Argief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Om Madiba (en sy humorsin) te ontmoet ...

Fanus Rautenbach

Veels geluk, liewe Madiba
Omdat u verjaar
Mag die Here u seën
En nog baie jare spaar!

As jy nou mooi dink, hoe sal jy sê, wie se naam is die afgelope tien jaar die meeste wêreldwyd gebruik? As ek TV kyk, dink ek dis "Oh, my GOD!" Is dit dalk Harry Potter? Die Pous Mortem? Leon Schuster? Kolonel F Chicken? Racheltjie de Beer? President GW Bush? Suster Theresa? Mohammed die Profeet? Muhammad Ali? Bin Laden? (Ben Lategan) Mannetjies Roux? Frik du Preez? Gary Player? Mike Schutte? …

Of die Madiba,mnr Nelson Mandela?

Internasionaal sal ons hom seer sekerlik eerste plaas. Kom ons bekyk bietjie sy humorsin, net vir die grap.

Kom laat ons sing, ja, kom laat ons sing:

Op die wysie van "Happy Birthday" - ons sing dit op die Klassieke Wêreldwye Liederewysie (met apologie aan almal wat al verjaar het):

Krasmanie bortal karie
banyen zil blandeer
Wirt ze Zahne al almar
Al O-tente kri shakteer!

Ek was gelukkig en geëerd om tydens sy 86ste verjaarsdag by hom aan huis te gaan tee drink. As jy nou die Madiba die eerste keer ontmoet, wat sal jou eerste vraag aan hom wees? As Fanus het ek hom gevra: "Mnr Mandela, wat is vir u snaaks? Wat was in u lewe vir u die snaaksste?"

Hy het nie eens gedink nie, net stilweg geglimlag. Sy okkerneutoë draai na my toe: "Toe my seun dood is. (Pouse) Nee, natuurlik nie sy dood nie, maar die omstandighede in Robbeneiland daardie dag wat dit snaaks gemaak het. Die lewe het maar voortgegaan, ons het gewerk, en saans kamer toe gegaan, gaan was en gaan eet. En gaan slaap.

"Ek begin eet, verskuif my bord. Skielik, net toe ek nog ogies vir my pampoen maak, voel ek onder die bord papier kraak. Ongesiens laat ek dit op my skoot val, vat dit en steek dit in my broeksak. Skelm-skelm is ek na ons skelm plekkie toe waar ek in daardie knipsel uit The Cape Times lees dat my seun oorlede is. Nee, dit was nie vir my snaaks dat my seun dood is nie; wat vir snaaks was, was die betrokke bewaarder se gesig toe ek vir hom sê: 'Jy weet en ek weet dat gevangenes nie nuus uit die buitewêreld mag ontvang nie; dankie vir die nuus oor die dood van my seun.' Dit was vir my snaaks … dat ek hom tussen al daardie bewaarders as die regte een kon kies."

Ons kry eers tee. Daarna volg die tweede voorbeeld van die Madiba se humor: "Wat was vir my snaaks? Toe die onderhandelinge weer kwaai beginne raak oor die vraag of Mandela vrygelaat moet word en wanneer, kom die Eerste Minister, mnr PW Botha met die versoek/bevel: 'Ek sou graag weer met mnr Mandela wou praat, stuur hom Kaapstad toe' …"

Skielik kyk hy op na Magda van Biljon toe wat voor hom sit: "Sit u darem gerieflik daar … ek praat nie te hard nie?" Magda sê sy wou opspring en salueer, so verskrik was sy.

"Nou moet ek jou iets vertel wat baie snaaks was. Almal weet van die groot besluite wat geneem moes word voordat Mandela vrygelaat kon word. Die eerste minister, mnr PW Botha, laat my toe kom. Maar die tronkowerheid wou nie dat ek in my 'rags' gaan nie … Jy sal my nie glo nie, maar ek het in al daardie jare, in die twintig, nooit van klere verwissel nie … nog altyd die ou, vuil, stinkende … wat is 'rags' op Afrikaans?"

