Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Kytie verlang

Kytie Koekblik

Dit het so stadig nadergesluip. Die 21ste Maart, ’n grote dag in ons lewens.

McDonalds het kaasburgers vir 39c geadverteer.

Dit was halfpad tussen warm en koud — ek wou ’n kans vat en my eskimo multi-purpose sneeu/liquid rain/stormbestande windbreaker by die huis los, maar het daarteen besluit.

Ook maar goed so.

Lentedag was soos April Fools’ day; sedert laasweek Dinsdag reën dit en die koue gaan lê so ’n lagie op jou wange.

Ons het altyd op lentedag blommetjies skool toe gedra, het ek aan die Baas vertel.

Dit was wragtie lente, en ons het almal gesing: Dis heerlike lente, die winter is verby, weer nodig die velde vir jou en vir my.

Ja, ja.

Asof.

Hier’s nog nie eers blommetjies nie. Die wêreld post-lentedag is grys, die lug wit deur die ruite van die dakkamertjies se blokkies venters, en as ek in die oggend uitkyk, die bome se arms kaal met klein skaam knoppies. Lente in konsep, en nie in die wêreld rondom my nie.

Dis ook nog nie lente op die vaal lang gesigte nie. Dis asof ons almal steeds in hibernasie is na die winter en die verskriklikste koue wat ek al ooit beleef het. Soms is die lug is die kleur van Blouberg op ’n onstuimige dag; dralende reenbuie en sterk winde kla deur die grysbruin, kaal bome. Dis soos ’n hartseer-movie in Sepia geskiet.

Ten minste is die dae nou al langer. En soms dra ons net een laag klere as ons buitekant toe gaan, en jou hoed en handskoene bly by die huis.

Intussen het ek het besluit op ’n nuwe haarstyl en ’n bottelblond. Ek was nog nooit so verskriklik wit nie, bokant en binnevleis van my arms is dieselfde kleur. Nou lyk ek so half uit pas uit; ek steek vieslik vaal af teen my goue hare wat lyk asof die sonskyn of die sonbed my kop beetgehad het. Die nuwe haarstyl is veronderstel om die oorgangsperiode te simboliseer: Ek, Kytie, is gereed vir blomme en bome met blare!

Tog voel ek soos winter. Ek probeer die melankolie teenwerk, en energiek voel oor die lewe. Washington en al sy seisoene skommel jou; ek glo nou ook vas aan seisoensdepressie.

Jy waardeer ook die mooi dae, die afwisseling. Hierdie klimaat is alles behalwe monotoon. Dis asof jy dit soms kan aanvoel, die energie op ’n mooi goudgebaaidedag, al is dan ook koud buite. Almal waardeer ’n goeie dag, glimlag breër, en dit net oor ’n kleurverandering in die verskriklik monotone lug. Almal merk die eerste gloeiende wit boom in die middel van die vaal park op en die stemme klink sommer meer vrolik  ... Die cherry blossoms se knoppies bot al pienk; een van die dae gaan hulle oop en ons hou fees.

Binnekort skakel ons weer oor somertyd toe, om daglig te spaar. Maar op die oomblik is dit steeds melankolie en grys dae wat jou wakker maak in die oggend. Selfs ’n pla-reëntjie het ons lewens vandag omgekrap en my bottelblonde hare is ’n natpampoengeel in plaas van die glinsterende goud wat ek vir die lente wou afshow..

Dit is definitief nog nie heerlike lente in Washington D.C. nie.

Ek mis die huis. Ek mis die lui herfsdae op die wit strande en die Kaapse dokter wat die geur van die hawe oor die stad stoot en die rumoer, asof die Kaap lééf.

Maar hier is dit stil; ons is mos steeds in winterslaap. Al beweer die koerante Amerikaners slaap nie genoeg nie en daarom tel hulle gewig op, werk hulle glo te veel. Miskien is dit my probleem. Moegheid, te veel winterslaap, te min regte slaap en regte kos.

