Argief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Fanus Rautenbach

Hallo daar!

Fanus Rautenbach

Daar is nog net twee dae oor om te stem vir die naam van hierdie rubriek! In hierdie stadium loop Umfaanus steeds met meer as 'n kortkop voor. Onthou, elke stem kry soos dit inkom 'n nommer en aan die einde gaan ons 'n trekking hou. Die kieser wie se nommer getrek word, wen ook 'n eksemplaar van die dubbel-laserskryf 'n Hele Opvoering*. Ons begin vandag met nog 'n nuwe woordspeletjie om 'n bietjie kleur aan soms saai beroepe te gee. Hierdie is almal wat lus het om saam te speel se rubriek. Rubriekers kom saam om te klets, te vertel, nuwe woorde te skep en humor te deel. Kom rubriek in die rubriek sonder brieke by pietc@sybaweb.co.za.

Rapport berig gister op die voorblad:

Skenkings van bloed het die afgelope week drasties gedaal na die nuus dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens bloed volgens ras klassifiseer ... [Teenstrydig met die algemene opvatting bestaan bloed uit wit en rooi selle en nie uit wit, bruin en swart selle nie.] Ons sal onmiddellik moet aandag skenk aan die saak ...

Op dieselfde blad word ook berig: WATER-KRISIS BEDREIG S.A.

'n Waterkrisis van ongekende omvang dreig in agt van die nege provinsies weens die vinnig dalende vlak van damme ... Ons sal onmiddellik moet aandag skenk aan die saak.

Is bloed darem nog dikker as water?

Tossel sê: Die Suid-Afrikaanse obsessie met kleur maak my sommer limeriekies:

O, BLOED, SAL KWAAD
VERANDER IN GOED?

Julle nou mooi vertelle:
nog vyande, die pelle;
bloed en water,
feit nog flater:
bloei steeds wit en rooi selle!

* * *

Nicky Bojé het verlede week twee operasies aan sy keel ondergaan. Dit was om 'n kwaadaardige skildklier te verwyder. Die diknekke van krieket in die land het 'n ander plan probeer maak met die knop wat hulle in die keel het oor hoe dit met die Proteas in Indië gegaan het: hulle het Omar Henry as sameroeper van die keurders in die pad gesteek.

Omar Henry Gepos?
(Met erkenning aan Harry Belafonte se Dear Henry)

DAAR'S 'N KRAMP IN ONS KRIEKET, OMAR HENRY, OMAR HENRY.
DAAR'S 'N KRAMP IN ONS KRIEKET, OMAR HENRY, 'N KRAMP!

MAAR HEEL DIT, UMFANUS, UMFANUS
MAAR HEEL DIT, UMFANUS
UMFANUS, MAAK DIT REG !

MAAR, HOE SAL EK DIT REGMAAK, OMAR HENRY, OMAR HENRY
MAAR, HOE SAL EK DIT REGMAAK, OMAR HENRY
DIE-FLIPPEN-FLOP-IN-DIE-KRIEKET, HOE?
STEEK JOUSELF IN DIE PAD, OMAR HENRY, OMAR HENRY
STEEK JOUSELF IN DIE PAD, OMAR HENRY
STEEK JOUSELF INNIE PAD!

MAAR WAARMEE SAL EK STEEK,UMFANUS, UMFANUS,
MAAR WAARMEE SAL EK STEEK, UMFANUS, MET 'N KOLF?

MET 'N KIERIE!

WAAR KRY EK DAAI KIERIE, UMFANUS, UMFANUS
WAAR KRY EK DAAI KIERIE ... UMFANUS WAAR?
VAT GRAEME SMITH S'N, OMAR HENRY, OMAR HENRY,
VAT DIE KAPTEIN S'N, OMAR HENRY, VAT SY KIERIE

MAAR DIE KAPTEIN WIL DAN TROU, UMFANUS, UMFANUS
MAAR DIE KAPTEIN WIL DAN TROU ... EN GOU!

LEEN HOM MY KIERIE, OMAR HENRY, OMAR HENRY,
LEEN HOM MY KIERIE ... OUMA!

* * *

As daar nou een man is wat sy bynaam, The Goose, op die internasionale gholftoneel hierdie naweek gestand gedoen het, dan is dit Retief Goosen. Lê hy gister vir oulaas 'n goue eiertjie daar by die Sonstad - een wat so in die orde van R7 miljoen werd is!

* * *

Jakkals trou met Wolff, die vrou

Debbie Wolff het aan Bob Skinstad die jawoord gegee op 'n wynplaas in Franschhoek.

Vriende wat hulle albei goed ken, sê tong in die kies Bob se tong het behoorlik uitgehang toe hy aankondig dat hulle tweetjies binnekort gaan afhaak.

