Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Afskeid is ’n voortdurende proses

Kytie Koekblik

Sekere mense op hierdie aarde het ’n soort invincible presence. Asof hulle onverganklik is. Jy kan vir hulle kwaad raak oor hulle dinge op hulle manier doen, maar jy kan hulle ook bewonder juis omdát hulle dinge op hulle manier doen.

Hulle is die soort mense wat altyd aan die lag is, altyd met ’n grap gereed staan, en jou soms die mure uitdryf omdat hulle jou nie ernstig genoeg opvat nie. Soms weet jy as jy met hulle praat, praat jy teen die dak vas, want hulle koppe is op ander plekke en projekte.

Maar as jy in hulle geselskap is, weet jy hoe dit voel om te leef met oorgawe en lewenslus. Jy moet hulle bewonder vir hulle onblusbaarheid.

Een so ’n mens was Monty Cooper, my Photojourn 3-dosent op Rhodes Universiteit. Alewig aan die scheme aan ’n nuwe projek of ’n nuwe uitstalling, altyd aan die leer oor die lewe en sy beroep. ’n Innoverende dinker en boonop ’n doener.

Een van die min lesings wat ek onthou, is toe Monty ons bewus gemaak het dat foto’s ons realiteit manipuleer. Hy het gemeen dit is heeltemal moontlik dat die Golf-oorlog in ons koppe en in die media bestaan het … Jy neem ’n kragtige foto wat ’n storie vertel oor oorlog en dood en pyn, maar jy neem tog nie foto’s van “gewone lewe” buitekant ’n oorlogsgebied nie.

Ons het agterna gespot oor the war in our heads …

Ek het gedink Monty is onsterflik en dat hy vir altyd op Rhodes Universiteit sou klasgee en wyn drink en ons aanmoedig om verder te dink as die gewone. Jy wou hom soms aan die strot gryp oor sy sin vir humor, en tog is dit juis sy sin vir humor wat hom kop en skouers laat uitstaan het.

Hierdie week het ek berig gekry oor sy dood aan malaria. Ek kan nie Grahamstad indink sonder Monty nie.

Vandat ek nie meer in Suid-Afrika is nie, laat elke berig wat ek kry oor iemand wat dood is, my met ’n soort onvergenoegdheid. ’n Hopeloosheid. Ek kan nie behoorlik closure kry nie. Ek kan nie begrafnisse bywoon of afskeid neem nie. Ek kan aan my VSA-vriende vertel iemand wat ek ken, is dood, maar hulle begryp nie altyd die konteks of impak nie. Mense gaan dood wat nie noodwendig jou familie of close vriende is nie, maar tog is dit ’n anderster soort afskeid wat jy moet neem wanneer ’n bekende baken in jou lewe skielik nie meer daar is nie.

Dit is dan wat grootword beteken, dat jou wêreld heeltyd verander en dat die mense daarbinne verander en weggaan en doodgaan. Dis moeilik om my in te dink dat daar ’n stadium in my lewe is wat ek nie nodig gehad het om afskeid te neem nie. Op Kuilsrivier het ons mos maar almal na dieselfde laerskool gegaan, en vandaar is ons almal na die dorp se hoërskool toe. My vriendekring het nooit verander nie en almal was konstant, elke dag was min of meer dieselfde, met dieselfde mense en dieselfde aktiwiteite.

Soms was afskeid ’n faktor. ’n Gunsteling-onderwyser wat die skool verlaat of ’n beste maatjie wat wegtrek na ’n ander dorp of ’n troeteldier wat wegraak. Soms was daardie afskeid meer drasties, soos toe ek op hoërskool kom en my moes afskeid neem van my liefste twee oupas en later my ouma.

Maar die eerste keer wat ek met die dood kennis gemaak het, was dit iemand wat nie baie naby aan my was nie. Dit was iemand wat my pad gekruis het en teenoor wie ek nie baie nice was nie, ’n seuntjie met die naam André wat dood is toe ek 12 jaar oud was. In standerd drie het André agter my in die klas gesit.

