Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Nog steeds op soek na ’n realiteit

Kytie Koekblik

Dit is nog steeds nie ’n realiteit nie. Hierdie nuwe land waarin alles so gemaklik en so vreemd is. Die grote en magtige Amerika.

Die football games op TV tussen die New York Giants en een of ander span wat my huismaats so godsdienstig ondersteun, is vir my vreemd; so ook die Washington Redskins wat ek veronderstel is om te ondersteun omdat ek nou ’n deel geword het van Washington se kosmopolitaanse gemeenskap.

Ek pas in alle opsigte al klaar in, en in alle ander opsigte het ek vir myself ’n vreemdeling geword, sonder ’n konteks. Sonder die familie-etes, die gereelde foonoproepe van ma of pa wat die huismaats kry; sonder ’n rêrige huis.

Ek ken nie die medisyne soos ek Disprins en Deep-Heat ken nie; ek verstaan nie hoekom daar sigarette en kruideniersware in hulle apteke verkoop word nie. Ek ken nie die musiekscene soos ek eens op ’n tyd al Kaapstad se obskure bands se liedjies kon saamsing nie.

Die huismaats is almal volbloed Amerikaners en deel van ’n subkultuur waarvan ek seker nooit sal deel word nie.

Daardie gevoel dat jy deel was van iets bekends as jy gemission het van Oppikoppi na die Breede Rivier musiekfees na ’n Springbok Nude Girls gig in Mosselbaai ...

Dit het hierdie leegte gelos wat ek probeer vul deur rond te val van jazzklub na reggaefees na hip-hop-joint na kariaokeklub na Tower Records waar ’n teen-punk-band laatmiddag optree.

In Suid-Afrika kon ek saam met Koos Kombuis sing oor die “Madiba Bay, hier gaat ons bly-y-y-y”.

En ek het toe nie gebly nie.

Of dalk het ek juis agtergebly, en nou ontdek ek ’n meisie wat saam met die Washingtonians praat oor ons “local bands” en in Amerikaanse diners laatnag french fries eet wat in kaas verdrink is.

Die nuwe ek, wat ’n bagel met cream cheese eet vir ontbyt saam met ’n “take-out cappucino”. (Niemand praat hier van take-aways nie — dis ’n take-out of a carry-out.)

Sommige dae pas ek in as ek met my bankkaart betaal vir kruideniersware in die Safeway of die Giant (Suid-Afrika se Pick ’n Pay of Spar of Shoprite Checkers), of as ek vir die cabdriver verduidelik dat ek op die grens tussen die Distrik van Columbia en Maryland bly. Dan weet ek ek is besig om die nuwe land onder die knie te kry.

Ek begin al selfs tussen verskillende subkulture se sleng onderskei. Die Cool Housemate praat van “neat”. Op ’n tyd in my lewe was alles wat nou “neat” is, doodgewoon cool.

Die Latin- en Caribbean Americans praat van “g’ed up” as jy aantrek vir ’n okkasie, en verwys na mekaar as “Jo”. Ek begin al selfs vir hulle grappe lag.

Maar sommige dae maak niks sin nie.

Nie die groot publieke busse wat deur die woonbuurte ry nie. Ek is gewoond aan die Golden Arrow busoorloë.

Nie die groot uithangbord in die straat net langs my regop huisie waar ek in die dak bly nie.

“There is no way like the American way” proklameer die uithangbord trots. Ja, ja.

In my kop hoor ek nog die ou sangklasliedjie oor die plesierige Afrikaners, daardie ou volkie waarna ek soms so verlang.

Dit doen dit vir my. Nie die American Way nie.

Ek verlang na pasteie, jy kon dit orals koop: by die garage, by die kafee op die hoek. Hier is nie eers kafees nie.

Wat het ek altyd op Saterdae gedoen, dink ek as ek myself voor die TV tuismaak en rondsoek van kanaal na kanaal vir enigiets wat nie ’n simpele sitcom of ’n football game of ’n nuuskanaal is wat senator-skandale vir die komende verkiesing uitsaai nie.

Ek het rugby gekyk Saterdae. My pa het sy grondboontjies en rosyntjies geëet tydens die rugby en na die tyd Noot vir Noot gekyk op SABC-wat-ook-al.

Dis Arno van die Springbok Nude Girls wat onlangs een nag in New York City opgemerk het: “Dit is ook net in Amerika waar daar meer rosyntjies as peanuts in ’n pakkie is.”

