

“Nee, ’n hond is nie ’n man se beste vriend nie, Jack Daniels is.”

“Daai Manie is ’n funny bliksem, hoor. Jy moet net bietjie luister,” sê die eienaar.

“Dit is reg, luisteraars, die promosie is saam met die vriendelike mense van Jack Daniels … en as daar iemand is wat nie weet waar die Mystic Boer is nie, jy ry … is dan aan die linkerkant … in Westdene&nbns;… so Kitching hoop hy sien julle almal daar … tyd vir bietjie musiek, en ons luister na ‘These boots are made for walking’.

“By ons in die ateljee het ons vir Johannn Kernieksi, die … in die Vrystaat en Noord-Kaap. Maar, Greg, voor ons nou oor drinkgoed praat … dit is die eerste keer wat ek … gewoonlik kry mens mos net ’n Johann met hoogstens twee enne. Maar jou van is ook skaars?”

“Ja, dit is ’n skaars van. Oorspronklik het my oupa se pa … uit Rusland … en was ’n regter hier in Bloemfontein …”

“… nie duidelik is nie … party luisteraars sal dalk ook wil weet … tussen die whiskey wat ons ken en die Amerikaanse bourbon? Of is daar nie ’n verskil nie?”

“Een van die bekendstes is Lagafullen …”

Die eienaar draai na die student. “Laat ek jou bietjie ’n storie vertel. Jy ken seker nie Bloemfontein nie?” vra die eienaar en gaan sommer aan. “’n Pel van my, hy het law geswot, het ’n ruk lank navorsing gedoen by die Oranje-hospitaal.Dit is mos waar die outjies bly wat nie so lekker in hulle kop is nie.” Die student frons, wie weet dit nie? “Toe sien hulle op ’n stadium dat van die pasiënte wat toegelaat word om buite te oefen en te speel, terugkom met gebreekte bene of arms. Hulle probeer vasstel wat die oorsaak is, maar kan nie agter kom nie. My pel kry toe die plan dat iemand soos die pasiënte moet aantrek en saam met hulle loop en kyk. Hy kry toe ’n student. Wat toe gebeur het is dat hulle ’n speletjie speel, popo. Een van die pasiënte klim op in so ’n hoërige palmboom. Een skreeu popo, en dan lat los die een in die boom, en val hom disnis. Kan jy dit nou glo?”

Die student kry ’n glimlag uit, en skud sy kop saam.

’n Klant kom staan voor die toonbank. Hy het ’n swart beret aan wat agterstevoor sit, en ’n t-shirt waarop staan I support Masakhane. Hy wil drie pakkies Boxer tabak en ’n Coke hê. Die eienaar moet sy stoel tot heelagter laat ry om die tabak te kry. Die stoel kantel effens. “Een van die dae gaan ek nog my gat sien met die blerrie stoel.”

“Dis vier en twintig rand,” sê die eienaar.

“Ja, die pryse kan ontsettend hoog gaan. Jou single malt byvoorbeeld …”

Die klant sit ’n twintig rand noot neer.

“Nee, Chief, ek soek nog vier rand.” Die eienaar spreek al sy mansklante aan as “Chief”. Vir die vroue het hy nie ’n spesifieke benaming nie — nie voor hulle nie.

Die klant haal ’n tien rand noot uit. Die eienaar lui die kasregister. Ses rand is die kleingeld.

“Ek soek nog tien rand change.”

“Nee, Chief, jy het my net tien rand bygegee.”

“Hu-uh, ek het die baas die twintig rand gegee.” Die reuk van bier bereik die student.

“Chief, dit was die eerste keer.”

“Nee, jy cheat my …”

“Begin jy weer met jou kak!”

“Die baas vat my geld!”

“Hei, jy is dronk, fokkof uit!”

“Ek loop, baas, ek loop.” Hy strompel uit met die Coke onder sy arm, en die tabak in ’n plastiese sakkie.

“Ek moes hom eintlik net gebliksem het,” sê die eienaar. “Dit is elke bleddie Saterdag se storie.” Die student voel of hy sy kop knik, maar hy doen dit nie.

Abraham kom vinnig nader geloop.

“Baas, daai man, hy sê al weer my brood is oud. Vandag ek gaan hom shamashama!”