En al my gesprekke gaan deesdae oor die weer?

Ek het ’n hol kol op die maag en ek wil dit vul met my ma se groenboontjies en … en lekker tjops soos net sy dit kan maak. Tuisgemaak, dink ek. Ek weet nie wat tuis beteken nie. Ek is mos ’n mover. Ek pas perfek in met my lang, wit melankoliese gevreet op die treine, ek lag nie, ek praat nie. Ek Sit en Wag om Huis Toe te gaan. In die meantime MOVE ek?

By die huis eet ek kos . Movers eet aaklige chemiese tweeminuut-noedels met misterieuse bestanddele en drink kartonglase vol Starbucks of Bengal Traders koffie op pad werk toe.

Tyd om huis toe te gaan, besluit ek. TYD. Suid-Afrika toe. AL is dit winter, ek moet hier weg. Dis TYD.

My baas keer my gou-gou met die nuutste brok uit Suid-Afrika. Klaarblyklik kos dit die staat R94 per dag om ’n misdadiger kos te gee in Suid-Afrika, sê die Baas. Iemand score iewers? Studente leef dan van R2-tweeminuut-noedels, protesteer ek. En so ook ek, hier in die spotgoedkoop VSA.

“Ek kom huis toe,” e-mail ek die netwerk van vriende in klein dorpies oral oor Suid-Afrika. Oor een en ’ n halwe maand.

“Jy beter nie soos ’n toeris lyk nie,” waarsku ’n koor stemme my ewe skielik. “En jy kan nie deure ooplos of jou “Amerikaanse” gewoontes hier kom uithaal nie.”

Totally, dink ek in Amerikaanse slang. Right.

’n Regeringsamptenaar vertel vir ’n groep Amerikaners die misdaad het vir die eerste keer ’n plato bereik in Suid-Afrika.

Ek kliek op Yahoo News Search South Africa en die AIDS-berigte reën op my neer; afgewissel deur so ’n gruwelstorietjie of twee. Volgens die nuusflardes wat my bereik, ewe via die regering se email-bulletin wat ’n opsomming is van ons daaglikse nuus, lyk niks in daardie landjie besonder rooskleurig nie.

’n Suid-Afrikaanse Indian exile wat reeds sedert die sewentigs in die VSA bly, bel my vanoggend.

“Enige goeie nuus uit Suid-Afrika?”

Hy’t duidelik ook die laaste berig gelees. Een uit elke nege mense het HIV — of is dit AIDS wat hulle het? Suid-Afrika weet mos nie.

Selfs Mandela het die regering geroskam oor die korrupsie.

Klaarblyklik het Old Mutual uit die land padgegee, en André Brink gaan na gerugte emigreer na Australia; so ook ons vriend Ernie Els.

Ons almal weet FW is lankal weg.

Ek probeer dink aan goeie nuus. Snaaks genoeg kan ek aan niks dink nie. Ek vra ’n ambassade-amptenaar  ...

“Any good news on our country?” vra ek.

“You know how it is,” kry ek so ’n standaardantwoord.

Wat gaan daar anderkant aan, vra ek my pa. Volgens die berigte en die expat- en ambassadepraatjies, bittermin.

“Ag, dit gaan maar aan”, sê my pa. “Dit begin nou koud raak.”

“Ons het jou studieskuld betaal,” sê my ma.

Ek skryf vir my vriende versprei oor die universiteite van die land. Wat gaan daar aan, wil ek weet?

“Ek vind al hoe meer my mense, my hart, my drome,” skryf my een vriendin.

“Ek weet nie wat om vir my meesters te doen nie,” sê ’n ander.

“Ek het begin squash speel,” sê my broer.“ Dit raak mos nou winter.”

Ek kry so ’n halwe glimlaggie. Don’t put your trust in the news, dink ek.

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.