Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

’n Hoop herinneringe

Kytie Koekblik

As iemand hier in die States vir my vra waar ek vandaan kom, is ek altyd baie gou om met so ’n siniese klankie in my stem te se:

“Van agter die boereworsgordyn uit.”

Dan gee ek so half kop in die sand ’n verduideliking: Dis ’n klein plekkie in die verre noordelike voorstede van Kaapstad tussen die Boland, die gat van die Kaapse Vlakte en grensend aan die paradys van Afrikaanse suburbia, Belville.

Ek voeg vinnig by: “Ek is actually in Johannesburg gebore en ek verkies om te sê ek het geswot op die multikulturele Rhodes Universiteit.”

Ek wou altyd so gou moontlik uit Kuilsrivier wegkom ná skool om te sien wat aangaan buite die grense van die klein, meerderheid wit dorpie — of at least aan my kant van die spoorlyn was die meerderheid mense wit, so ook die meerderheid mense in my straat en op die skoolraad en kerkrade van al die verskeie kerke.

Vir my was Kuilsrivier net te klein. Die lyn na die NP se tente was altyd ten minste tien keer langer as die PFP-lyn en daar was nie baie happy clappies op die dorp nie. Ek was een van ongeveer drie happy clappies in my matriekklas. Ek dink dalk het almal gesukkel om happy clappies te verstaan.

Boonop is dit op Kuilsrivier — soos in alle klein dorpies — moeilik om anoniem te bly. As jy in dieselfde hoërskool of laerskool was, het almal heel moontlik jou ma en pa se voorname geken en jou akademiese punte geweet.

Nou soos die dae uitloop hier in Washington DC en ek myself hoor praat van ketchup in plaas van tomato sauce, is dit meer en meer asof ek weer die Kuilsrivier-girl in my begin ontdek.

Daar is soveel wat ek wou vergeet het oor die dorp. Ek wou vergeet dat ek met ’n liniaal oor die kneukels gewiks is oor ek dit gedurf waag het om saggies iets te fluister aan ’n maatjie. Ek wou vergeet van die onnie se geskree op ’n meisie wat onderlaag aangesit het in ’n poging om haar aknee te cover. Ek wou vergeet van die onnie wat ons in ons onderklere laat LO doen het as ons ons sportklere by die huis sou vergeet. Ek wou vergeet van die lang breë gange waarin jy geforseer is om op kolle te draai en in enkelgelid te stap sonder om ’n woord te sê.

Ek het altyd gewonder hoekom ons nie mag gepraat het nie: jy mag nie praat in die klas nie en ook nie tussen klasse nie. Al die sinnelose reëls en die naelinspeksies, haarinspeksies, kuifinspeksies en selfs onderklere-inspeksies; die detensies oor allerhande simpel goed. Ek wou vergeet van petty dissipline. Ek wou vergeet van die eerste dag toe die eerste bruin kind in ons skool ingekom het en ek besluit het dat sy langs my kon sit. Toe sy aan my raak, het ek ’n oomblik teruggedeins oor die kontras van haar soelbruin vel teen my skreiende wit arm. Ek wou vergeet dat daar ooit iets soos inherente ingebore rassisme kon bestaan. Kuilsrivier het vir my alles wat apartheid-Suid-Afrika was, verteenwoordig. Ek wou vergeet van enige plek in die hele Suid-Afrika waar daar steeds na “hulle” as swartmense verwys word. Ek wou vergeet van my beste buddie wat die AWB ondersteun het. Ek wou vergeet hoe happy ek was toe FW de Klerk my hand geskud het in 1990 tydens ’n leerlingraad-besoek aan die Parlement. Ek het aan FW gesê: “Ek wil eendag president word.”

Ek wou ook ’n nice kolom skryf oor Kuilsrivier en ek wou nie regtig skryf oor al hierdie goeters in die Afrikaanse society waarvan ek so ver moontlik wou wegkom nie.

Dis so maklik om nou vingers te wys na ou Bush en die Amerikaanse regering. Maar hoe meer ek leer oor soveel in die Amerikaanse kultuur, hoe meer parallelle trek ek tussen die Afrikaanse kultuur en hierdie vreemde land waarin ek myself bevind. Elke keer as ek wonder hoekom mense hulleself so kan digstaar teen die media se oorweldigende boodskappe; elke keer as ek wonder hoekom hulle Franse produkte boikot en so ongelooflik patrioties is en hoekom soveel hulle president steeds ondersteun, dan word ek ongemaklik herinner aan ons eie ignorance. Aan ons Afrikaanse volkie se sondes.

