Argief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Hallo daar!

Fanus Rautenbach

Verlede week het ons weggespring met Liefiesdag so op die Maandag. Wonder of dit toevallig is dat dit ook die "week van die kondoom" was? Die Parlement is behoorlik geopen en oom Beki het ons vertel in watter toestand die nasie is. Hoe lyk dit, wil die rubriekers nie vir ons 'n paar limerieke of limeryme oor die twee onderwerpe stuur nie? Rubriekers kan skryf na pietc@sybaweb.co.za, waar die bydraes versamel en vir plasing versorg word. Ons wil julle net graag herinner aan die Schalk Burger-skildery wat tans opgeveil word. Klik hier om 'n bod te plaas en ook om te sien aan wie die opbrengs van die veiling geskenk gaan word.

Daar wen ons sowaar die kitskrieket-reeks teen die Engelse met hulle Natalse Hanskakie en al!

Tossel sê

Pa vertel in die ou dae het hulle geglo daar moet minstens een Joodjie in die Springbokrugbyspan wees - vir geluk - en manne soos Syd Nomis en Wilf Rosenberg het hulle kant gebring. Dit lyk vir my die ongeskrewe reëls vir krieket werk vandag anders, al is die van Bacher en jy is vernoem na die oerste van alle Jode: Adam.

* * *

Terwyl Tossel so van bygelofies en mites vertel, moet 'n man darem sê daai Prince het verseker nie in die laaste wedstryd van die reeks soos 'n parra gespeel nie.

* * *

Oor kondoomweek kan 'n man natuurlik ook taamlik opgewonde raak:

Oompie-kedoompie
lê teen die bal
Oompie-kedoompie
bars met 'n knal
Die President se manne
met HIV-planne
keer tevergeefs
die kedoompiekanaal!

* * *

Wonder wat het van die boerklong daar uit die Vrystaat geword wat jare gelede - lank voordat daar sprake van Viagra was - 'n kruiedoepa op die mark wou loslaat wat dieselfde werk as Viagra sou doen. Hy het sy produk Jakobregop genoem. As hy dalk self hier lees, of iemand weet wat van hom en sy doepa geword het, moet hulle laat weet.

* * *

Ons het so opgewonde geraak oor Liefiesdag, waarmee hierdie week begin het, dat ons skoon vergeet het van die groot nuus van verlede week. 'n Britse joernalis kry toe mos 'n nota in die hande wat bly lê het waar sy premier, Tony Blair, by die konferensie van die agt rykste lande gesit het. Vasbeslote om die grootste moontlike voordeel uit sy "vonds" los te woel, lê hy toe die nota aan sielkundiges, handskrifdeskundiges en al wat ander "kenner" is, voor.

Die kenners se gevolgtrekkings: Tony is 'n dagdromer, aggressief, onstabiel, voel hy is onder druk en is nie 'n natuurlike leier nie. Toe kom daar 'n groot verrassing - die notapapiertjie behoort toe nie aan Tony Blair nie, maar aan die man wat langs hom gesit het: Microsoft se Bill Gates.

Toe onthou ek die verhaaltjie van die oorspronklike Rockefeller wat by geleentheid 'n stuk of vyf top-ekonome vir raad ingeroep het oor 'n beplande multimiljoen-projek. Hy vra hulle om elkeen afsonderlik te gaan navors en na veertien dae elkeen sy advies vir hom te bring. Veertien dae later kry hy vyf uiteenlopende stukke advies, elkeen met grafieke en slim tabelle en die een so oortuigend beredeneer soos die volgende.

Rockefeller het geduldig geluister totdat die laaste een sy woord gespreek het en toe sê hy: "Manne, daar is een ding wat ek nie verstaan nie - waarom is julle so vervlaks slim en ek so vervlaks ryk?" Hy het net vervlaks met 'n "f" gespel.

