Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Liewe lesers

Oom Koos se rykdom

Dié dag staan ek in die klerewinkel en draai my sente eers hiernatoe, dan soontoe terwyl ek besluit of ek regtig die pragtige swart rok gaan koop. Dis ’n mooi rok, en toe ek dit aanpas, lyk ek sommer ’n ton maerder daarin. Later het ek die rok in my hande, en wens hardop dat ek genoeg geld kan hê om enigiets te koop wat my hart begeer.
    ’n Ou vrou tik my op die skouer en berispe my vir die wensery. “Nee, tjint. ’n Mens vra nie vir die onmoontlike nie. More, oormore kry jy waarvoor jy vra, en sit dan met die wêreld se droewiggeit opgeskeep. Nes my oom Koos.” Toe sy die naam noem, gee sy ’n swaar sug en vee oor haar oë wat vir my baie ver van betraand af lyk.
    My voornaam is Nuuskierig en ek wil weet wie die man is en watter droefheid hy beleef het. Die ou vrou het lus vir praat, en ek hoor als sommer net daar. Sy praat tussen swaar sugte deur en vee elke keer met haar spierwit sakdoek oor haar oë soos sy na die trane soek. Maar die trane bly weg.
    Haar oom Koos het in die Transkei geboer. Op ’n familieplaas wat hy as oudste seun van oorle oupa geërf het. Dié plaas het aan haar pa s’n gegrens. Oom Koos was nie eintlik vir boerdery uitgeknip nie. Hy was ’n dromer. Hy het elke dag agter sy hakskene gesit en toekyk hoe die plaas maar vir homself boer. So af en toe het hy homself gelig en van sy vee verkoop. Die geld het hy in ’n bliktrommel onder ’n doringboom op die grens van die twee plase begrawe. Nee, daai tyd het mense nou nie eintlik ’n vattigheid aan banke gehad nie. Oom Koos ook nie. Hy’t elke slag sy geld gaan opgrawe en vir ure lank daaraan gesit en tel, en dit dan weer onder die grond gegooi. Anyway, eendag toe die eerste swaar ryp van die winter val, toe is die plaas uitgeboer en word dit onder sy neus uit verkoop.
    “Ja,” sug die vrou en kyk na my. Om seker te maak dat ek nog na haar luister. Ek doen dit, maar wens dat sy tot ’n punt moet kom. “Ek weet van als, want ek was al opgeskoot en het vir Ma op die plaas gehelp. Ons kon nie ’n meidjie bekostig om in die huis te helpie. Waar was ek? O ja. Oom Koos het toe by Ma-goed ingetrek. Hy was agterall haar oudste Boeta, en ons bruin mense staan mossie familie affie.”
    Toe die kleur in die gesprek kom, wil ek eers wegstap, maar my nuuskierigheid hou my net daar. “Anyway, hy’t sy intrek by ons gemaak, en vir ’n fine cheek moes ek my kamer vir hom afstaan en op die vloer in die voorhuis gaan slaap. Ma wou mossie hê dat ’n mens ’n lêplek van haar rooi sittee maakie, en ...”
    Ek val haar in die rede en sê ek wil van haar oom weet.
    Nee, vertel sy langdradig, hy’t dag in en dag uit op die stoep vir geldjies gesit en wens sodat hy weer sy plaas kon terugkoop. Elke slag as Pa hom by die plaaswerk inspan, is hy te besig om te sit en dink. Toe die winterkoue op sy ergste byt, toe sit oom Koos sy wensery voor die kolestoof voort. Dis mos tussen al die wensery dat daar op ’n dag ’n dokter sy bont komberstent net buite die plaashek kom opslaan het. Die man was nou nie ’n regte dokter nie. Hy was van daai soort wat agter elke bossie uitduik. Van daai soort wat tiervelle dra en dolosse gooi om jou fortune vir jou uit te lê. En hy spesialiseer net in een ding. Om mense ryk te dokter. As hy sy dolosse laat praat, betaal jy ’n pond. As hy jou dokter, moet jy eers twintig pond neersit. Dit het ons als by oom Koos gehoor, want die man was skaars daar, of oom Koos was by hom.
