Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

“Everywhere is supposed to preserve the past”

Sy stem het vasgeslaan teen die plastiekpoppe, asbakke, hoede en stowwerige ou koerantknipsels. Hy het iets gemompel oor ’n conspiracy teorie. Ek het versigtig deur die noue gangetjies geskuur terwyl die ou man voortpraat. So ’n klomp goed in een klein spasie het ek nog nooit bymekaar gesien nie.

Die uithangbord buite die klein geboutjie het gesê “Old Curiosity Shop” . Ons was in rooinek rural country, iewers tussen Philadelphia en die middel van nêrens, iewers in die staat Pennsylvania en die staat Maryland. Rondom ons was die bome grys en vaal. Dit was ’n ander Amerika as die blink ligte, blink karre en blink geboue van Washington D.C. Ons het die winkeltjie ontdek toe ons per ongeluk tussen die plotte en skerppuntdakke in die klein uitgestrekte dorpies wat almal dieselfde lyk, die verkeerde afdraai gevat het.

Al die dorpe in Pennsylvania vloei in mekaar in — jy’t geen idee of jy kom of gaan of verdwaal nie. Elke dorp het een of twee Macdonalds, ’n KFC, ’n Wendy’s en ’n groot shopping centre met ’n Giant food store — en natuurlik ’n outydse diner waar daar heerlike classics gespeel word. Jy verwag die waitress in haar blokkiesvoorskoot en verspotte oormaat oogskadu gaan enige oomblik op die tafel spring en dans. …

En daar ontdek ons toe die klein negosiewinkel.

Die eerste indruk was een van daardie klassieke posters teen die mure: WANTED, met gesigte van jongelinge wat iewers van die pad af geraak het.

Ek wou amper omval toe ek die ou orde van die Ku Klux Klan, geraam, verbruin en agter vaal stukkende glas opmerk. Die Klankraft lees:

    Come al ye cluckers, come. We, the order of the Ku Klux Klan, we avow the distinction between the races of mankind as decreed by the Creator, and we shall ever be devoted to the sublime principles of white supremacy and Americanisms.

Hectic.

Ek dag eers die oom met sy woeste baard en ruie wenkbroue is self ’n Ku Klux Klanner, maar toe merk ek die verbleikte, rooi serp op teen die muur:

    Soviet Youth Pioneers Young Communist League.

Die twee ekstreme van wêreldpolitiek in die hart van die boendoes van die magtige Amerika, in ’n klein baksteengeboutjie.

Ek moes met die oom praat om sy storie te hoor, maar aanvanklik wou hy ons nie vertrou nie. Ek vra hom ’n eenvoudige vraag oor sy winkel.

“This isn’t the Mall,” brom hy.

Daar is sekerlik nie veel buitelanders wat per ongeluk in sy winkeltjie beland nie, troos ek myself. Maar toe ek iets sê van, “Hier is vir jou geskiedenis,” toe vonkel sy oë.

“Everywhere is a museum; everywhere is supposed to preserve the past,” blom hy, en deel ons mee dat hy al dertig jaar die goed opgaar. Die oom se Curiosity Shop is soos ’n museum van speelgoed deur die jare, politieke geskiedenis, die geskiedenis van Amerika op poskaarte en plakkate van Martin Luther King, outydse staal Macdonalds-asbakke (deesdae mag jy nie meer in Macdonalds rook nie en daardie asbakke is versamelaarsitems).

Oom, vra ek (toe hy eers begin ontspan en praat oor die conspiracy agter kredietkaarte, webwerwe en moderne telefone), is hier iets oor Suid-Afrika in die winkeltjie?

Toe kry die lang grys baard ’n glimlag. Hy gaan krap tussen laaie en kaste en rakke volgeprop met als en nog wat, en sowaar — ’n vol, warm blik Black Label maak sy verskyning … in die middel van Maryland. Nee, hy hoor dis goeie bier, sê die oom, maar hy dit nog nie geproe nie. Hy verkoop die blikkie vir tien dollar. Dit is dus amper R80 vir ’n enkele kannetjie bier, ’n versamelstuk in die oompie se winkel.

Ons is daar weg met ’n stokoue foto-album en twee Burger King-asbakke, en as ek meer dollars in my gatsak gehad het, het ek sowaar die Young Communist-vlag vir sestig dollar gekoop en self begin opgaar.

In Washington D.C. kry jy nooit daardie gevoel dat die geskiedenis jou agtervolg nie — daardie gevoel dat jy in ’n time-warpadelic kan wegraak en ander maniere van leef ontdek nie. Asof Washington nie geskiedenis preserveer nie, maar toesluit in museums en monumente wat maar eintlik net wit olifante is. In Washington voel jy net die mag oral om jou, die blinke lewe. Spoed en die dollar laat die lewe voortstu. Maar in landelike Amerika is dit asof jy skielik besef dat die land en die volkie deur sy geskiedenis bepaal word. Die hele landskap, die argitektuur, die mense, is museums.

In my IT-vriend se convertible BMW het ons verby klein geboutjies en diners en pubs gevlieg. Ons was die spreekwoordelike “other” van ’n onbekende land, ’n onbekende kontinent. Ons het Washington en die kommersiële cosmopolitan verteenwoordig.

Dit was die stokou, donkerbruin, afgeleefde Jerry’s Restaurant and Bar, wat ladies benodig om op ladies nights te werk, wat ons aandag getrek het.

Ons het die BMW langs ’n Trooper parkeer. Ons kon die jukebox alreeds buite die geboutjie hoor. Daarbinne was ’n paar mans, kompleet met skuimende biere en groot hoede en rou stemme en aksente wat jou die movie-Amerika anderkant Hollywood laat beleef. Ek het verwag daar gaan enige oomblik ’n klompie skylie jeug gaan inbars en ons almal vrek skiet.

“Where you’rre frrrom, Britain?” wou die waitress Tammy weet. “I can make a good bowl of cereal … Let’s shooot some pooool.”

Sy was ’n meisie met ’n reguit kuif waarvan die boonste helfte getease was, met ’n swaar aksent.

“D.C. is a monster man, it’s crazy, there is so many people in it,” het sy vertel.

Die mans wou weet of daar regtig wit mense in Suid-Afrika is. Heel duidelik het die geskiedenis hierdie mense stilletjies verbygesteek.

Maar nêrens in Amerika kan jy Commercial America, die Corporate America ontduik nie. Die groot Bud Light-posters teen die mure, die honderde pakkies grondbone en advertensies wat oral oor die bar-mure gepleister is. Ook die reusagtige TV-skerms wat Britney en die Basketballers en elke moontlike adverteerbare produk binne-in klein dorpies in geskiedkundige bars inbring sodat jy weet dat jy weet, jy is in die jaar 2001.

Die mans met die biere en aksente (glo trokdrywers en boere) se oë was op die TV’s vasgenael. My IT vriend het opgemerk: “Channel hopping is the national pastime in America.”

Ons was in Amerika, indeed.

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.