Argief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Woordenaars, “die ware Jakob”, skelmrokery en donkiewerk

Fanus Rautenbach

“Woordenaar!”

Nee, dit is nie iemand wat ‘n vleisbraai hou en sy woordeboeke verbrand nie. In België het ‘n man sy dooie hond vol petrol gegooi en aan die brand gesteek. Wat noem hulle hom? ‘n Canis-Gedanus?

Dit beteken seker iets anders vir elke tweede mens. Vir my is dit iemand wat ‘n taalmoordenaar is. Iemand wat Afrikaans vermoor deur dit te deurspek met Engelse woorde – woorde soos amazing en stunning. In plaas daarvan om sulke woorde te gebruik, soos byvoorbeeld in “Die show was amazing” of “Die show was stunning”, en sodoende ‘n woordenaar te word, kan jy sê “Die konsert was ‘n fees!”

Gerhard Roux van die Vriende van Afrikaans sê ek het verkeerd: die klem val nie op die moord- van moordenaar nie, maar op die woord- van woordenaar. ‘n Moordenaar is ‘n mens wat ‘n ander mens vermoor het. ’n Woordenaar is nie iemand wat ander se woorde vermoor het nie. Dit is meer soos in die sin van towenaar, maar in ’n positiewe sin.

‘n Mooi voorbeeld sou die Afrikaans wees vir face-lift. Hier gaan die skepper van ‘n nuwe Afrikaanse woord soos ‘n towenaar te werk, en tower die mooi, nuwe Afrikaanse skepping hysbakkies op! Die man wat die eerste keer knormoer vir self-starter gebruik het, het óók met woorde getoor. Nee, Willem, knormoer is nie ‘n skoonmoeder nie! Willem het sy skoonma twee geskenke op Moedersdag gegee: “Sy kan dit vat of sy kan dit laat.” (“She can take it or leave it!”)

Nou die dag hoor ek ‘n ander woordtowenaar aan die werk. Hy sê ‘n rosary staan bekend as ‘n bidsnoer. Maar iemand anders het al jobskraaltjies gebruik.

Wie eerste die woord woordenaar gebruik het, is moeilik om te sê. Ons kan net sê hy is eintlik ‘n woordkunstenaar. Pronkveer vir daai ou.

* * *

Ware jakob
Van jobskraaltjies na jakob, soos in die ware jakob. Waarvandaan kom die uitdrukking? Seker maar uit die Bybel. Isak wou vir Esau seën, maar Jakob en Esau se moeder, Rebecca, wou gehad het dat Isak net vir Jakob seën. Isak vra dat Esau vir hom ‘n bokkie moet gaan skiet, dit vir sy pa voorberei, en dan sal pa hom seën. Maar Rebecca het ander planne gehad: Jakob het twee skaaplammers gaan slag, vir sy vader voorberei, en sy moeder het die skaapvel oor sy hande getrek en Esau se ou klere vir hom aangetrek sodat hy ook soos Esau moes ruik. So het Jakob vir Isak bedrieg. Nou: dit staan alles in Genesis 27, maar nêrens word daar na “die ware Jakob” verwys nie. In vers 24 sê Isak vir Jakob: “Jy is tog my seun, Esau.” En Jakob sê: “Ja, ek is.” Miskien moes die uitdrukking eintlik gewees het “Die ware Esau”?

* * *

Nog ‘n woord wat deur ‘n woordenaar gemaak is, is sabotasie. Waar sou dit vandaan kom? Tydens die Nywerheidsrewolusie in Frankryk het die werkers houtskoene gedra wat bekend gestaan het as “sabots”. Toe meganisasie kom, het die werkers gedink hulle gaan hulle werk verloor en het hulle hul sabots uitgetrek en in die ratte van die masjiene gegooi. Van toe af staan daardie daad bekende as “sabotasie”.