* * *

So van raad vra gepraat, Jan Coetzee vra daar uit Kiwiland raad. Hy skryf: "Help 'seblief. Waar kom die woord voetstoots vandaan? Dalk oorspronklik voetstoets? Voertuig getoets deur met die voet teen die buiteband te skop en daarna onvoorwaardelik gekoop? Engels tyre kicker? Maar dan is 'n tyre kicker weer 'n tydmorser wat net kyk (skop) en nie koop nie."

Ons het rondgesoek, maar kry nie die antwoord nie, net wat dit beteken - soos wat 'n iewat verouderde Van Dalen dit stel: "… iets verkopen, zoals het daar ligt, zonder garantie en zonder onderzoek".

Daar is nie dalk 'n rubrieker wat kan help nie?

* * *

Mico Smuts het vir ons nog kleuterstories gestuur wat onder die Suid-Afrikaners in Australië sirkuleer:

'n Vrou het baie las met haar bekkige vierjarige seuntjie in die kerk. Hy lewer luidkeels kommentaar op alles en ten spyte van kwaai kyke, ernstige vermanings en waarskuwings kom hy net nie tot bedaring nie.

Eindelik raak haar geduld op en sy gryp hom en stap met hom oor haar skouer in die paadjie af, deur toe. Toe sy so driftig by die deur uitstap, kyk hy oor haar skouer terug vir die gemeente en sê met 'n klokhelder stemmetjie: "Bid vir my."

Maar Mico en sy maters, soos Tiaan Strauss, is darem ook nie heeltemal engeltjies nie. Daarvan getuig die volgende storie:

Die ou omie lê in die hospitaal op pad teater toe. 'n Jong verpleegster kom ingetrippel met sy verslag in die een hand en 'n bakkie met skeergoed in die ander hand. "Goeie dag, Oom! Af met die broeke vir my!"

"Nou vir wat nursie, wat wil jy nou maak?"

"Ek wil jou skeer oupa, want ons gaan jou mos vandag besny."

"Nee man, ek is hier vir 'n oogoperasie," gil die omie benoud.

Nou verloor sy haar humeur: "Kyk, Oupa, ek het nie tyd vir nonsies nie; hier staan duidelik in jou verslag: "Verwydering van horingvlies!"

* * *

Kooivlooi doen uit Pretoria verslag dat die Padveiligheidsraad na deeglike navorsing vasgestel het dat die meeste padongelukke in Suid-Afrika deur 'n algemene meganiese probleem veroorsaak word: die moere wat stuurwiele vashou.

Lyk vir my of jy ook maar in jou peetjie is!

* * *

Hoe lyk dit met 'n lekker vertaling van blind date? Dalk 'n voetstootsafspraak? Dit moet darem iets beter as die Woordfees se "happening" wees waarmee hulle hulle reklame begin - al kan 'n "voetstoots"-afspraak ook nogal as eksperiment 'n spektakel wees as dit 'n steekproef word. As 'n man nie 'n motor het nie, dan gaan hy en sy meisie seker ook voetstoots uit.

Ek lees ook die Woordfeesmense vertel van 'n stuk oor 'n sepiester wat haarself wil "relaunch". Sou dit nie dalk polities meer korrek en vir ons taalharte beter gewees het as sy haarself wou "herontplooi" nie?

* * *

Wallis speel die afgelope naweek teen Italië rugby. In die hele wedstryd is daar net drie strafskoppe - die eerste een eers na 25 minute! Nou wonder ek: Speel hulle sulke goeie rugby, of ken die skeidsregter rugby?

Ek sien ook Wallis het BRAINS agter op hulle rug geskryf. Kan ons nie dalk hulle truie leen nie? Ons kan doen met 'n bietjie brains. Ons het daarvan heeltemal te min - die enigste bruin laaitie wat ons het, is Paulse.

* * *
Soos gewoonlik behoort die laaste woord aan die vroue. Katelin de Vlamingh skryf:
'n Man is nes 'n selfoon.
Het jy hom, is hy lastig.
Soek jy hom, lê hy iewers.
Kry jy hom nodig, dan is hy pap.

Groetnis!

Fanus




LitNet: 16 Februarie 2005

Wil jy reageer op hierdie "umfaanus"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.