"Vodde."

"Vodde? Dis 'n goeie woord … mens voel die woord, ruik die woord. Soos ek gesê het, na al daardie jare - in die twintig jaar - het ek nog dieselfde klere aangehad. Seker maar uit protes." Madiba kyk vir my en vra: "Het jy al vyf dae met dieselfde klere geloop?" Ek skud my kop van nee. "Drie dae?" Hierdie keer kon ek ja sê … "Ruik naderhand nie meer lekker nie, of hoe?" Hy grim. Gril. "Ek het nie lekker geruik nie. Maar ek moes vir die Eerste Minister gaan kuier …" Madiba glimlag en die son kom op. "En daar kom hulle met die nuwe klere vir Nelson Mandela: 'n blou pak … nuwe hemp … das … sokkies … skoene … Maar die lekkerste was die nuwe onderbroek … in twintig jaar het ek sonder 'n onderbroek geloop. Nou trek hulle my aan, van onderbroek tot das. Ek het skoon vergeet hoe om 'n das te knoop! Daar was drie motors wat my moes vergesel, want die koerante het al klaar snuf in die neus gekry. En die snuf kon nie van Nelson af gekom het nie, want ek het so lekker geruik soos 'n nuwe bruidegom. Daar was veral een dametjie van die Sunday Times vir wie ons op ons oppassens was. Ons kon nie van haar ontslae raak nie. Die polisie probeer elke keer iets anders, maar sy bly op ons hakke. Toe vra ek toestemming om 'n voorstel te maak. 'As ou tronkvoël sal ek haar maklik uitoorlê; ek het 'n plan … sy sal ons nooit inhaal nie …'"

"Wat het u gedoen?" waag ek dit.

"Nes die Tiewie, vol truuks!" lag die Groot Man, met die genot van 'n klein seuntjie.

"Ons het baie suksesvol met die Eerste Minister onderhandel … En toe is dit weer terug Robbeneiland toe. Ek kom in my kamer en dit ruik heeltemal anders. Ek kom toe agter hoe 'skoon' ruik. 'Waar is my klere?' vra ek. 'Daai vrot gemors … dis alles verbrand!' 'Sê net vir my watter bewaarder dit gedoen het! Wys hom vir my!' 'Was nie die bewaarders nie … dit was jou kollegas. Hulle sê hulle kon die reuk nie meer uitstaan nie.' Toe gaan haal hulle vir my tronkklere. Ek het alles vir mnr PW Botha teruggegee … maar die onderbroek het ek eerste aangetrek … en gehou. Myne! Snaaks?

"Die prettigste tyd wat ek op Robbeiland gehad het, was die volgende. Daar was een bewaarder wat nogal van my gehou het. Hy roep my eenkant en vra: 'Eet jy kreef?' Ek wou vir hom sê ek eet enige iets solank dit net verniet is, maar sê maar net 'Ja, Meneer.' 'Daardie Griek … of Spanjool … het mos buitekant 'n restaurant gehad?' 'Ja, Meneer.' 'Kies vir jou nog twee maats … van môre af gaan ons seegroeisels uithaal … ons voer dit uit Japan toe. En sê Luigi moet iewers twee groot ysterpotte in die hande kry en dit ook op my bakkie laai.' By die see, buite sig van die tronk, vra die bewaarder: 'Eet julle almal kreef?' Eish. 'Mandela, jy … maak pap; Luigi, jy kook die kreef … die ander haal seewier uit.' Daardie dag en die volgende 20 dae eet ons, behalwe kreefsop en roosterheelkreef, ook allerhande variasies van kreef en pap. Wie sê daar is so iets soos tronkstraf?" En Madiba lag.

Agter hom gee me La Grange 'n kuggie … ons tyd is verstreke.

Madiba staan op.

Ek staan op, maar my brildosie val op die vloer.

Die Groot Nelson Mandela buk, tel die brilhuisie op, gee dit vir my en fluister: "Ek is jammer …"



LitNet: 02 Augustus 2005

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.