Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Liewe lesers

Sondela — kom nader

Die grootmense het hom Teacher Sondela genoem. Of dit sy regte naam of van was, het ek nooit uitgevind nie. Vir almal was hy net Teacher Sondela wat met sy sieklike ma in ’n huis in ons woonbuurt gebly het en by een van die nabygeleë laerskole onderwys gegee het. Miskien was dit ’n bynaam. Deur die week het hy altyd in sy swart pak en spierwit hemp met aktetas in die hand met die uitgetrapte voetpaadjie die heuwels in gestap. Skool toe. Vanaf Vrydagnamiddae tot Saterdagaande was hy altyd in ’n uitgebleikte blou denimbroek en swart T-hempie (wat hom nog donkerder laat lyk het) uitgevat. Dan was hy altyd smoordronk.
    Hy was lief vir dans. Net as hy dronk was. En as hy sy dun, regop lyf op die maat van die musiek so rondgegooi het, het hy sy arms in ’n winkbeweging geswaai en geroep: “Sondela sithando!” Kom nader, liefling. Hy het dit geskree al het daar ook reeds iemand met hom gedans. Maar almal het van hom gehou, want diegene wat gedrink het, het altyd geweet dat hy drank sou hê. En hy was nie ’n moeilikheidmaker nie. Hy het net een probleem gehad. In sy dronkenskap het hy altyd na ’n potsoi-huisdans gesoek. Vir hom het dit nie saak gemaak waar dit was of hoe ver dit van sy huis af was nie. Hy het daarheen geloop. Niemand het karre in die woonbuurt gehad nie.
    En toe hoor hy die Vrydag dat daar ’n potsoi in die Mission is. Teen skemer val hy toe slinger-slinger in die pad om die drie myl af te lê. Die plek lê buitekant die dorp en verby die begrafplaas.
    Douvoordag die Saterdagoggend klop iemand hard aan ons deur. Almal het altyd eerste by ons aangeklop oor ons huis die eerste tussen die dorp en die woonbuurt was. Pa het die deur gaan oopmaak, en Teacher Sondela het in sy arms geval. “Water! Net ’n bietjie water!” het Teacher Sondela gesmeek. Hy was vuil en vol rooi grond. Daar was gras in sy hare. Sy broek en T-hempie was plek-plek geskeur en sy oë het wild in sy kop gestaan. Hy het na pie gestink en was houtnugter.
    Toe Pa hom die glas water gee, het hy dorstig gedrink. Nes iemand wat ’n groot babelas agter die blad het. Hy het nog water gevra en Ma het ’n klomp suiker by die water gegooi, dit geroer en vir hom gegee. Hy het dit ook gedrink terwyl Ma en Pa wou weet wat gebeur het.
    Al wat Teacher Sondela kon uitkry, was: “Soze ndi phinde!” Ek sal nooit weer nie! “Nooit weer sit ek ’n druppel drank oor my lippe nie!”
    Na die vierde glas water kry hulle dit eers uit hom. Hy was by die potsoi in die Mission. Tot twee-uur. Hy en die musikante het die hele aand aan ’n bottel brandewyn gedrink. Toe het die konsertinaspeler te dronk geraak en getiep, en hy wat Teacher is, het toe maar in die pad geval. Huis toe. Toe hy so ’n ent gestap het, het daar ’n kar langs hom stilgehou. ’n Swart Dodge. Die drywer het hom beveel om in die kar te klim sodat hy by die huis kon kom. Hy’t toe maar ingeklim en was te bly oor die geleentheid. Hy het probeer om met die bestuurder te gesels, maar dié se kop was weg van hom gedraai. Hy het nie eens op die pad gekyk waar hy ry nie! Maar die kar het op die pad gebly.
    In die ry het hy benoud begin raak, want hoe verder hulle ry, hoe nouer het die kar geraak. Later lyk die kar toe nes ’n kis. Toe hy die drywer daarop attent wou maak, is dié skoonveld. Soos mis verdwyn. En die kar het nog steeds gery. Sonder bestuurder. Van pure skrik en banggeit het hy hom net daar nat gepis en wou die deur oopmaak om uit te spring. Maar elke slag as hy aan die handvatsel van die deur geraak het, het die kar net vinniger gery. Tot voor sy ma se huis. Toe het die deur vanself oopgegaan en hy het uitgeklim. Toe sien hy dat dit nie sy verbeelding was nie. Die kar het in ’n doodskis verander. Hy het die huis ingevlieg en met nat broek en skoene en al in sy bed gaan lê en gebid dat dit alles net ’n droom moet wees.
    Die koue het hom in die vroeë oggendure wakker gemaak. In sy slaap moes die komberse seker van hom afgeval het. Hy het op die vloer na die komberse gevoel, maar niks gekry nie. Net grond. Harde, klipperige grond en gras. Hy het sy oë oopgemaak en van skrik homself vir die tweede keer nat gepie. Hy was nie op sy bed nie. Hy het die hele tyd op sy pa se graf gelê.

Sterkte

Dido

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.