(Ek het by die huis gehoor hoe my broer kla: “Daardie nuwe werker word voorgetrek … hy kry aanmekaar verhoging.” Dan sê my pa: “Hy het seker ‘n skoen agter hom!”)

* * *

Laat die hare waai!
Die manne in Noord-Korea het opdrag gekry om hulle hare korter te skeer om sodoende te keer dat hulle breinskade opdoen. In ‘n nuwe TV-reeks waarsku die aanbieders dat lang hare gereeld gevoed moet word, anders ly die brein aan ‘n tekort aan suurstof en energie.

Die reeks, wat op die staatsondersteunde TV-sender, Pyongang, aangebied word, vra “dat ons ons hare skeer volgens die tradisie van ons sosialistiese haarstyl”. Dit bepaal dat die hare nie langer as vyf sentimeter mag wees nie, maar ouens wat besig is om bles te word, en manne oor 50, word toegelaat om hulle hare tot sewe sentimeter te kweek. So mag hulle hul hare oor die bles kam. Om met hierdie gekke idee die gek te skeer, het iemand ‘n groot skildery van Einstein gemaak en dit op die markplein opgehang met die onderskrif STUPID!

Nee, niemand sê iets van die dames se hare nie.

In onse kerk het sake verander. Eers het die dames lang hare gedra en ‘n hoed opgesit as hulle kerk toe gaan, maar nou gaan die dames sonder hoed kerk toe … en die meeste mans se hare is lank.

* * *

Rook
“Fanus , het jy as kind gerook?”

“O, ja, ek het gerook.”

“Watter soort?”

“A.M.S.”

Dit beteken “Ander Manne se Sigarette” – maw stompies!

Maar omdat Engels so sterk was in daai dae, het ons gepraat van “OPS” – Other People’s Stompies!

Nou die dag is die laaste stompie opgeveil. Dit is die stompie van die laaste sigaret wat gerook is net nadat rook in Nieu-Seeland verban is. Die bedrag wat vir die stompie betaal is, was R33 000.

Onlangs gesels ons oor skelmrokery. Piet de Beer vertel:

Ek was in standerd ses, toe een van die onnies my in die kleedkamer vang. Ek het pas ‘n diep teug gevat en daar staan ek met bolwange.

“De Beer, rook jy?”

“Mm-mm.”

“De Beer, rook jy?”

“Mm-mm!”

“De Beer, róók jy?”

Toe kon ek nie meer hou nie en proes-blaas die rook uit: “ … Nee, Meneer!”

* * *

Mercedes
Wie was die Mercedes in Mercedes Benz?

Mercedes was die negejarige dogtertjie van die Oostenrykse sakeman Emil Jellineck, wat met die eerste Daimler-handelsreg in Europa in 1897 gesmous het. Jellineck het destyds ‘n Daimler Phoenix by die fabriek in Duitsland gekoop en toe hy terugkeer in die Franse Riviera, het hy die motor in ‘n wedstryd ingeskryf en die motor sy dogtertjie se naam gegee: Mercedes. Hy het gewen. Na Jellineck se dood in 1900 is Mercedes as handelsnaam geregistreer, ’n naam wat tot vandag toe nog bekend is in Mercedes Benz.

* * *

Donkiewerk
Dana Snyman vertel in sy boek Uit die binneland van alledaagse dinge. As hy vertel van Attie-hulle wat vir die honde kos gegee het in wieldoppe, is dit nie sommer net wieldoppe nie, maar Rambler Hornets-wieldoppe. En sy storie van die donkiekar het my laat dink aan my pa se donkiestorie.

“Pa, wat moet mens doen as jy ‘n donkie inspan en hy wil nie die donkiekar trek nie?”

My pa se antwoord: “Maak ‘n vuur onder die donkie se pens.”

Ons maak toe vuur onder die donkie se pens, die donkie loop vyf tree vorentoe … en die donkiekar brand uit.

Groetnis

Fanus

Wil jy reageer op hierdie "Umfaanus"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.