Pop se gedagtesArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Funk en nóg in dié fabriek van musiek

Chutney de Ridder

Ek dwaal ingedagte tussen die rakke rond en bevind my eensklaps in Edgars se vroue-onderklere afdeling. Dis toe dat my selfoon lui en die onbekende stem aan die anderkant homself as Struan voorstel en vra of ek Mikanic ken.

Ek dog eers die ou soek iemand om sy motor te diens en het dalk die verkeerde nommer geskakel. Maar dan laat val hy die name van Mike Rennie en Nick Turner, eintlik lede van Sons of Trout, maar as duo vorm hul name Mikanic. Die groep is ’n aweregse akoestiese tweeling wat funk, soul en reggae met só ’n groot skepsel Afrika-ritmes vermeng dat mens dit seker onder wêreldmusiek kan klassifiseer.

Die etiket doen egter nie die briljante kombinasie enige gunsies nie, so kom ons los dit. Dis ’n belewenis om hulle in aksie te sien — wêreldgehalte, sonder twyfel — en toe Struan my na hul optrede by die SABC in Kusweg, Seepunt, nooi en boonop byvoeg dat die vertoning opgeneem en op CD uitgereik gaan word, was ek in my motor voordat jy kon sê Playtex Cross Your Heart Bra.

’n Kort agtergrond voordat ek kom by wat sou uitloop op die beste verhoogoptrede wat ek nog, in my ganse verbintenis met die musiek-bedryf, gesien het.

Die opnames in die SABC-ateljee staan bekend as Wonder Gigs en die projek word deur die Afrika-musiek-webruimte www.afribeat.com gereël.

Voor Mikanic se aand van glorie was daar reeds sewe opnames, onder meer Jimmy Dludlu, Robbie Jansen, Blk Sonshine, Ernestine Deane (beeldskone sangeres van Moodphase 5ive) en Golliwog.

Struan sê nog opnames gaan volg — hy wil Kaapse hip-hop bietjie blootstelling gee. So gaan besoek die webruimte, kyk wie speel en geniet ’n heerlike aandjie met eet- en drinkgoed en eersteklas-talent.

Terug by Mikanic. Ek het hulle nou al vyf, ses keer in aksie gesien. Die aand was iets besonders. Die beste vertoning van enige groep wat ek al op ’n verhoog gesien het. (En ek het net bruiskoeldrank die aand gedrink, want ek moes bestuur.)

Mike op viool (en onbeperkte stem) en Nick op akoestiese kitaar (en ewe-onbeperkte stem) is bygestaan deur die skitterende Schalk Joubert op baskitaar en ’n snaakse kragapie agter die tromstel, wat ek toe agterna uitvind bekend staan as Riaan van Rensburg.

Naam lui nie ’n klokkie nie? Wat van Johan van Rensburg? Nog nie? OK, dead give-away: Musiekfabriek! Jip, reg geraai. Dis daai ou wat die dromme speel in die Noot vir Noot-orkes, seun van Johan, leier van die groep, en Rina Hugo — ja tannie, Rina, die sangeres.

Nou ja. Ek sluk my woorde. Nooit weer sê ek iets snaaks oor die Musiekfabriek nie. Riaan van Rensburg is volgens my een van die top-perkussiekunstenaars in Suid-Afrika. Die ou is eenvoudig briljant! My bek het oop gehang. Kyk, hy mág maar die tromme speel.

Voeg hierby die sielvolle stemme van gaskunstenaars soos Ernestine van Moodphase 5ive, die grande dame Sylvia Mdunyelwa asook Mike Hardy (Sons of Trout) op stem en saksofoon, Jamie Cloete op bekfluit en Lee van Golliwog op trompet en jy het ’n kombinasie wat bloot eenvoudig as wêreldklas beskou kan word.

Dus: as julle êrens die Mikanic-CD raaksien, koop dit sonder om twee maal te dink. Die opname is in ’n eersteklas-ateljee gedoen, die ou wat so hard gil tussen songs is ek.
Vir navrae oor die CD, stuur e-pos aan Struan by info@afribeat.com — jy sal nie spyt wees nie!

Die rubriek “Pop se Gedagtes” verskyn elke Maandag in die bylae JIP en word met vriendelike vergunning van Die Burger redaksie hier gebruik.

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.