Argief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Fanus Rautenbach

Hallo daar!

Fanus Rautenbach

Daar hardloop die eerste deel van 2005 amper so vinnig onder Umfaanus uit soos Lourens de Jager van Schweizer-Reneke se trekker. Ons het 'n hele week gemis omdat Telkom nie hulle belofte oor 'n foon kon nakom nie. Ons vertel julle netnou daarvan én van die vinnige trekker. Nou is ons weer volstoom aan die rubriek en die wiele aan die draai. Rubriekers kan skryf na pietc@sybaweb.co.za waar die bydraes nou weer versamel en vir plasing versorg kan word nadat Telkom uiteindelik gekom het. Aanstaande week spring ons ook weg met ons veiling van die Schalk Burger-skildery, wat deur hom geteken is.

Die naweek lees ons in Rapport daar word 'n reuse-eis ingestel teen die maatskappy van mnr Brian van Rooyen, rugby se grootbaas, omdat daar na bewering ongerymdhede was met die toekenning van 'n kontrak om ongerymdhede met pensioenuitbetalings te voorkom.

Tossel sê: Die ding met Brian van Rooyen se maatskappy laat my dink aan die verhaal van die rugby-afrigter wat voor 'n wedstryd teen 'n span bekend vir hulle geniepsige en vuilspel in die kleedkamer aan sy spelers die volgende raad gegee het: "Sorg dat julle eerste wraak neem."

* * *

Ek wil julle vertel van die Maleisiese telefoonverskaffer Telkom wat nie kan kom nie - dis amper soos telefoonseks …

Piet Coetzer, wat vir ons die bydraes vir die rubriek versamel en vir plasing help versorg, verhuis voorverlede week, maar tref betyds met Telkom reëlings dat daar by die nuwe blyplek 'n foondiens sal wees wanneer hy intrek.

Tien dae, drie besoeke deur tegnici en twaalf verskillende verduidelikings deur die hulplyn later oor waarom daar nog nie 'n foon is nie, praat/pleit Piet weer met hulle op die oorbelfoon. Die meisie aan die ander kant van die verbinding het waarskynlik aan die einde van haar lysie voorgeskrewe verskonings gekom - Maleisië of te not val sy toe maar terug op die beproefde Suid-Afrikaanse verskoning: "Jammer Meneer, maar daar is 'n probleem met die kabel," seg sy terwyl Piet rondom hom die bure se fone in stereo hoor lui.

Maar, elke man het seker maar sy eie kabel, soos dit ordentlike mense betaam.

* * *

Voor ek vergeet, wil ek ook gesels oor 'n ander amper-kommery en André P Brink se jongste roman, wat vertel van 'n man wat die lewendigste kabel gehad het waarvan ek nog gehoor het. Die arme man het op gevorderde leeftyd die draad van dinge verloor, sy draad was nie meer so styf gespan nie en dit gaan ook maar met hom soos met Telkom - daar gebeur niks nie.

Anders as met Telkom kan hy egter darem oor die goeie ou dae droom. Maar ek vermoed sy drome was in Engels, al is hy Afrikaans. Dis amper soos toe ek nog jonk was en gewens het ek kon van die meisies van die Engelse skool uitneem omdat hulle baie meer liberaal as die Boeremeisies was. Behalwe dat ek as 'n verraaier uitgeskel sou word omdat ek gemene saak met die vyand maak - al was die gemeenheid nou ook hoe lekker - was my Engels so vrot dat ek nooit een van daardie meisies sou kon onderstebo praat nie.

As André se oom op Afrikaans gedroom het, sou hy dalk beter reggekom het. Want ek lees sy drome was partykeer darem natdrome - dis nou soos op Engels se wet dream. As die droom op Afrikaans was, kon dit dalk darem roomdrome gewees het. As ek nou vir André self met erkenning mag aanhaal - en ek wil nie patroniserend teenoor sy karakter wees nie, maar sy drome sou dan dalk baie meer memorabele geleenthede gewees het - sou hy dalk minder geobsedeer met sy toenemende slapriemsindroom gewees het en hom in illustere geselskap van veteraanatlete soos dr Piet Koornhof en wyle dr Chris Barnard bevind het.