Nou kyk, ek was ’n tomboy wat in bome rondgeklouter het en die leier van my bende was, met ons bendehuis in die rivierwal. En ewe skielik toe ek 10 word daardie jaar, toe besef ek seuntjies hou van dogtertjies.

My eerste skoolkys (ene Heinie) was veronderstel om ’n aartsgeheim te wees, want ek was verskriklik skaam. Hy het elke dag saam met my huis toe gery op sy fiets en tydens ’n skooluitstappie vir my Marie-beskuitjies aangestuur op die bus. Toe ek besef almal in my klas weet van die kys, toe breek ek dit summier af — al het ek ook van die outjie gehou. Dit het my net heeltemal te ongemaklik laat voel.

André, met sy ligte goudrooi hare, het my ook ongemaklik laat voel omdat hy van my gehou het. Hy het vir my briewe onder my bank gelos en soms ’n pakkie chips of ’n chocolate. Die eerste chocolate wat hy ooit vir my gegee het was ’n Chocolate Log. Soms het ek sy persente opgeëet en soms was ek so ongemaklik oor sy aandag dat ek dit abrup teruggestuur het. Ek het nooit op sy briewe geantwoord nie, en gemaak asof hy net so onbelangrik soos enige ander seuntjie in my klas was.

Ek het wel van hom gehou en ek weet steeds nie hoekom ek so ongemaklik gevoel het nie. Soms het hy met sy potlood my rug gekielie tydens klasse. Hy het nooit die blatante hints dat hy my moet uitlos, ernstig opgeneem nie, en ek sou maar weer en weer ’n brief van hom af kry, of ’n persentjie onder my bank. Ek het nooit sy briewe huis toe geneem nie. Ek het hulle onder my bank gelos oor ek daaroor skaam was. En toe kom die onderwyser daarop af en terg ons en toe is dit neusie verby met André, die mooi rooikopseuntjie met sy sterk ontwikkelde spiere — as ek reg onthou, was hy ’n kampioenstoeier. Ek het na ’n ander bank in die klas geskuif en dit was die einde van André. Ek het nooit weer met hom gepraat nie.

’n Jaar later het my ma vir my gevra of ek die seuntjie wat in ’n motor-ongeluk dood is, geken het. Ek het my onmiddellike brandende trane en my skuldgevoel afgesluk en later alleen in my kamer gaan huil.

Wat ek daardie dag geleer het, is dat jy nie ’n tweede kans kry met mense nie. Ek het besluit dat ek nooit weer sou spyt wees oor hoe ek mense behandel nie, net vir just in case ek nie weer ’n tweede kans kry om dinge reg te maak of jammer te sê of te sê hoe ek regtig voel nie.

Ek dink ’n mens dra ’n stukkie van elke mens wat jou pad kruis, saam met jou, al is dit dan ook mense wat jou “vyande” is, of mense wat jou seermaak, of mense wat kennisse is en nie noodwendig na aan jou hart lê nie; soms het jy unresolved gevoelens teenoor hulle; partykeer is hulle net iemand wat jou beïndruk of inspireer vir enkele oomblikke in jou lewe, of soms bewonder jy hulle net vir daardie onsterflike, invincible lus vir die lewe.

Die dood het die manier om jou vir ’n oomblik stil te skok en jou te laat nadink oor die rol wat daardie mense in jou lewe speel. Dit verander jou wêreld en jou herinneringe en dit laat jou vir ’n oomblik terugkyk op wie jy was en wie jy geword het.

Ek was nie baie naby aan Monty Cooper nie, ek kan nie sê ek het hom baie goed geken of vir hom omgegee nie, maar hy het wel sy stempel afgedruk op ’n vormende en baie belangrike deel van my lewe destyds op Rhodes in Grahamstad, Suid-Afrika.

Ek het gedink as jy uit Suid-Afrika weggaan, neem jy afskeid. Ek het nooit besef afskeid is ’n voortdurende proses nie: daar lê altyd nog ’n afskeid om die draai, nog ’n klein stukkie hartseer wat jy iewers in jou hart gaan bêre; nog ’n stukkie van jou wêreld en herinneringe wat onherroeplik verander.

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.