Vir ’n lang tyd wou ek net niks met Afrikaanse “inbreeding” te doen hê nie. Ek wou nie meer in enige sinnelose debate oor die kultuur en die taalvraagstuk en die Volk en sy Kultuur betrokke raak nie. Wat help dit as ons Afrikaners altyd in sirkels met mekaar praat, en in elk geval nooit ons eie opinies verander nie? Ons moet met ánder begin praat, het ek besluit. Ek wou probeer om my blind te staar teen mense se politiek of kultuur of burgerskap, en ek wou die common denominator in mense ontdek. Die menslike kant van mense. In die proses het ek vergeet hoeveel Kuilsrivier my oor menswees geleer het. Ek wou nie onthou waar Kuilsrivier nou eintlik is nie’...

Nou is ek skielik ’n kwarteeu oud en ek sien die eerste tekentjies van lyntjies om my oë, en ek bly al vir agt jaar nie meer in Kuilsrivier nie. En ek het weer my geheue teruggevind, hier in Washington DC. Ek het onthou, ek is van Kuilsrivier. Ek is altyd ’n River Girl.

Kuilsriver was nie ’n perfekte plek nie. Soos Washington DC nie ’n perfekte plek is nie. Soos daar nêrens in die wêreld ’n perfekte plek gaan wees waar alle mense sonder kultuursverskille of geloofsverskille of taalverskille, of watter verskille ook al, gaan saamleef nie. Utopia was altyd in my kop en Kuilsrivier het net nie die profile van Utopia gematch nie. So ek wou van die plekkie vergeet. Die bruin sanderige grond van my voete afskud. Maar ek sê mos, ek is altyd ’n River Girl.

Skielik onthou ek soos gister daai vieslike geel Port Jacksons op die vlakte as jy die N2 verby die Kaapse vlakte vat na die Kuil toe. Ek onthou die vae buitelyne van die Stellenbosse berge aan die een kant van die dorp. Ek onthou die rivier agter ons huis en die gat in die sandwal waar ek my bendehuis gehad het. Ek onthou die name van my idols; die girls wat ek bewonder het vir hulle idees, entoesiasme en inisiatief; ek onthou die lekkerte van in die skoolkoor sing; ek onthou ook die verskriklike geesdrif waarmee ek alles aangepak het.

Ek weet ook ek is die mens wat ek vandag is oor ek op daai klein plekkie grootgeword het. Juis oor ek op Kuilsrivier grootgeword het, kan ek kleindorpie-Amerika net so goed verstaan soos kleindorpie-Suid-Afrika. Juis daarom het ek soveel meer simpatie — en genade — vir verskillende lewensbeskouings, ook lewensbeskouings waarmee ek verskil. Ek is die mens wat ek is, en trots daarop — ten spyte van my Kleindorpie Sindroom, die Afrikaner Politiek, die Volk Wroegings en Kultuur Griewe wat ek vir so lank probeer vergeet het. Jy is waar jy vandaan kom …

Kuilsrivier is die plek waar soveel mense my gemaak en gevorm het in die mens wie ek vandag is. So hiermee dan ’n dankie aan Kuilsrivier en die ongelooflike mense wat ek daar ontmoet het, mense wat miskien nooit eers besef hoeveel hulle bygedra het tot die koekblik se content nie.

Ek dink aan my standerd 1-onnie met die spark wat my kreatiwiteit en leierskap-eienskappe uitgebring het; ek dink aan juffrou Goggie Botha en mevrou Vermaak wat vir my geleer het hoe literatuur en poësie iets kon sê oor die wêreld, die land waarin ons leef en die mens wie ek is. Ek wil dankie sê vir soveel mense vir hulle 100%-ondersteuning: juffrou Sadie, meneer Pilkington, en mevrou De Jager — mense wat die skool uit skool gehaal het.

Ek dink aan mense wat ek nie meer vandag eers weet waar hulle is nie, soos my rolmodel Jacqueline Batt. Ek dink aan die vrolikste mensie met die hartseerste storie ooit — Alida Raubenheimer; ek dink aan my “stoutste” vriende Barry Blomaert en Heidi Engelke; ek dink aan my buddies deur dik en dun, Jaco Nel en Bernadette Stouthamer en Lederi Smit. Ek dink aan mense wat my kon inspireer, soos Michelle van Zyl en die Bijenkort Bakery se twee bakkers wat vir my familie geword het, tannie Merle en oom Jan.

Verder dink ek aan die mense met wie ek nou onlangs weer in kontak gekom het en wat met hulle e-mails soveel bydra tot my lewe aan hierdie kant van die oseaan: Wynand Jordaan — my eerste crush; en Freda Brink, ’n girl wat my trots maak op ander River Girls.

Dan wil ek ook die website SAReunited.com aanbeveel — dit is werklik ’n website wat jou weer in aanraking bring met jou ou self. Ek het deur die name van my ou skool begin gaan en dit was asof ek daardie wêreld weer kon beleef met soveel helderheid.

Nou weet ek weer wie ek is. Ek kan nie wag om my Ultimate American Boyfriend te gaan wys waar ek my eerste soen gekry het nie. Ek kan selfs weer myself indink met ’n lang vlegsel, drade aan my tande en in ’n groen uniform op my fiets in die strate van die River …

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.