Edie van die AardeArgief
Tuis /
Home
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Happy Takeovines, Vettie

Edie Boshoff

Een van my beste troeteldiere ooit was 'n rot. So 'n groot, mak, witte met 'n bruin kop en skouers en sagte, donker ogies vol liefde. Oor Vettie kan ek aangaan en aangaan. Hoe lief hy vir KFC en tjoklit was. Hoe hy omgerol het vir maagkrappies, oopketel soos 'n spatchcock chicken, oë omgedop in hedonistiese vervoering. Hoe hy onder die indruk was dat my hand 'n mederot is, hoe lief hy daarvoor was om in my palm op te krul en my hand (of eerder, sy mederot) te groom en te knaag en te cuddle. Hoe hy aangekom het as mens sy naam geroep het. Daai rot. Hy is al meer as twee jaar dood en ek kan nou nog nie oor hom praat sonder om te huil nie. Soos ek nou hier sit en tik is ek aan die tjank.

Sien, toe ek gevra word om ietsie oor die liefde vir Valentynsdag te skryf, het ek dadelik aan Vettie gedink. Vettie was die verpersoonliking van die onselfsugtige aard van Ware Liefde. Natuurlik het die persoon wat my gevra het om iets te skryf, Romantiese Liefde in gedagte gehad. En dis nogals ironies. Want, soos Valiant Swart sing, ware (romantiese) liefde wyk aan my flippen chronies.

Ek hét al Die Liefde Tussen 'n Man en 'n Vrou ervaar (en hiermee impliseer ek geensins dat dit superieure status geniet bo Die Liefde Tussen 'n Vrou en 'n Vrou of 'n Man en 'n Man nie). Maar vir my kon dit net nog nooit op lang termyn uitwerk nie. En die nie-uitwerk-nie pla my nie rêrig nie. Dis tog maar net the luck of the draw. Ek dink die probleem is ook nie soseer die relatiewe kortstondigheid van my volwasse verhoudings nie ('n jaar en 'n half en twee jaar onderskeidelik). Dis die periode tussen verhoudings wat die right old handbriek op my romantiese progressie deur die lewe is.

Ek val, wanneer my verhoudings tot 'n einde kom, om die een of ander rede keer op keer (vir etlike jare) vas in daardie emosionele en seksuele niemandsland, daardie ver-ver plek waar jou hart asiel gaan soek en hoop dat die koue die pyn sal verdoof. Daardie plek waar jy lag, maar nie al jou lagge nie, en huil, maar nie al jou trane nie (soos Kahlil Gibran se Profeet vertel). Emotional en sexual shutdown. Met geen benul wanneer daar weer 'n pyltjie op my screen gaan verskyn om op Restart mee te kliek nie. Ek is juis nou besig om stadig en versigtig uit 'n tweejaar-shutdown-periode te ontwaak. Die liggies is aan. Die skerm flikker. Die pyltjie verskyn en verdwyn. Ek dink ek mag miskien so half-en-half gereed wees om soort van daaroor te begin dink om dalk op Restart te kliek. Maar nes my brein die geheue begin laai vir 'n restart, is dit daai einste memory wat my bang maak vir nog 'n crash.

So van crashes gepraat - nou die aand vertel 'n vriendin se girlfriend vir my van 'n vreeslike ding wat gebeur het: haar kat het kleintjies gekry. Die ma-kat en haar kinders het in die met-sandbak-en-katmandjie-ingerigte badkamer gebly. Vriendin se girlfriend se strykplank het ook in die badkamer gebly. Een aand, in die middel van die nag, hoor hulle 'n geluid. Hulle staan op om te gaan kyk. Strykplank het op babakatjie geval. Katjie miaau en kerm, aan 't ruk en aan 't bloed hoes. Vriendin en girlfriend is histeries. Vriendin stuur girlfriend terug bed toe en verlos katjie van sy lyding. Ek sit nog so en luister na die aaklige storie, toe die aanhoor daarvan vir my te veel word. Ek raak tranerig, oorval deur empatie en herinneringe aan Vettie. En net daar hijack ek haar oomblik van smart en val weg met die treurige verhaal van Vettie se einde.

