Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

The ABSA/LitNet
Chain Interview

Die Ketting

Foto deur Philip de VosJohann de Lange is op 22 Desember 1959 in Pretoria gebore.
       Hy debuteer in 1982 met die digbundel Akwarelle van die dors waarvoor hy in 1983 die Ingrid Jonkerprys ontvang. Daarna volg Waterwoestyn (1984), Snel grys fantoom (1986), Wordende naak (1988) waarvoor hy die Rapportprys vir Poësie ontvang, Nagsweet (1990), Vleiswond (1993) en Wat sag is vergaan (1995). In 1996 maak hy sy prosadebuut met Vreemder as fiksie. Sy jongste kortverhaalbundel is Tweede natuur (2000). In 1997 stel hy 'n bloemlesing gay kortverhale saam getiteld Soort soek soort, en in 1998 'n bloemlesing erotiese poësie saam met Antjie Krog, Die dye trek die dye aan.
       Johann de Lange het ook die Pankratorprys en 'n Avanti-toekenning ontvang vir sy draaiboek oor die lewe van Ingrid Jonker ("Verdrinkte hande").

Joan Hambidge is ’n Afrikaanse digter, teoretikus, kritikus en professor aan die UK.
Die buigsaamheid van verdriet (2004) bevat ’n persoonlike keur uit haar digkuns. Sy het ’n roman, Die Judaskus, gepubliseer en drie parodiese romans: Swart koring, Die swart sluier en Sewe Sonjas en wat hulle gedoen het. Sy werk tans aan ’n roman getitel Kopiis, ’n parodie, Die swart akker, en ’n Engelse bundel, Adulteries. Verder aan ’n bundel oor haar vader: Dad. Sy is bekroon met die Eugène Marais-, Litera- en Institute of Africa-pryse vir haar digkuns en was ’n paar jaar terug met die roman Skoppensboer op die kortlys van die Insig/Sanlam-prys.
Sy behartig ’n reisrubriek, “Wegkomkans”, vir Die Burger en reis graag na eksotiese plekke.

Johann de Lange gesels met Joan Hambidge

1. In jou artikels en in jou laaste proefskrif meng jy teorie en skeppende skryf – teorie en praktyk as ’t ware. Hoe beweeg jy tussen die kreatiewe en die akademiese wêrelde? Hoe sien jy die wisselwerking tussen die twee?

Ek dink ek probeer onbewustelik hierdie grense afbreek tussen genres. Ek lees geweldig baie teorie en kritiek. En psigoanalise. Goeie letterkundige teorie, soos Harold Bloom of Derrida, kan ’n mens inspireer tot die skryf van ’n gedig. My akademiese reise is dikwels ook kreatiewe reise. Met my navorsingsbesoeke aan die VSA het bundels tot stand gekom. Hartskrif in ’n koue sneeulandskap in Connecticut waar ek Bloom se lesings aan Yale bygewoon en die voorreg gehad het om die fynste poësieleser, Geoffrey H Hartman, mee te maak. Hier was Johnson op besoek; sy het vir Paul de Man ingestaan. Met die eeuwending was ek te Harvard, waar ek Ruggespraak begin skryf het toe ek Garber en Johnson ontmoet het.

Om te snuffel in Harvard se biblioteek het my op baie tersaaklike inligting laat afkom. Sodanige kort reise na biblioteke van goeie universiteite met gesogte intellektuele is ontsettend lonend. So kon ek reis na Emily Dickinson se huis in Amherst, Massachusetts en Smith College besoek waar Plath studeer het. Ooskus-digters het ’n groot impak op my digkuns gehad: Robert Frost, onder andere.

Hier te Harvard het ek Robert Pinsky ontmoet, die toenmalige “poet laureate” van die VSA, en geweldig interessante gesprekke met hom gehad oor die digkuns. Die Amerikaanse digkuns is my modelle: Delmore Schwartz, John Berryman, Robert Lowell ...

