Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
PoŽsie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

The ABSA/LitNet
Chain Interview

Die Ketting

Joan Hambidge is ’n Afrikaanse digter, teoretikus, kritikus en professor aan die UK.
Die buigsaamheid van verdriet (2004) bevat ’n persoonlike keur uit haar digkuns. Sy het ’n roman, Die Judaskus, gepubliseer en drie parodiese romans: Swart koring, Die swart sluier en Sewe Sonjas en wat hulle gedoen het. Sy werk tans aan ’n roman getitel Kopiis, ’n parodie, Die swart akker, en ’n Engelse bundel, Adulteries. Verder aan ’n bundel oor haar vader: Dad. Sy is bekroon met die Eugène Marais-, Litera- en Institute of Africa-pryse vir haar digkuns en was ’n paar jaar terug met die roman Skoppensboer op die kortlys van die Insig/Sanlam-prys. Sy behartig ’n reisrubriek, “Wegkomkans”, vir Die Burger en reis graag na eksotiese plekke.

Henning PieterseHJ (Henning) Pieterse is gebore op 8 Augustus 1960. Sy digdebuut, Alruin, verskyn in 1989 en word bekroon met die Eugene Maraisprys, sowel as die Ingrid Jonkerprys. In 1998 verskyn 'n bundel kortverhale, Omdat ons alles is. In 2001 neem hy deel aan "Dichters in het Elzenveld" (Antwerpen) en "Poetry International" (Rotterdam). Sy tweede digbundel, Die burg van hertog Bloubaard (2000), word in 2002 bekroon met die Hertzogprys. Later vanjaar verskyn sy vertaling van Rilke se Duineser Elegien. Hy is medeprofessor in die Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap, UNISA.

Joan Hambidge gesels met Henning Pieterse

1. Watter rol speel musiek in jou digkuns?

Musiek – my eerste liefde - is vir my die mees abstrakte kunsvorm, maar ek put baie daaruit vir gedigte: beelde ingegee deur klankkleure, tematiek rondom komponiste en spesifieke werke wat as basis dien vir verse. Strawinski se Le sacre du printemps was byvoorbeeld een van die bronne vir “Tollundman”; daar is ’n gedig oor Mozart (“Requiem vir ’n reëndag”) en oor Alban Berg se vioolkonsert, en Hindemith se Sinfonie: Mathis der Maler lê aan die basis van “Poliptiek” (al die gedigte staan in Alruin). In Die burg van hertog Bloubaard het ek werke van Messiaen (Quattuor pour le fin du temps), Sibelius en Pärt in gedagte gehad met die skryf van onderskeidelik “Kwartet vir die einde van die tyd”, “Swanesang” en “Canto”. Die Middeleeuse Carmina Burana sing ook saam in “Rei van my vrouens”. Met “Raga” het ek die loop van hierdie Indiese musikale vorm probeer naboots. Botoonsang (soos gevind in Nepal, Tibet en Mongolië) lei mens nog verder in abstrakte sfere in.

2. Hoe skryf jy ’n gedig?

Ek skryf baie moeisaam – skryf is vir my ongelooflik harde werk. Ek sal ’n gedig gewoonlik oor ’n tydperk van weke of maande skryf.  Daar kom gewoonlik ’n beeld, eerste of slotreël op wat ek dan bewerk en uitbrei. Mens kan dit seker ’n organiese proses noem: ek voed die onbewuste die heeltyd en op ’n goeie dag lewer dit miskien vir my ’n reël of beeld. Met Bekgevegte werk dit natuurlik anders – tydens die “swaargewig”-afdeling het jy tien minute om ’n nuwe gedig te skryf en daar leer mens om vinnig en reguit na die kern toe te gaan!

3. Dink jy die Afrikaanse kritiek het die Boeddhistiese verwysings in jou bekroonde Die burg van hertog Bloubaard raakgelees?

TT Cloete het in sy resensie van Bloubaard korrek op die (Boeddhistiese)  wysheidsaspekte van “Atisja en Dharmakirti” gewys. Na my wete het ander resensente nie die Boeddhistiese aspekte as sodanig raakgesien of kommentaar daarop gelewer nie. Die gedigte in Bloubaard met ’n spesifiek Boeddhistiese stramien staan in ’n afdeling wat verskeie gelowe of sienings betrek – onder meer die Christendom en die Boeddhisme.

4. Onthou jy die debakel rondom jou kortverhaalbundel en Tom Gouws se siening dat die omgekeerde gehangde man (uit die Tarot) sou dui op ’n flirtasie met die Bose?

Gouws het die omslag as ’n “heksepoot” gelees, ja, terwyl die simboliek van die gehangde man tog dui op vasgevangenheid in ’n situasie en, omgekeerd, op verlossing. Jy het destyds tereg genoem dat Gouws nie in staat is (hopelik was) om die teks te lees nie – hy lees net homself. Die debakel het daartoe gelei dat die boek twee keer in Beeld geresenseer is en die verkope was baie goed. No such thing as bad publicity! In elk geval: wat vir die een goed is, is vir die ander boos – dink aan die debakel rondom die “boosheid” van Sewe dae by die Silbersteins.

5. Het jy my al vergewe omdat ek ’n girlfriend van jou afgevry het in ons roekelose jong dae?

Heh heh, ek was nooit vir jou kwaad gewees nie. Eers ’n (effens gewysigde) aanhaling uit The Jew of Malta van Christopher Marlowe ((IV, 1):

Friar Barnadine:  “Thou hast committed ...
Barabas:            “Fornication ... but that was in another country;
                         And besides, the wench is ... well, uh, ... in another
                         country!”

Jy het destyds gesê dat ek maar meer kon teëgestribbel het oor die betrokke dame; my reaksie was dat jy nog sal sien ... en maande later het jy my kwalik geneem omdat ek jou nie voldoende gewaarsku het nie!

<< Terug na hoofketting <<


LitNet: 24 Julie 2006

Have your say! Send your feedback to webvoet@litnet.co.za.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieŽl nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ín onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.