Dit is omdat al hulle peanuts vir grondboontjiebotter gebruik word, en omtrent al hulle chocolates het grondboontjie-botter in. Ek smag na ’n volbloed Aero.

En Saterdae het alle ander Afrikaners gebraai en biltong geëet en klippies of tassies gedrink.

Snaaks hoe ’n mens na alles wat jou kultuur stereotipeer, verlang. Jy kon daaroor lag, en daaroor spot, juis omdat jy deel was daarvan.

As ek en my Afrikaanse vriendin bymekaar kom hier in D.C., gooi ons Die Taal, en die goeie ou Standaardafrikaans pop uit sonder dat ons eers besef dat ons Skoolafrikaans praat.

Ons het daardie identiteit verloor wat ons gehad het toe ons deel was van ’n ouderdomsgroep in Suid-Afrika.

Praat hulle ooit nog van “sif”?

Ek sal nie weet totdat ek teruggaan na my land en my Berg en my see nie. Myne, myne, daardie landskap in Suid-Afrika wat jou vorm. Elke pad het ’n herinnering, elke kafeetjie of strand of dorpie ’n storie. Hier is alles vreemd en sonder stories.

Jy is konteksloos.

“Dit laat my begeesterd voel,” sê my Afrikaanse vriendin nou die dag, en ons lê soos ons lag. Ook toe ek skielik praat van “vorendag”, en die idiome wat ons op skool geleer het, uit ons monde rol.

Ons val terug daarop; dit gee ons iets vas en bekends, ons Taal.

Tog word ek elke dag meer bewus van die las wat ons op ons jong Afrikanerskouers saam met ons dra. Die bagasie van Afrikaans wees.

Die ouer generasie African-Americans weet van apartheid, en daarom word jy wantrouig behandel.

Waarom hardloop jy van jou land weg, word daar vir my gevra. Ek hardloop nie weg nie, probeer ek verduidelik. Ek probeer van ’n geleentheid gebruik maak.

Waarom is jy, mejuffrou blanke Afrikaner, die geleentheid gegee? wil die Suid-Afrikaanse exiles by my weet.

Ek wil nie eers my CV begin aframmel nie. Ek is moeg daarvoor om myself te probeer bewys.

Ek voel jammer vir die arme jong Duitsers wat steeds onder Hitler se reputasie moet ly.

Wat kan ek sê of doen behalwe om my hande in onskuld te was — en terselfdertyd soos ’n Pilatus te voel?

Ek is in opstand daarteen, dié vorm van rassisme wat teen my gemik word. Ja, ek is seker “guilty by association” en ek is wel ’n produk van die sisteem, maar het ek ’n keuse gehad? Soos almal sonder keuses in Suid-Afrika was ons die slagoffers — en die mense wat in posisies van mag was, bly in lieflike huise in die Wildernis.

Natuurlik voel ek bitter.

“A Black person by definition cannot be a racist,” moes ek nou die dag hoor van ’n Suid-Afrikaanse exile, een van daardie kastige vryheidsvegters wat nou self te gemaklik hier in die VSA bly om terug te keer. (Ja, ek besef ek kan oor die stelling gekruisig word, maar gun my om ’n bietjie gal te braak).

Wat ek wil doen, is om hulle af te skryf: die ouer generasies van Afrikaners en die verbitterde exiles en enigeen wat sy persoonlike motiewe wegsteek agter ’n ideologiese rookskerm.

Ek wil sommer die hele spul van hulle afskryf, want ek is idealisties genoeg om te dink ons postapartheid-generasie kan ’n verskil maak.

Ons kan integreer. Hier in D.C. hang ek uit saam met wie ook al, ek partytjie op Lucky Dube en Hugh Masekela en ek praat nou van g’ed up omdat my swart vriende so sê en ek leer van gogul-musiek en die Golden Coast en ek skryf oor die sensitiewe goed omdat daar vir so lank oor niks gepraat is nie, en nooit weer moet ons ons “ignorance” as ’n verskoning kan aanbied nie.

Ignorance is eintlik boosheid, die ware jakob.

So ek leer en ek luister, en ek weet dat ek weet: Ten minste is ek op die een of ander manier ’n ambassadeur vir my land, en vir daardie volkie met die chip op die skouer, die Afrikaners / Afrikaanssprekendes — al is ek dan ook in die fastfood-land, ver van die dierbare Madiba Bay.

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.