Pop se gedagtesArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Iemand het weer ’n halfgerookte stompie opgetel

Chutney de Ridder

Dis tyd vir ’n lente-opruiming, dink ek nou die dag, en as die bui my pak, moet ek nie twee keer dink daaroor nie.

So kom ek toe af op ’n ou kasset van ’n onderhoud wat ek met Arno Carstens en Theo Crous van die Springbok Nude Girls gevoer het, destyds in De Akker op Stellenbosch, kort voor hul CD Relaxzor die lig gesien het. Bykans tien maande het intussen verloop. En skielik loop die gerugte soos vuurwarm spoke in houtklompe. Só dat jy hulle van dáár kan hoor aankom.

Nou die snaakse ding van ’n gerug is dat dit gewoonlik op halwe of verdraaide waarhede gegrond is. Soos my vriend Kieme Kowalski altyd sê: “Iemand het weer ’n halfgerookte stompie opgetel.”

Die Springbok Nude Girls bestaan nie meer as groep nie. Die vyftal het uitmekaar gespat, of soos my pa-hulle jare gelede in Suidwes-Duits die verdoemende einde van iets aangekondig het: “Dis schluss, fertig und klaar.”

Hierdie Nude Girls-gerug doen geruime tyd reeds die ronde. Om die waarheid te sê, dis al glad as feit in koerante aangekondig, tot groot ontsteltenis van die groep se armada vurige ondersteuners. En tot groot ergernis van die wat van beter weet.

Nou ek wil nie vanoggend voorgee asof ek in laasgenoemde groep tipeer nie. Maar ek dink die doemprofete wat die Nudies se swanesang met soveel trompetgeskal aangekondig het, was dalk besig om die wa voor die perde in te span. Want ek vermoed ons het nog nie die laaste van die Suid-Afrikaanse top-groep gehoor nie. Trouens, ek het ’n paar gerugte van my eie wat ek met graagte onder julle wil versprei. En die gerugte, kan ek julle verseker, kom nie uit die mond van ’n vriend wat iemand ken wat toevallig een aand in ’n kroeg by ’n ander ou gehoor het van iemand wat gehoor hoe daar glo bespiegel is dat die Nudies geskiedenis is nie. As ek sê my bron is betroubaar, dan bedoel ek so betroubaar soos ’n Lukas van Biljon op haker vir die ander Springbokke, so betroubaar soos ’n Loslyf vir die ander Nude Girls.

Dus, moenie minagtend snork as ek beweer dat daar dalk voor die einde van die jaar ’n Nude Girls-CD op die rakke gaan verskyn nie. Moenie julle koppe in ongeloof skud as ek kwytraak dat die Nudies dalk voor die einde van die jaar ’n nasionale toer gaan onderneem nie.

Wat beteken die feit dat Theo en Arno deesdae as Crous & Carstens optree nou eintlik? Niks behalwe die feit dat twee Nude Girls as akoestiese of unplugged duo nog steeds mooi musiek kan maak nie. Wat beteken dit dat die groep meer as twee maande laas opgetree het? Niks behalwe die feit dat dit tyd is vir almal om asem te skep en te dink oor die moontlikhede wat die toekoms inhou vir die wat betrokke wil wees by die Nudies-projek nie.

Wie kan bepaal wat vorentoe gebeur? Miskien kry die groep ’n stewige borgskap van ’n gewilde rolspeler in die SA musiekbedryf; dalk is daar môre, oormôre planne vir ’n internasionale toer; dalk stuur die Nude Girls hul musiek in ’n totaal nuwe rigting ... die opsies is eindeloos, die toekoms is ’n uitdaging!

Een ding is seker: julle het nog lank nie die einde van die Springbok Nude Girls gesien of gehoor nie. En oor ’n week of twee vertel ek julle dalk die waarheid sonder enige gerugte!

Die rubriek “Pop se Gedagtes” verskyn elke Maandag in die bylae JIP en word met vriendelike vergunning van Die Burger redaksie hier gebruik.

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.