Ek dig in Afrikaans, maar my aanslag is beslis anders as die tradisie waartoe ek behoort. Ek was dan ook die eerste vroulike digter wat die lesbiese tong losgemaak het, soos jy opgemerk het in die tagtigerjare. Om aan die onbehoorlike stem te gee en die blootstelling hiervan op jou rekening te neem. Ek skryf oor die impak hiervan in Die Judaskus. En in daardie tweede proefskrif oor gender-konstruksies.

Veral die invloed van psigoanalise, en meer spesifiek Freud, moet nog in my werk bekyk word. Ek is ’n student van die psigoanalise en nou onlangs merk iemand op: Jung was nie ’n student van Freud nie! Hy was, in die breër sin van die woord, al het hy later ’n afvallige geword en sy eie koers ingeslaan. Jung bewys Freud reg: dat die oedipale konflik wél bestaan.

2. Vertel my van jou werksmetode. Hoe skryf jy? Waar begin jy, hoe skaaf jy? Hoe verloop die skryfproses by jou? Is jy baie berekend, of meer intuïtief?

Ek skryf instinkmatig. My gedigte word herskryf, herdink, herbeleef. Soms loop die vers die ervaring vooruit ... Ek kry ’n impuls en dit word dan vers met die digter as ’n soort medium wat die impulse oordra. Hierna kom die slypproses, die herbesinning, die herdigting.

Ek hou al my manuskripte en bewaar dit (jaloers) in my studeerkamer en kan dit nog nie oor my hart kry om dit vir NALN te skenk nie.

Kritiese opmerkings (soos “jy skryf te veel”; “die gedigte maak ’n boekerige indruk”) inspireer my tot die skryfproses.

Dit was oa AP Grové wat daarop gewys het dat my gedigte in ’n bepaalde bundel ’n teoretiese probleem probeer oplos. Dalk is dit die soeke na die finale, allesoorrompelende gedig? Die volgende vers verskyn in Poetry International te Rotterdam se publikasie:

Travelling light (’n Ars poetica)
        (Uit: Tachycardia. Jutalit, 1990)

Pak ’n tas sonder illusies
of herinneringe – en die reis
is tevergeefs.

Probeer reis sonder fantasie
of drome – en jy kom
nêrens uit.

Skryf ’n opvoubare vers
met skamel ryme, ekonomiese
segging en almal voel:
sê meer, sê meer.

Laat die geliefde maar vertrek
ter wille van die allesoorheersende
krag genaamd poësie –
en net die muses het jou lief.

Tevergeefs die afsê,
dit bly soos littekens op die lyf,
uitgestal op papier.

Moeg van vele kere se liefdes-
verklarings aan net té veel minnaresse –
algar onbetroubaar
soos ’n waterkompas in die woestyn.

Te veel kere gedag ek is verlief –
te veel kere gedag ek verloor.

So sat van die soektog
in die droë panne van ontmoeting
en ontgogeling. Sending misluk.

Maar woorde gespreek (te veel,
te veel) vervals die emosie.

Woorde bly uit-gesproke –
kan nooit ongedaan raak.

(Trek terug. Trek terug.)
Die uiting bly. Net sy gaan
weg met woorde wat vertel.

Om weer my liefde te verklaar
gaan daardie “groot” emosie verfomfaai.

Die groot liefde
soos die groot gedig
bly my steeds ontglip.

Elke bundel “delete” as ’t ware die vorige een of is ’n herskrywing, herbesinning.

3. Watter temas keer jy telkens na toe terug in jou poësie? Vertel meer van die simbiose tussen reis en skryf in jou poësie.

Familie, dood, die digkuns, reis, portrette van digters en bekendes. Reis is by my ’n vorm van nuut kyk na die lewe om my en ’n verwerking van konflik. Ek is ’n rustelose, ongeduldige siel. Maar terselfdertyd ’n intellektueel wat hou van akademiese werk en resensies skryf.

Ek sien die digkuns as ’n (self)soektog. My verse verklap my ontwikkeling as mens: van jong persoon wat identifiseer met bekende figure en digters tot ’n meer erbarmlike mens wat kompassie het met ander. Deur dit alles loop die digkuns en die skryf van gedigte oor die digkuns soos ’n silwer draad.

