Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Kerkorrel se legacy loop diep

Kytie Koekblik

Ek was te klein om die Rewolusie te onthou, maar groot genoeg om te weet Johannes Kerkorrel het iets verkeerd gedoen in die oë van talle Afrikaanse grootmense. Dit was 1989/90, en ek was so 11/12 jaar oud.

Ek kan net so vaagweg die headlines onthou oor die Voëlvry kampustoer en hierdie mannetjie wat dit gedurf waag het om homself “Kerkorrel” met sy “Gereformeerde Blues” band te noem. Ruk en rol, en kerk en gereformeerd, het nie in een asem gehoort nie …

Die enigste Afrikaanse musiek waarop ek letterlik gespeen is, was tannie Carike en tannie Anneli en verder ken ek van kleins af Jimmy Swaggart anthems. In my huis was pop musiek ’n taboe.

So gaan ons ou familietjie op ’n wholesome vakansie na ’n klein kusdorpie met die naam Tergniet. Op die laaste dag van my vakansie, toe hoor ek hierdie musiek wat jou skielik laat vryheid proe, musiek wat nie please nie, nie ’n pretty stemmetjie, nie soothing lyrics nie, en bowenal Afrikaanse musiek soos ek nog nooit Afrikaanse musiek gehoor het nie.

Die vrye rock ’n roll en die klavier waarop so roekeloos gehamer word, het skielik vir my gewys dat daar definitief dinge en wêrelde is waarvan ek niks weet nie.

My ma onthou daai dag soos gister, en ek onthou dit as een van die “Vormende Invloede” op Kytie Koekblik. Die studente wat Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band deur die middag laat dawer het, was besig om ’n ou groen kombi te was. Die kombi was vol blomme geverf en hulle het in lang rompe rondom die kombi gedans. Ek het geweet ek moes ’n hippie gebore gewees het, maar nevermaaind, hier het ons dan ons eie Rewolusie in Afrikaans gehad. Ek sou dit daardie dag vir ’n oomblik kon ervaar.

Op daardie oomblik het ek vir die eerste keer vermoed dat daar meer in die lewe is om na te strewe as my wiskundeboeke of ’n prefekwapen.

In 1992 was die dae van langspeelplate en apartheid gelukkig getel, so my early teens crazes Roxette en die New Kids on the Block het nie ’n lang lewe gehad nie. Ongelukkig was die Afrikaanse Musiek Rewolusie eintlik verby toe ek in die prime van my tienerlewe was in die vroeë neëntigs. Gelukkig het ek later ’n CD player gekry en Nirvana ontdek.

Maar aan die begin van my matriekjaar, 1995, toe kry ek die mees exciting commission van my hele 17-jarige bestaan. Die destydse JongBurger vra my om ’n onderhoud te doen met ene Johannes Kerkorrel.

Ek het nou nog die tape wat ek gerecord het in die destydse Hard Rock in Seepunt, met my eie senuagtige stem en my naïewe aspiring journalist-tipe vrae.

Later het die Hard Rock toegemaak, want dit was mos nie die ware Jacob nie.

Maar dit was een van die coolste plekke en dinge wat ek in my lewe gedoen het. Ek kon nie eens bestuur nie, en my ma het my na skool kom oplaai by die Hoërskool De Kuilen en met my Seepunt toe gery. Sy het my drieuur afgelaai en tot vyfuur in die kar gewag.

Binne-in die Hard Rock het ek koffie gedrink, en sover ek kan onthou, het Ralph Rabie, soos hy homself voorgestel het, swart koffie gedrink. Ek het aan my ma terug gerapporteer dat hy ’n goeie ou is en dat sy hele lewe om sy musiek en sy kunstenaarskap draai.

Die opskrif van daardie onderhoud was “ Musiek is sy lewenslyn, sy wese, sê Kerkorrel”.

“’n MOEILIKE tipe” is hoe Ralph Rabie homself beskryf.

Die “moeilike tipe” is Johannes Kerkorrel, die man wat sy regte naam as “gewoon” beskryf.

“Die naam ‘Kerkorrel’ ‘trigger’ mense, dit laat hulle lag en reageer. Ralph Rabie het net nie dieselfde impak nie.”

En impak het Johannes Kerkorrel wel deeglik in die Afrikaanse musiekwêreld sedert sy eerste en berugte Voëlvrytoer agt jaar gelede.

“Ek was nie ’n besonder weerbarstige outjie op skool nie. Ek het grootgeword met kadetparades en haarinspeksies en jeugweerbaarheid, maar eers ná my universiteitsjare het ek geweet: my musiek moet ’n doel en boodskap en funksie hê.”

En toe tref Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band die land.

“Dit was opwindend, hoe meer ons verbied is, hoe meer het dit gewerk. Maar dit was net ’n fase, ’n rebellie teen ’n sisteem wat kreatiwiteit onderdruk het. Nou is ons op die rand van iets rêrigs ‘amazings’...”

Johannes is ongelooflik positief, “'uiters positief” oor die land en sy mense. Hy meen die jeug, die nuwe generasie, gaan die kans kry om te wees wie hulle regtig wil wees en om te gaan waar hulle wil gaan. ''Ek het nog altyd probeer om mense se bewussyn aan die gang te sit, nou wil ek mense laat besef ons het nou vryheid, die dae van in eksklusiewe klein hokkies leef, is verby.

Hy wou nog altyd net musiek maak. “Ek het geen ‘heavy’ teorieë oor die lewe nie, dit gaan vir my oor oorlewing. Musiek maak die lewe vir my draaglik.”

Dit is ook oor sy passie vir musiek dat Johannes heeldag voor die radio sal sit en soek na iets luisterbaars.

