Pop se gedagtesArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Feite en goeie berig nie altyd maats

Chutney de Ridder

Sommige joernaliste glo dat feite nie in die pad van ’n goeie berig moet staan nie.

So iets kan die leser soms kwaai ontstig. Veral as die leser sy naam in ’n berig sien, maar geen benul het wat dit daar soek nie. En des te meer as die leser ’n bekende kunstenaar is — iemand soos Koos Kombuis byvoorbeeld — en nou moet hy lees dat hy genooi is (en aanvaar het) om aan ’n groot Afrikaanse musiekfees deel te neem.

Só lees ek nou die dag in ’n Sondagkoerant oor ’n beplande musiekfees op die geskiedkundige lappie grond waar die Slag van Bloedrivier plaasgevind het (in KwaZulu-Natal, soos ons die provinsie deesdae ken).

Niks eienaardigs daaromtrent nie. ’n Gros groot name is onder die genooides — die einste Koos, David Kramer, Dozi, Steve Hofmeyr en Sonja Herholdt.

Klink heel goed, ofskoon ek dit nogal vreemd gevind het dat Koos (en David, vir wat dit saak maak) sou instem om deel te neem aan ’n fees wat deur die Afrikanerbond gereël word en gehou gaan word by ’n redelik omstrede plek.

Ek meen, nie een van die twee kunstenaars gee hulself uit as politieke diertjies nie, maar ’n mens kry die gevoel dat ’n fees soos dié op ’n plek soos dié dalk ’n raps te veel gevra is van die twee.

Dít daar gelaat. Luidens die berig dreig ’n regse groep met die oulike naam Dogter van Sion om die musiekfees in “bloedvergieting” te dompel as dit sou voortgaan. Hul sannas is gerig op die “Afrikanerskuim” wat hulle as vermaaklikheidskunstenaars voordoen. Dis nou op mense soos Koos-hulle.

Sit jul voete op hierdie “heilige grond”, waarsku die Sionsbende, en ons beskou dit as ’n oorlogsverklaring teen die Boerevolk.

Stom van verbasing bel ek vir Koos om agter die kap van die byl te kom. Ek spoor hom op in Namibië, waar hy tans op toer is.

Nee, hy het die berig gelees. En dis van alle waarheid ontbloot, verduidelik Koos. So omgekrap is hy dat hy aan die koerant ’n brief geskryf het om hom van die musiekfees te distansieer.

Koos verduidelik darem dat die Afrikanerbond net so knorrig is oor die berig. Dit blyk dat daar bloot op ’n vergadering genoem is dat so ’n fees beplan moet word. Die idee was om geld in te samel vir die historiese (of is dit dalk histeriese) stukkie grond.
En toe lees iemand die notule van die vergadering, tel twee en twee bymekaar, maar kom by die verkeerde antwoord uit. Vandaar die feitefoute en die “lekker storie” oor ’n fees wat nie bestaan nie.

Kom ons praat dan eerder oor een wat wel gaan plaasvind. Eerskomende Woensdag neem die Hoër Jongenskool Paarl (“Boishaai” in die volksmond) weer die voortou in ’n volgehoue poging om Suid-Afrikaanse musiek te ondersteun.

Die Boishaai Onnerrikoppi Battle of the Bands begin om 5 nm. op die skool se terrein en tien groepe sal meeding om ’n lekker vet wentjekkie. Benewens groepe van HJSP, sal musiekmakers van die Hoër Meisieskole Paarl en La Rochelle, en die Hoërskole Stellenberg, D.F. Malan, Tygerberg, Worcester-gimnasium, Montana en die Pionierskool ook deelneem.

Die gewilde 5 Star Society is die geleentheidskunstenaars. Hul CD Place of Adoration is pas uitgereik. Verversings sal te koop wees en kaartjies kos R15 vir leerlinge en R25 vir die res.

Die rubriek “Pop se Gedagtes” verskyn elke Maandag in die bylae JIP en word met vriendelike vergunning van Die Burger redaksie hier gebruik.

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.