Om te skryf, is om die ou self as ’t ware te kruisig.

Toe ek in Japan was, het TT Cloete opgemerk dat ek die verse ver loop haal het. Hoe verder jy reis, hoe nader kom jy aan jouself, paradoksaal. Hierom dat ek in En skielik is dit aand op die jeugervaringe ingaan: die jong self met littekens.

Ek verwerk – wel in die verlede ten minste – problematiese verhoudings of eindes.

4. Jy doseer onder meer ook kreatiewe skryf by UK. Kan daar van studente skrywers gemaak word? Toe jy destyds Opperman se literêre laboratorium bygewoon het, was dit nie as digter nie. Dink jy, in retrospek, dat dit enige invloed op jou latere ontwikkeling as digter gehad het?

Opperman se laboratorium het ek as kritikus meegemaak, maar ek hoor steeds sy aanwysings: vind ’n beeld en werk dit uit; sny, gooi uit ...

Jy kan nie van iemand ’n skrywer maak nie, beslis nie. Maar jy kan iemand met talent leer om af te rond, die “engel uit die klip te verlos” en beslis te leer dat jy ’n tradisie moet ken waarbinne of waarteen jy werk.

Ek het tans vier digters in my skryfkursus wat met soveel gedrewenheid werk en ontwikkel. Dis ’n demokratiese proses en my gedigte kom eweneens aan bod. Jy was daar, as ’n magtige aanwesigheid, en die kursus het al ’n Carina Stander opgelewer, ’n digter wat bereid was om haar oop te stel vir kritiek. Daar was ander talentvolle digters ook, en die huidige klas beloof om ver te kom.

Jy kan ook net dig as jy iets te sê het en dit emosioneel kan deurvoer. Die werkswinkels, Vrydae van drie tot laat, skei die kaf van die koring. Diegene met emosionele durf hou aan, voer deur. Ek gaan beslis ’n bundel publiseer met al my studente se bestes.

Dit werk soos groepterapie en binne so ’n klas ontstaan ’n bepaalde energie en dit is opvallend hoe mense later aan dieselfde kwessies aandag gee en vir mekaar ’n ruimte skep om op gevaarlike plekke in te gaan.

My prosastudente sien ek alleen. Met die digters werk dit in groepsverband: slyping, herskrywing, praat, kritiek, ondersteuning.

5. Jou poësie het van meet af aan gestaltes en tekste uit ander kulture betrek. Wat is die rol van verwysing in jou poësie? Waar lê jou skryfmodelle?

Wel, ek lees baie en ek dink Bloom “waarsku” dat die digter wat sy/haar skatpligtigheid (h)erken, meer oorspronklik is as die een wat dit wegsteek.
Alles kom uit die reeds-gesêde, reeds-geskryfde.

My gedigte is ingegee deur die postmodernisme, maar daar is tekste wat eweneens die oorspronklike lewe probeer verwoord. Ek dink hier veral aan my verse oor my vader en moeder.

My modelle? Waarskynlik Opperman en Van Wyk Louw. Ek bewonder Sheila Cussons se religieuse verse en die digkuns van John Stammers, ’n nuwe lig op die Britse toneel.

Ek keer altyd terug na Plath en Sexton.

En James Dickey. Pablo Neruda. Ek hou geweldig van jou gedigte en Johann Lodewyk Marais se verse. Johan van Wyk, Henning Pieterse se Boeddhistiese verse en Breytenbach se tronkverse spreek my aan. En dan is ek vol bewondering vir Totius en Cloete.

En Eybers.

Eveleen Castelyn en verlore digters ...

Waarskynlik is my gedigte, soos my resensies, polemies, ’n antwoord, ’n gesprek, ’n voetnoot, ’n kommentaar.

<< Terug na hoofketting <<


LitNet: 5 Julie 2006

Have your say! Send your feedback to webvoet@litnet.co.za.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.