Ek het bedoel om haar net in breë trekke te vertel. Ter illustrasie van hoe ek haar pyn verstaan. Maar voor ek my kon kry was ek besig om elke excruciating detail van sy sterfproses met haar te deel. Vettie het 'n ooginfeksie gehad, was swak en kon nie lekker sien nie. Hy wou van sy yskasbotterbakkie-bed na een van die rakke oorspring (Vettie het in 'n gebreekte yskas gewoon) en het die afstand misreken. Hy het ver en hard geval en hom letterlik halfdood geskrik. Ek het hom hoor val, hom opgetel en op my bors in my hande vasgehou, waar hy gelê en hyg het, ogies bang en verskrik, hartjie wild en ongereeld aan 't klop in sy klein, natgeswete borskassie. So het ons op my bed gelê vir vier aaklige ure: Vettie aan 't sterwe, ek snot en trane. En daar, in my hande, kry (snik) Vettie (snik) 'n (reusesnik) hartaanval.

Op hierdie stadium in my vertelling is ek 'n tranerige gemors. Ek ruk en ek snik en ek sukkel om te praat. Vertel haar ek kon dit nog nie sedertdien weer oor my hart kry om 'n troeteldier aan te skaf nie. Vriendin se girlfriend troos en sê sy verstaan. Maar dat 'n mens jou hart moet oophou om weer ('n diertjie) lief te kry. Nie toelaat dat die bang vir die pyn jou verneuk uit die liefde nie.

En skielik gaan 'n groot lig vir my aan. Dís wat die einde van my verhoudings was. Twee hartaanvalle in my hande. En so is dit seker maar vir almal met 'n hart. Dis erg. Dis so damn hectic. Dit maak seer. Maar wat kan 'n mens doen? Dis die lewe. Liefde kom en liefde gaan. En iets in my is oortuig daarvan dat, van sekere soorte liefde, daar altyd genoeg vir almal sal wees. Vir dié wat dit wil hê. En veral vir dié wat bereid is om dit ook te géé. Die liefde van vriende. Die liefde van familie. Die liefde van familie wat jou verstáán soos vriende. Die liefde vir vreemdelinge. Die liefde vir mense in nood en pyn. En (soos Whitney Houston ons al vir soveel jare vertel) die grootste liefde van hulle almal - die liefde vir jouself.

Dit alles glo ek. Ek is vas oortuig daarvan. Maar soms, net partykeer (veral op sulke leë, uitbuitend-kapitalistiese okkasies soos Valentynsdag), vang ek myself dat ek wonder of dit nie lekker sou wees as ek, op my lewenspad, miskien iemand soos Vettie kan raakloop nie. Vettie wou nooit baklei nie. Vettie het nie 'n jaloerse haar op sy lyfie gehad nie. Vettie het my nooit verneuk of probeer oortuig dat ek simpel en dom is nie. Al waarin Vettie belanggestel het, was soveel affection (en KFC en tjoklit) as wat menslik (of is dit nou dierlik?) moontlik was. Maar Vettie was one of a kind. En as Vettie-liefde dan nou nie vir my bestem is in hierdie lewe nie, is dit ook okay. Ek het genoeg ander soorte liefde om my tien lifetimes te hou.

Ek kry vandag 'n sms van 'n vriend wat hoor of ek nie wil kom aandete eet nie. Nee, sms ek terug, ek het nie tyd nie, ek móét vanaand iets skryf vir Takeovines. Ja, Takeovines. Tik bietjie die woord "Valentines" in predictive text op jou (Nokia) selfoon in. Die woord wat verskyn is "Takeovines". Takeovines Day. Nogal gepas, het ek gedink. Ek is seker daar is vele eensame/verliefde/skamerige/jagse siele who take to the (fruit of the) vine op hierdie vreemde en wonderlike dag. Elk geval. Soos ek alreeds genoem het, ek is steeds nie seker of ek kwalifiseer om hier en nou allerhande wyshede en diepgeite oor Die Liefde te probeer kwytraak nie. Want in alle eerlikheid weet ek nie of ek Die Liefde (Tussen 'n Man en 'n Vrou) sal herken as dit in 'n pienk tutu opdaag en my aan die gat byt nie.

Maar, vir wat dit werd is: Happy Takeovines, Vettie. Hierdie een is vir jou. Eendag gaan ek sonder trane oor jou kan skryf.



LitNet: 14 Februarie 2005

Wil jy reageer op hierdie rubriek? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.