    Toe Pa die dag teen skemer by die huis kom, toe kan oom Koos van pure opgewondegeit bars. “Swaer Klaas,” sê hy toe net so vir Pa. “My turn het gekom! Die swaarkrydae is verby! Oormore koop ek my plaas t’rug. Joune ook! Jy moet net sê hoeveel jy vir die stuk nikswerd kleigrond vra. Oormore is dié Koos Konyn ’n geldgat!”
    Pa vererg homself net daar en bulder oor sy plaas ’n stuk klei is. “Koos, staan soontoe met jou simpelgeit! Daai man met sy gladde bek en teenmekaar oge is die grootste liegbek wat ek al ooit teëgekom het. G’n mens kan jou ryk dokterie. As jy jou stêre lig en ’n bietjie werk, sal jy miskien eendag ryk raak. As jy jou geld wil wegsmyt, neuk dit na my kant toe!” Ma beaam als wat Pa sê, maar oom Koos is min gepla. Hy is fluit-fluit na my kamer toe sonder dat hy geëet het.
    Vroegoggend is oom Koos met ’n graaf die veld in. Toe hy die veld in verdwyn, skree Ma na Pa waar hy ’n entjie van die huis af aan die waterpyp werk. “Jirre, Klaas, Boeta gaan al sy geld opgrou en dit vir daai skelm gaan gee! Doen tog iets!”
    Pa kyk ’n slag na die watergat se kant waarna oom Koos verdwyn het, skud sy kop en skree terug. “Sallie helpie, vrou. Dis sy geld en hy kan daarmee maak net wat hy wil. Maar hy sittie weer sy dêm pote onder my tafel as hy daai trommel vol geld vir daai skelm gaan gee nie!”
    Oom Koos moes seker vir Pa gehoor het, want ’n rukkie later loop hy gebukkend met die trommel onder die blad na die komberstentjie toe. Hy kom eers teen skemer terug. Sonder trommel. Hy verduidelik dat die geld net mooi genoeg vir die dolosse en die behandeling was. En toe gee hy sommer die trommel vir die man as pasella. Die ding was in elk geval te geroes. Hy gaan vir hom ’n groot kis koop om die geld wat hy gaan kry, in te begrawe.
    Teen soppertyd sit ek en Pa en Ma om die kombuistafel en wag op oom Koos sodat ons kan eet. Maar hy is by die kolestoof besig. Met hande vol kruie wat hy so bietjie vir bietjie oor die rooiwarm kole gooi. En elke keer as die kruie net aan die kole raak, dam die stink donker rook uit die stoof uit, en buk oom Koos daaroor. En as hy so vooroor buk en die stink goed inasem, prewel hy: “Geld. Ek wil hê. ’n Duisend pond, maar meer as dit ook welkom.”
    Die hele kombuis met huis en al is later toe van die rook. Pa was eers stom, maar toe hy die asem terugkry, toe gryp hy oom Koos aan die nek, en druk hom rof by die agterdeur uit en vloek hom dat my arme ore nou nog tuit. Ons drie het maar later op die voorstoep by die lanternlig ons sopper gaan eet. In die koue. Pa het die hele huis se vensters oopgevlek om die stink reuke uit te kry.
    Ons is nog besig om te eet, toe oom Koos om die huis se hoek aangestap kom. Hy het sy enigste swart pak Sondagklere aan. Met ’n groot mudsak onder die arm. “Nee,” sê hy toe Ma vra wat hy met die sak gaan maak, “dis vir die geld. Ek het niks groter nie. Julle moet julle ’n bietjie lig en daai man gaan sien oor julle so swaarkry. Dis deur toordery dat ek my plaas verloor het. Daai man het my als uitgelê. Maar ek moet sê: hy is goed! Ek het hom niks vertellie, maar toe hy sy dolosse gooi, toe weet hy te vertel dat ek geld nodig het. En ek gaan dit kry! Vanaand nog. Hete, met al daai medisyne voel ek sommer ’n splinternuwe mens! As daai man eerder gekom het, het ek nou nog my plaas gehad, en sou ek nie lat julle my soos ’n loafer by julle agterdeur uitneukie. Toe maar, ek sal my oor julle ontferm en julle uithelp waar ek kan.”
