Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Baanbrekers in kultuur van middelmatigheid

Jaco Botha

(Artikel soos dit verskyn het in Krit van 6 April 2006)

"Wie is lus om 4Werke te gaan kyk?" vra die redakteur en almal is stil. "Dis met Jannie Moolman, Karla de Plessis, Hugo en Sunette Bridges," sê sy in 'n pleitende stemtoon en joernaliste verdwyn soos verkleurmannetjies agter pilare en tussen potplante - die meeste sien nie kans vir die plesierbootstroop van die viertal vermaaklikheidsterre nie.

Uiteindelik moet lootjies getrek word en yours truly trek natuurlik die kortste vuurhoutjie.

Aaaaaaaiiiiiii toggie!

Soos ’n Jona van ouds word ek deur my mede-redaksielede oorboord gewerp tot in 'n see van soetsappigheid. En dan is daar ook nog die walvis van 'n moontlikheid dat Sunette Bridges op my verlief kan raak. Ooij.

Terwyl ek na die middeljarige, plattelandse gehoor met hul vormlose klere en niksseggende haarstyle rondom my kyk, hoop ek innig dat dit nie so erg gaan wees as wat ek reeds vermoed nie. Maar dan begin die gedoente en die hoop syfer uit my soos lug uit 'n gebarste ballon. Ek is skielik gestrand op die helderkleurige planeet Domkop, waar die gemiddelde IK die temperatuurlesings op Oudtshoorn emuleer.

Sunette Bridges se lied oor 'n meenthuis in die melkweg laat my rillend dink aan 'n slegte acid trip. Karla du Plessis het ook min van haar briljante pa se liedjieskryftalent geërf en in die "oorspronklike" nommers is rymdwang en cliché-agtige taal gevolglik die norm. Ek is bang, ek verlang, ek voel wrang, ek proe stoelgang. (Van laasgenoemde gepraat - die musikante wat die sangers begelei is heel bekwaam, maar met al die mayonnaise in die wêreld kan jy steeds nie 'n hondedrol soos 'n Kentucky Rounder laat proe nie.)

Goed, omdat die "kunstenaars" dan sulke yl lirieke skryf, val hul genadiglik terug op "ou gunstelinge" soos "Liefling", "Caruso" en "Amigos para Sempere". Hulle sing dit dan ook so goed soos hul beperkte registers dit toelaat. Eintlik sal net Jannie Moolman van die vier op 'n verhoog in 'n beskaafde land toegelaat word - alhoewel hy eintlik bietjie van 'n Gé Korsten-kloon is, soos Hugo op sy beurt 'n Dozi-kloon.

In wese is hierdie vier dan baanbrekers binne ‘n kultuur van middelmatigheid - die voorbeeld vir 'n nuwe generasie van karaoke cover-singers.

Die middelmatigheid en soetsappigheid sou dalk nog vir my verteerbaar kon wees indien dit nie vir al die pretensie was nie: die gemoduleerde aksentjies, die skyn van gekultiveerdheid. Na hul strooptert weergawes van Koos du Plessis se "Gebed" en "Sprokie vir 'n stadskind" wil ek huil soos 'n viool; huil, huil, huil. Daar is net geen sprake van begrip of 'n sin vir estetika nie. Ek voel vuil. Ek wil gaan stort en daarna my klere verbrand. Nee wat - hierdie mense verteenwoordig vir my alles wat sleg aan Afrikaans is. 4Werke is sonder twyfel vir mense wat graag gekultiveerd wil voel, maar te stupid is om te weet wanneer iets outentiek of kunsmatig is.


LitNet: 6 April 2006

Wil jy reageer op hierdie kennisgewing? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.