Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Liewe lesers

Stop die têksie!

Al ooit ’n dag beleef waarin als van sonop tot sonsak verkeerd gaan? Wel, vandag was dit so ’n dag vir my en my hare staan nog steeds so regop soos uitgedroogde doringnaalde op my kop.

Vanoggend het ek met die geluid van duisende klippe wat op my ou huisie se sinkdak val, wakker geskrik. Van dink dat ek weer terug is in die ou dae toe mense windskeef klippe en goed na die polisie gooi en motorbande in strate brand, spring ek op en rol met komberse en al onder my katel in. In die ou dae was my slaapplek onder my kooi. Net vir ingeval ’n verdwaalde klip of koeël ’n wye es gooi en ek morsdood in my bed kom kry word.

Daar lê ek toe met bonsende hart en wonder wanneer die gedruis gaan ophou. Net om agterna te besef dat dit ’n reënstorm is wat buite woed. In my allenigheid moes ek van skaamte vir myself lag toe ek onder die kooi uitkruip. Die hele gedoente het my dag bederf en ek is sommer net daar vies oor die weervoorspelling wat van sagte reënbuie gepraat het en my nie teen die storm gewaarsku het nie. Ek meen, wat as my hart van banggeit gaan staan het terwyl ek nog onder die kooi was?

Natuurlik was ek laat vir die vervoer stasie toe. Toe ek pootuit by die stasie kom, was ek net betyds om die stertkant van die trein totsiens te waai. Maar, het ek myself gerus gestel en op my horlosie gekyk, ek sou dit darem net-net maak om betyds by die werk kom.

Ek stel myself nog so gerus, toe die aankondiging oor die luidspreker kom: “Aandag, asseblief. Die vyf-voor-sewe-trein vanaf Eersterivier na Kaapstad is ingetrek. Ons vra om verskoning vir die onderbreking ...” Verskoning se voet in ’n visblik! Ek sit nog met dissiplinêre stappe teen my oor ek weens onderbreking twee weke gelede ook laat was. En al het ek die railway se nommer vir my toesighouer gegee, wou sy niks verstaan nie.

Al my laatkommery by die werk is die railway se skuld, woed dit deur my gedagtes terwyl ek die onrustige pendelaars dophou.

“Ek wonne of die blerrie railway my ’n job ga’ gie!” brom ’n vrou digby my. Ek steur my nie aan haar nie. Ek het my eie probleme. Soos ek die ding sien, sal ek vyftien minute laat wees. Nes al die ander kere toe die trein onverwags ingetrek is.

Maar die vrou is bad luck gebore, want haar woorde is skaars koud, toe kom dit oor die drade van die luidspreker: “Aandag, asseblief”. Almal is meteens doodstil en luister met kommer na die aankondiging. “Die tien-minute-oor-sewe-trein vanaf Muldersvlei na Kaapstad loop ongeveer twintig minute laat. Ons vra om vers-...”

Pandemonium bars los. Dit vloek en skel rondom my dat my ore suis. Mense hardloop heen en weer oor die stampvol perron asof hulle die trein self wil gaan haal van waar dit ook al is. My maag bokspring elke slag as my derms stywer inmekaarstrengel van pure kommer en senuagtigheid. Ek kan al my toesighouer se streng gesig voor my sien.

Toe die trein uiteindelik die stasie intrek, is my lyf net een groot bondel geknoopte derms en senuwees. Om als te kroon, moet ek nog in die oop deur van die stampvol trein vanaf Blackheath tot in Bellville staan. Een geluk is dat die mans hul arms om my het. Net om seker te maak dat ek nie buite onder die treinwiele beland nie. En vir die eerste keer in my lewe gee ek nie om wie aan my lyf vat nie.

In Bellville gekom, is ek net so onbeskof soos al die ander haastige mense, en druk my pad rof voor my tussen die skare oop om by die bushalte te kom. By die stasie uit, en oor die pad gehardloop, sien ek nie ’n dooie bus nie. Die wit taxi wat Mowbray toe gaan, trek net weg toe ek dit sien. En toe hardloop ek sonder om links of regs te kyk. My oë is op die taxi — my enigste hoop om by die werk te kom. En met elke tree skree ek my mangels uit: “Stop die têksie! Stop die têksie! Yimise! Stop dit!”

Toe die Xhosa-woord uit is, fluit almal soos een man om die taxi te stop. Die bestuurder hoor hulle, stop en maak die deur oop. En sonder om te kyk wie die bestuurder is, val ek soos ’n nat patat in, en ons is op pad. Ons sit vyf op ’n sitplek wat vir vier bedoel is. En op pad laai die bestuurder nog meer mense op, en almal is te gretig om in te klim. Op ’n slag probeer ek die koppe om my tel, maar toe ek al by sestien kom en daar nog ’n paar bo-op mekaar se skote sit, gee ek moed op en begin bid.

Ek kon toe nie anders as om te bid nie. Ek meen, ’n berg van ’n vrou klim in en sit my amper dood! Regtig. My grote lyf is toe onder haar dikke lyf en koffers en goed. Die taxi is veronderstel om net ’n maksimum van vyftien mense te neem. Ek weet, want toe ek ’n slag my kop onder die voue van die vrou uitwikkel om asem te skep, het my oog op die drukletters hoog bo die ruit van een venster geval: Maximum 15 passengers.

Dis toe daar nog ’n passasier in Modderdamweg opgetel word en die deur nie meer kan toe nie, dat ons almal begin te skel. “Jasou,” skree iemand benoud iewers van die deur se kant af, “ ’n mens kan darem nie só uitgevreet wees vir geld nie. My stêre hang buitekant vir onnodige fresh air van dié dat die ding vol is, en ek moet nog volprys betaal!”

“Die busse is op strike, maar jy’s free om uit te klim, my bra!” skree die bestuurder vererg. Niemand klim uit nie. Almal wil by die werk kom. Almal brom kliphard. Ek kry nie kans om te brom nie. Ek hyg na asem onder die groot vrou soos my longe met elke draai van die wiel al platter en platter gedruk word.

Toe die bestuurder die gekerm nie meer kan verdra nie, draai hy die musiek volstoom dat my brein op die maat daarvan doef-doef in my skedel rondruk. En ry hy vinnig! Later bid ek nie om verligting oor die sitvlak op my bors en gesig nie. Ek bid om lewendig by die werk te kom.

By elke stilhouplek skree die bestuurder bo-oor die oorverdowende musiek waar ons is. Uiteindelik in Heideveld gekom, moet ek die vrou ’n paar harde knype gee om onder haar uit te kom. My bene voel soos pap jellie toe ek uit die taxi klim en tot by die bestuurder se kant loop om hom vir die rit te betaal. Dit is mos met die betaalslag dat ek na hom kyk, en net daar onder my kleingeld uit hardloop.

“Luister bietjie hier,” hyg ek toe ek sonder om te klop by my toesighouer se deur inbars. “Jy kan jou werk vat en dit sit waar die son nie skyn nie. Ek bedank!”

Sy gaap my met wyd gerekte oë aan, maar daar is geen keer aan my nie. “Ja, rek jou oë! Asof dit nie genoeg is dat my longe na hul maai toe plat gedruk is nie, moet die drywer ook nog kom staan en neuk! Ek het nou net al die pad van Bellville af gery saam met ’n maniak sonder bene wat sy krukke gebruik om die petrol en brakes te trap!”

Sterkte

Dido

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.