* * *

André P Brink se omie is egter nie al een wat hom oor die lot van nattigheid óf die gebrek daaraan bekla nie.

Die naweek seg 'n vriend hy sal die lewe nooit verstaan nie. Op Centurionpark verspoel ons nasionale trots wanneer ons manne se kolwe in waterwysstokke verander. Hier in die Kaap, waar ons nou regtig reën nodig het, kry ons - ten spyte van die Weerburo se beloftes - net sulke prostraaltjies.

Dan was kaptein Smith se bydrae daar in die middelorde, wat hy sou gaan versterk het omdat hulle glo nie hard genoeg sou wees nie, maar ook met 25 lopies ook maar bietjie van 'n prostraaltjie.

* * *

Al die gepratery oor oumansdrome en hulle dinge laat my dink aan die mooiste definisie wat ek nog van 'n laatskapie gehoor het: dit is 'n ou ooi wat haar deur 'n slapriem laat vang het.

* * *

Van kapteine gepraat, ek lees in die nuus kapt Dave Shaw het blykbaar nie net een grot - Boesmansgat - op Mount Carmel by Daniëlskuil besoek nie. Die berig daaroor in Maandag se Die Burger bewys ook 'n ding wat ek al lankal vermoed: vandag se jongmense lees nie meer koerant nie. Mnr Andries van Zyl, eienaar van Mount Carmel, word aangehaal as sou hy gesê het: "Ons kinders weet nog niks nie."

* * *

In ons vorige rubriek het ons vertel hoe die Departement van Vervoer aanvoer dat die bestuurders van Mercedes-Benz- en BMW-motorkarre die grootste padvarke is. Ek wonder of hulle nou boere met hulle trekkers by daardie lysie gaan voeg nadat Lourens de Jager van Schweizer-Reneke glo met 'n kiekie gevang is dat hy teen 140 km per uur met sy trekker op 'n openbare pad jaag?

* * *

Ander brokkies uit die nuus

  • Poppie Bereng het nuwe betekenis aan die uitdrukking bloedgeld gegee. Sy is die werker van die Nasionale Bloeddiens wat met die sak patats uitgekom het oor die hoe rassisties daar met bloedskenkers se swaarverdiende bloed gewerk word. Nou moet die Bloeddiens R50 000 aan agterstallige salaris aan haar betaal. Is hier nie 'n titel vir 'n boek deur Elsa Joubert nie?
  • 'n Wonderlike plek, Brittanje. Ek lees in die nuus dat as werkloses daar van mekaar skei, sorg die welsynsbetalings dat hulle 'n wins maak. Dit is waarskynlik die Engelse - wat maar altyd slim planne het - se manier om die huwelik as instelling te red, want jy moet eers trou voordat jy kan skei om 'n wins te maak.
  • Herschelle Gibbs is al weer in die moeilikheid omdat hy laatnag gekuier het terwyl die toetswedstryd in Kaapstad aan die gang was. Maar toe is hy al kolwer wat daarna ordentlik lopies aanteken. Is dit nie dalk 'n bewys dat die mense reg is wat sê die moeilikheid met ons sport is dat met al die professionaliteit geniet die spelers nie meer hulle sport nie?

* * *

Ons het gehoop om hierdie week ons webveiling met die skildery wat Rufus vir ons van Schalk Burger, die beste internasionale rugbyspeler van 2004, gemaak het en deur Schalk onderteken is, af te skop. Ons wou die skildery hier op LitNet aan die hoogste bod verkoop. Maar ek seg mos altoos besigheid is nie my besigheid nie en dit gaan stadiger met die reël van dinge as wat ek geglo het is moontlik. Maar hou moed, die veiling kom. Dit gaan sommer 'n groot ding wees en 'n deel van die inkomste hieruit gaan aan 'n baie verdienstelike welsynsorganisasie geskenk word. Gesprekke oor die voorwaardes van die skenking is nog met die beoogde organisasie aan die gang en die naam sal saam met die loodsing van die veiling aangekondig word.

Groetnis!

Fanus



LitNet: 26 Januarie 2005

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.