    Pa gee ’n onbeskofte snork, en Ma gee ’n lang sug. Net daar vererg oom Koos hom vir hulle. “Ja, snork en sug maar al wat julle kan! Dié ekke gaan nog julle bekke oophou as julle niks meer hettie! Ek het julle in elk gevallie meer norraggie. Ek gaan nou die vier myl na die kruispad toe afsit, en presies om twaalfuur vannag in die middel van die kruispad sit en my geld kry. Sien net of ekkie more die rykste man in die kontrei issie! En julle beter daar na die stalle toe trek, want as ek t’rugkom, gaan daai dokter hier kom en my met die boerdery help. Klaas, dink maar solank hoeveel jy vir jou grond wil hê!”
    Pa se bokbaard bewe eintlik van viesgeit toe hy opspring en van die stoep af loop en in die donkerte verdwyn. Ma vee trane met die punt van haar bont voorskoot af. Ek sit en wonder of oom Koos darem ’n pond of twee in my hande gaan druk oor ek my kamer aan hom afgestaan het. Daai aand het ons vir die eerste keer in my lewe ook nie eens boekegevat nie. Pa was te kwaad, en sê later dat ’n mens nie vies-vies aan ’n Bybel mag vat nie.
    Die volgende dag is oom Koos nog nie terug nie. Pa doen los werkies om die huis en tuur so nou en dan in die rigting van die kruispad. Ma ook. “Ja-nee,” sê Ma op ’n slag, “daai vreksel het seker die geld gekry en land uit geneuk! Hy sallie eens dink om sy eie vlees en bloed ’n sent in die hande te stoppie. Klaas! Net vandag torring jy die matras los en haal der laaste pennie daaruit en gaat sien daai dokter!”
    Pa se oë is nog steeds op die grondpad toe hy haar antwoord. “Nee, Meide. Dit sallie helpie. Daai man is seker saam met Koos land uit. Hulle het dit seker beplan, want toe ek douvoordag daar by die hek langs was, was hy met komberstent en al skoonveld. Maar wag, doer kom’n ryding aan. Moet toggie sê dat Koos so bedonnerd was om vir hom ’n ryding te koopie!”
    Ons gaan staan op die stoep om beter oor die verte te kan sien. Toe die ding nader is, sien ons dat dit die polisiewên is. Ma dag toe dat hulle al die pad van die dorp af gekom het om te kom uitvind waar oom Koos aan al die geld gekom het. Toe die polisieman uitklim en groet, roep hy vir Pa eenkant en fluister iets vir hom. Pa fluister weer iets vir Ma. En toe ek weer sien, toe val Ma in’n dooie floute bo van die stoep af.
    Die stukkies en brokkies het ek later bymekaargesit toe Ma bykom. Die polisieman was op patrollie toe hy op oom Koos afkom. Hy’t in die middel van die kruispad aan ’n leë mudsak gesit en vashou. Stokstyf verkluim en morsdood.
    Ek is só verslae oor hoe oom Koos aan sy einde gekom het, dat ek vir ’n oomblik geen taal het nie. Maar die ouvrou het nog lus vir gesels. “Weet jy, tjint, Ma het só oor oom Koos gerou, dat sy van daai dag af net swart rokke vir die hele kontrei gemaak het. En ...”
    Dis mos toé eers dat ek sien dat die vrou ’n swart rok aanhet. Só vinnig het ek ’n rok nog nooit terug op die hanger geplaas en by ’n winkel uitgeloop nie.

Sterkte

Dido

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.