“Daar is ongelooflike hoeveelhede ‘trash’ op die radio. Ek kry vat aan ’n kunstenaar, eet dit op en dan is dit verby. My ‘Prince-fase’ is op die oomblik verby, ek is nou mal oor Sheryl Crow.”

En as hy nie sit en “scan” vir goeie “songs” nie, dan skryf hy self. Hy skryf enige tyd wanneer hy geïnspireerd voel, en gaan heeltemal van sy kop af as hy nie kan skryf nie.

“Ek kan slegs direk ná ’n optrede regtig ontspan. Die res van die tyd dink ek heeltyd aan ’n ritme of ’n wysie, my brein is nooit stil nie. Musiek is my lewensbloed.”

Met sy musiek probeer Johannes oor alle grense, veral taalgrense, breek.

“Afrikaans is ’n taai kalant wat definitief sal oorleef. Die belangrikste is nie om na ’n regering of party te kyk vir jou taal nie, maar na jou skrywers, want dit is hulle wat ’n taal laat leef.” Die meeste van die tyd werk Johannes in Gauteng, maar hy hou van die Kaapse atmosfeer.

“Die reuk van die see hier is Fishtang ...”

Gebraaide vis vars uit die see is dan ook Johannes se gunstelingkos. En sy gunstelingdrankie is sterk swart koffie, waarskynlik om hom wakker te hou terwyl hy skryf.

“Ek wil graag eendag ’n nommer een liedjie in Amerika hê,” is sy droom. “Of om ’n nommer een vir iemand anders te skryf.”

Sy program vir die res van 1995 is baie vol. Hy neem aan verskeie oorsese en plaaslike musiekfeeste en -toere deel, waaronder ’n Suid-Afrikaanse musiekfees in Parys. Maar Johannes sal enigiets doen. Solank hy net soveel as moontlik musiek kan maak.

My Johannes Kerkorrel-onderhoud was ook vir my bepalend. Ek het Kytie Koekblik geword, aspiring musiekjoernalis, ’n lid van die tweede generasie jong Afrikaanssprekendes geïnspireer deur die voorbeelde van ons cult gurus.

Ek het die nuus van sy dood gehoor hier in Washington DC en vir my Ultimate American Boyfriend gesê: “Jy weet mos daai Afrikaanse CD wat ek altyd speel, daai man het selfmoord gepleeg.”

Ek dink nie hy het heeltemal die impak verstaan nie. Vir my was Johannes my Kultuur, die tipe kunstenaarskap in Afrikaans en Suid-Afrikanerskap waarmee ek wil associate.

So ’n maand of wat terug was ek vir die eerste keer in ’n jaar en ’n half in Suid-Afrika by ’n Buckfever Underground gig waar my vriend Toast Coetzer opgetree het. “Ralph Rabie” het nogals kom kyk.

Daardie middag toe vertel ek en ou Toast vir my ma in haar huisie op Blouberg se strand dat Toast en Ralph nou op eerstenaambasis is. Ek het geweet dit sou my ma impress.

En daarop was ek nie bietjie jaloers nie, ek wou mos die eerste Afrikaanse Ruk en Rol chick gewees het. Maar toe gaan ek weg Amerika toe en toe word Karen Zoid met dié titel bekroon. Karen en Kerkorrel het juis saam aan ’n show gewerk vir volgende jaar se Klein Karoo Kunstefees.

Ek wou nog daardie aand vir Kerkorrel gaan vertel die enigste Afrikaanse CD waarna ek luister hier in die VSA, is sy 10 jaar later-CD met al sy beste songs op. Ek het nog nie weer die Johannes Kerkorrel in my speler gaan indruk sedert ek gehoor het van sy selfmoord vroeg in November nie.

“Ossewa” vertel vir my wie ek was destyds, as ’n skoolgirltjie in die apartheidsjare, en dit laat my onthou hoe ek gedink het hedonisme is opgesluit in daardie klavier.

“Halala Afrika” eggo my reënboog-idealisjare toe ek in 1995 aan die Hoërskool De Kuilen gematrikuleer het en geglo het die wêreld gaan eindig ná Mandela.

“Awuwa” en “Al lê die Berge nog so Blou” skeur letterlik my hele hart oop, want dit toonset ek, Kytie Koekblik, eens European, maar volbloed Suid-Afrikaner en Afrikaanssprekende hier in die VSA.

Johannes Kerkorrel se musiek het “siel”, soos my ma altyd sê, en daai siel spreek tot my as ek homesick raak oor my land en my mense en my kultuur.

Ek wou huil en huil toe ek die onderhoud van destyds gaan lees. Johannes het in daardie een middag vir ’n 17-jarige droom-oog girl ’n stukkie van homself gegee. Soos hy dwarsdeur sy loopbaan met alle mense gedoen het, op sy gentle manier, in sy Afrikaans wat hy so lekker kon praat met sy understated sin vir humor.

Johannes Kerkorrel se legacy loop dieper as die kleur van ons reënboogvelle. Hy wou dit miskien nie wees nie, maar hy was ’n politieke leier wat ek enige dag sou volg, iemand nie skaam om te staan vir dit wat hy is en dit waarin hy geglo het nie. Hy’t maar altyd jou horisonne ’n bietjie groter laat lyk en Suid-Afrika na ’n minder rigiede plek. En ná apartheid het hy gaan sample aan al die verskillende kulture en tale en klanke en musiekstyle wat dié diverse landjie te offer het.

Hy was ook ’n Afrikaanse leier, en bowenal ’n regte egte Suid-Afrikaner wat in sy musiek sy tyd ver vooruit was. Ons moet almal sy musiek laat voortleef, want soos Johannes self gesê het, dit was sy lewenslyn.

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.