“… ongetwyfeld verskillende marksegemente. Johnny Walker word gewoonlik …”

“Hoe nou, Abraham?” vra die eienaar, maar Abraham is reeds by die deur uit.

“Hy lyk darem baie soos Kramer in Seinfeld, nè?” vra die student.

“Ja, dit is ’n perd wat nie nonsens vat nie. Hy was eers in die polisie.”

Die student sien die bakker in die son. Hy swaai sy vinger, skud dan sy mus vorentoe, en haal iets van sy kop af. Hy verdwyn uit die student se sig.

Buite is daar ’n geruis, ’n paar mense skreeu. ’n Vrou met ’n bril en ’n ZCC wapen op haar rok kom in gehardloop.

“Mister Billy, come quickly, please.”

Heelwat inheemse medisyne (in ’n rak van ses voet) word verkoop, skryf die student. Dan trek hy “inheemse” dood en skryf “homeopatiese” in. Hy sukkel om die name op party botteltjies te lees, dit is vetterig, en die etikette is plek-plek afgekrap. Die gehalte van die papier is nie goed nie. Wat hy wel kan uitmaak is Tokolossie Fat Compound van Natal Herb Supplies, Jakkalsie Phokojhe van African Medicines, Special Dupa van Ladybrand Moetie CC teen R26,70 ’n gram. Die student trek “homeopatiese” dood en skryf “tradisionele” in.

Langs sy Corolla sien die student pakkies Boxer tabak lê. Op die grond lê ’n swart beret. Die man sit met sy hande agter hom, soos mens op die strand sou sit. Net bokant sy belt, aan die linkerkant is ’n bult. Agter sy rug drup bloed stadig. Die student wil nie besef wat hy sien nie. Toeskouers vorm ’n kring, en kyk na die man, wat net in die grond staar. Hy is van gemiddelde grootte en dronk, kon hy nie maar net omgestamp word nie?

Tussenin die tradisionele middles, skryf die student, is gewone medisyne soos Panado pediatriese stroop, Pharmaton Multivitamines, Lennon se lewensessens, wit dulsies, Kamferroom. Dan trek hy “gewone” dood, besluit om “alledaagse” in te skryf, maar vergeet om dit te doen.

Die ambulans, ’n wit omgeboude Nissan 1400 bakkie, daag op. Langs die kant is geverf Vrystaat Hospitaaldienste. ’n Wit paramediese beampte klim uit, trek plastiese handskoene aan. Hy haal ’n houtdraagbaar uit, draai die man stadig op sy sy, en lig hom dan op die draagbaar met die hulp van ’n groot swart man. Toe hulle hom oplig val ’n druppel donker bloed op die grond. Iemand sê “Iesch”.

Die student besef dat hy nooit die reuk van bloed sal vergeet nie.

Binne die winkel maak ’n seuntjie die yskas oop en vat twee liters Stoney koeldrank. Een bottel gly en val op die grond, maar breek nie. Die seuntjie los dit, gryp ’n pakkie Sunrise toffies (die sagte tipe) en hardloop uit.

The mere possession of objects falling in the first category is likely to cause the possessor to be brought before court for a contravention of s 2(1) of the Act and a convincing explanation will have to be offered by him to persuade the court that he did not intend using the weapon for an unlawful purpose … In the case of innocuous objects something more is required … It would be preposterous to drag before court a bricklayer found on his scaffold with a trowel in his hand and charge him under s 2. (S v Matseare and others 1978 (2) 931 (TPD) 931 936D-937 E).

Toe die ambulans weg is loop die groot swart man na Abraham. Abraham retireer, maar die man klap hom. Dadelik begin sy neus bloei. Abraham steier, en dan stamp die man hom met sy knie. Hy val. Die man tel die mes op.

“Dit is ’n sersant van die polisie, hy is van diens af,” sê die eienaar vir die student. “’n Groot bliksem hê? Hy is ’n Zoeloe.”

Hulle draai om en loop terug na die winkel. “Kyk,” sê die eienaar, en wys na die student se motor. ’n Streep bloed sit teen die regterkant se deur, net langs Diens deur kennis.

Voor hy sy taak inhandig het die student sy inleiding verander:

Op die voorste muur is ’n reuse Coke bottel, minstens ’n meter groot, en nog groter daaronder Things go better with Coca-Cola. In sommige gevalle kan dit misleidende reklame wees.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.