Bob en Debbie het die eerste keer op 1 Desember 1999 in 'n vakansiehuis in Kaap St Francis ontmoet ... op 2 Desember het hulle mekaar die tweede keer daar ontmoet ... en 3 Desember 1999 die derde keer ...

* * *

Ken die rubriekers die uitdrukking: "Dis nou 'n oopskopgrap?" Dis die grap wat elke keer werk - onveranderd, of wéér werk met nuwe omstandighede of feite. 'n Goeie voorbeeld is na aanleiding van die huidige soektog na iemand om die rol van Hansie Cronjé in 'n fliek oor sy lewe te vertolk.

Gabriel Maharaj, bekende filmmaker van Karatsjie, sê hulle wou destyds vóór Hansie se ongeluk al 'n fliek van Hansie se lewe maak. Hulle het toe oudisies gehou op soek na 'n ewebeeld van die gewilde krieketkaptein. Hansie Cronje het, vir die grap, self ingeskryf … ja, en derde gekom!

* * *

So van terme gepraat, ek dink Henk Bierman het vir ons die oplossing vir 'n Afrikaanse weergawe van urban legend gekry - daardie stories wat met soveel oortuiging "vir die waarheid" vertel word dat die verteller dit self glo en dikwels die aanhoorders ook: Waarlieg stories - of ons sou ook kon sê iemand lieg die waarheid!

* * *

In 1964 het ek hierdie groot waarheid van Oscar Wilde die eerste keer in Flink uit die Vere aangehaal: "We live by utterance only ..." Van toe af sukkel ek om 'n geskikte Afrikaanse strofe daarvoor te kry.

Nou, hier in 2004, het ek hom presies - 40 jaar later: "Skep of verlep!"

Nou wat sal ons vandag skep? In Suid-Afrika met sy obsessie met die suiwerheid van bloed, kan dit tog net oor kleur wees. Weer Engeltjie Engelbrecht van Leeudoringstad se skeppingsbrein aan die werk ... Watter kleur is verskillende mense van verskillende beroepe?

Byvoorbeeld:

'n Predikant is hemelsblou
'n Dokter is bloedrooi
'n Kok is potblou

Speel nou kleurvol saam: Wie is bruin … geel … groen …? Kyk hierdie mooie: in die goeie ou dae was 'n stoute skoolkind pimpel en pers.

Wie is wynrooi? Asvaal? Pikswart?
En die man in die hangkas? Groen van jaloesie!
'n Boetebessie se kleur? Kakie. "Hier is 'n kakie (kaartjie) vir jou!"

Kom speel saam. Skep of verlep.

* * *
DON'T MESS WITH MY TUTU!
(So bid hy vir die presidentjie op sy MBEKI …)

"Vou jou handjies same …
en sê ame …
Tutu-tu babatjie ...
Nag is aan't kommetjie …"

Nou voel Tutu heeltemal uitgesit
Hy't hard gewerk en is uitgeput
Hy't eintlik als gegee
Vir die "Volk" se ANC
Nou sal hy maar 'n gebedjie vir M'Beki bid!

* * *

Eerbetoon aan die Afrikaanse digter Sheila Cussons (1922-2004)

"Ek is armer omdat ek nie in staat daartoe is om my ma se werk te verstaan nie." Sheila Cussons se seun, Juanne, tydens haar gedenkdiens.

Miskien sou Sheila Cussons so daaroor geskryf het:

Is al my paadjies na my seun toe toegegroei?
Ek het dan so lig oor hulle gegaan!
As ek van 'n aartsengel skryf en
blokkiesraaisels van verstarde staal,
sal hy dan beter verstaan
as die duwweltjies en miere
my bitsig aan my voetvel byt
en ek, kop omlaag, my vasloop teen
die hele Maandagoggendwasgoeddraad
se haelwit selfgeregtigheid?

Groetnis

Fanus



*ONS DOOP-/NAAMGEE-WEDSTRYD

Fanus Rautenbach het onlangs 'n dubbellaserskyf (CD) Hele opvoering vrygestel. Dit bevat onder meer: "Hoogtepunte van Flinkveria se tiende verjaarsdag in Bronkhorstbaai", "Die Bronkhorstbaaifees", "Fanus se grapplaat", optredes in onder meer die Kangogrotte, en geselsies met Simon van de Wildt.

NOU BIED FANUS EEN VAN HIERDIE CD'S AS PRYS AAN VIR DIE LESER WAT HIERDIE NUWE RUBRIEK DIE OORSPRONKLIKSTE NAAM GEE.

Moenie huiwer nie, dink flink, dink suiwer! En stuur dadelik jou voorstel aan: erns@litnet.co.za.

Wil jy graag hierdie dubbel-CD bestel teen slegs R100? Stuur 'n e-pos na erns@litnet.co.za om te bestel!





LitNet: 6 Desember 2004

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.