Pop se gedagtesArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Bieg /
Confess
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Feeste /
Festivals
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Kompetisies /
Competitions
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Nuwejaarsvoorneme

Chutney de Ridder

Ek was vas oortuig dat 2002 ’n jaar van hoogtepunte gaan wees. Trouens, so opgewonde was ek oor die vooruitsigte van die nuwe jaar dat ek myself oombliklik vergewe het dat ek my nuwejaarsvoorneme — om nooit weer Johan Stemmet se bordspeletjie Noot vir Noot te speel nie — verbreek het.

Die voorneme het skaars drie dae gehou nadat ek en ’n groepie nugter vriende (skynbaar ’n seldsame verskynsel om en by die 365ste dag van die jaar) om die hardekoolvuur staan en aftel het aan die laaste sekondes van 2001: “vyf, vier, drie twee, een!”

“Nooit, sê ek julle, nooit weer speel ek die bordspeletjie Noot vir Noot nie. Johan Stemmet kan maar sy vyftig randjies met die komplimente van Maksispaar of wie ook al in sy veelkleurige onderbaadjie se sak druk. Ek is klaar. Basta.”

Die woorde was skaars koud soos die vroe-môre-as van daai einste hardekoolvuur, toe sit ons weer gehurk om die sitkamertafel — ek, Brandslang, Varkie en Stil-Frik — oorgehaal vir ronde 23 van Noot vir Noot se kampioen-van-kampioene-uitdaagreeks.

Ou gewoontes sneuwel moeilik, my vredeliewende Jip-lesers. Kyk nou maar vir Brandslang. Hy het sy verloofde belowe om ontslae te raak van al dáái tydskrifte (en ek praat nou nie van Car Magazine nie, tannie) wat sy een oggend onder die matras in die spaarkamer aangetref het.

“Ek weet nie waar kom die goed vandaan nie,” het Brandslang probeer verduidelik, die skuld met groot, rooi hale oor sy gesig geverf. “Yea sure,” het vroulief gesnork. “Die gemors moet uit my huis. Sommer nou. Dadelik.” Nou bêre Brandslang dit maar by sy buurman.

Varkie sou ophou rook het. Dis nadat die polisie hom een aand betrap het waar hy en Rasta-Bob die “oeuvre van Bob Marley & The Wailers en die groep se invloed op die Uhuru-beweging in koloniale Afrika jukstaposisioneel bespreek het”.

Varkie, ’n vryskut-intellektualis, het nog altyd met groot woorde te koop geloop. Hy het die aand met ’n waarskuwing daarvan afgekom, maar ook maar net omdat Rasta-Bob ’n undercover cop is.

Stil-Frik het geen nuwejaarsvoornemens gehad nie. Trouens, Stil-Frik het nie juis veel gepraat daai aand toe ons almal plegtig ons plannetjies vir 2002 sit en beraam het nie. Dis maar Stil-Frik se styl. Hy het intussen by ’n gimnasium aangesluit, sy eerste halfmarathon afgedraf, rooivleis uit sy dieet gesny, sy naels met ’n naelknipper begin knip, al sy skuld gedelg en verlede Saterdag voor die landdros met ’n meisie getrou wat hy glo “al jare lank” ken.

Ek weet nou nie wat jul voornemens vir die jaar is nie, maar ek hoop dit is voorspoedig. Vir die skoolbanksitters — “daai matrieks daar agter in die bus!” — wens ek ’n goeie akademiese jaar toe, afgewissel met hope partytjies waarop julle plaaslike musiek sal speel. Vir die werkendes wens ek ’n stresvrye 2002 toe waarin die rand tot sy voormalige glorie sal herstel (OK, dis my siek grappie vir die jaar) en waarin julle ’n slag minder geld sal blaas op Britney en Backstreet Boys en meer op Valiant Swart, Kobus! en soortgelyke plaaslike produkte.

Volgende week vertel ek julle na watter nuwe produkte ek verwys. Nou sluit ek af, want die ouens roep: ronde 24 van Noot vir Noot wag en ek is met ’n kortkop voor. “Hei, meisiekind! Kyk hoe kyk sy vir my!”

Die rubriek “Pop se Gedagtes” verskyn elke Maandag in die bylae JIP en word met vriendelike vergunning van Die Burger redaksie hier gebruik.

to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.