Archive
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

The ABSA/LitNet
Chain Interview

Die Ketting

A H de VriesAbraham Hermanus De Vries is gebore op die plaas Volmoed in die distrik Ladismith; hy is ook die eerste ereburger van dié dorp. Hy behaal in 1962 Kandidaats en Doktoraal Litt et Phil aan die Gemeentelijke Universiteit, Amsterdam, Nederland, en in 1986 die D Litt van die Universiteit van Stellenbosch.
       Braam was van 1963-65 kunsredakteur van Die Vaderland in Johannesburg en is sedertdien 'n gerekende akademikus. Hy is die skrywer van 18 bundels kortverhale, 'n roman, 'n digbundel, drie reisverhale, drie speurverhale, en televisiereekse sonder tal.
       Pryse ontvang: die Nederlandse Reina Prinsen-Geerlig-prys, Eugène Marais-prys, Perskorprys, eerste prys in die De Kat-Potpourri-wedstryd, Artes vir die televisiereeks Die Klein Karoo, en die RAU-prys vir skeppende werk.
       Hennie Aucamp se Kort voor lank, WA de Klerk se As die reier noord vlieg en Alan Paton se Ah, but your land is beautiful is aan hom opgedra.

Hennie AucampHennie Aucamp is op 20 Januarie 1934 in Dortrecht, Noordoos-Kaapland gebore. Hy studeer aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy die volgende kwalifikasies behaal: BA, SOD, MA en DEd. Hy het ook in België en New York studeer. Aucamp was tot sy uittrede in 1994 aan die Universiteit van Stellenbosch verbonde.
       Toekennings op skryfgebied sluit onder andere die volgende pryse in: Tafelberg-prys (1970); WA Hofmeyr-prys (saam met Chris Barnard, 1974); ATKV-toneelprys(1980); Hertzogprys (1982); Fleur du Cap-prys vir die beste inheemse toneelteks van die jaar (1987); Recht Malan-prys (1997).
      Aucamp verwerf bekendheid as akademikus, dramaturg, kaberet- en kortverhaalskrywer, en digter. Hy lewer deur die jare 'n magdom bydraes op hierdie onderskeie gebiede.
      Verlede jaar het die boek 'n Skrywer by sonsopkoms by African Sun Media verskyn, ter viering van Aucamp se sewentigste verjaarsdag.

Abraham H de Vries gesels met Hennie Aucamp

  1. Ek wil graag wegstuur van die gewone vrae en jou probeer uitlok. Wat het jy van die dae van jou Wimpie-verhale af tot nou toe met die skryfwerk self geleer? Van die kortverhaal, ja, maar ook in breër verband, want ons skryf mos nie net om iets oor skryf te leer nie.

    Daar is twee reëls van DH Lawrence wat dikwels by my spook: “Never trust the artist. Trust the tale.” Dis die verhaal self wat besluit wanneer en hoe hy vertel wil word. Wanneer ons vassteek met die skryf van ’n verhaal, is dit dikwels omdat die verhaal nog nie ryp of gereed is vir vertel nie, of omdat die skryfster se huiswerk onvoldoende was, en die verhaal dus nie die nodige bindinge kon maak nie, of omdat die skrywer sy eie slimmighede wil afdwing op ’n verhaal wat dit nie nodig het nie. Iedere verhaal wat jy skryf, wil jou iets leer, oor die kortverhaal self en oor die kronkelinge van die menslike gees. Maar jy moet ’n verhaal nie dwing nie, dan word hy steeks. ’n Kollega van my by Opvoedkunde, Joan Jordaan, het altyd iets oor die ontstaan van ’n vers aangehaal wat my aangegryp het, maar wat ek nooit neergeskryf het nie en dus sleg onthou het. Ná ’n driekwartlewe ontdek ek dié aanhaling in ’n prosabloemlesing van sir AJ Quiller-Couch. Dit staan in ’n brief van John Keats aan John Taylor, en is op 27 Februarie 1818 geskryf. Dié “aksioom” – Keats se woord – lui só: “… if poetry comes not as naturally as the leaves to a tree, it had better not come at all.” ’n Mens moes baie geskryf en intens geleef het, en alle denkbare foute begaan het, voordat jy gereed is vir die helder, eenvoudige raad van Keats en DH Lawrence.

  2. In elkeen van ons is daar 'n "skrywerstem"; natuurlik is daar variasies wat deur die verhaalstof self gedikteer word, maar 'n Aucamp-verhaal blý Aucamp. By my het die vertellers van my kinderjare in Winkelplaas se winkel 'n groot aandeel gehad. Het daar iemand/mense/boeke in jou jeug ook so 'n invloed gehad?

    Braam, onthou jy Uys Krige se raad aan jong skrywers? ’n Klassieke driepuntplan: (1) vind jou eie stem; (2) ken die meesters; (3) hou jou wapens blink. En nou is dit, teenstrydig soos dit mag klink, juis deur die nabootsing van die meesters dat ’n kunstenaar sy eie stem mag vind; nabootsing deur vertaling, nabootsing deur náskilder, soos dit al eeue lank praktyk is. Ek en jy is baie gelukkig dat ons in ’n landelike omgewing tussen spontane vertellers grootgeword het. Waar sou ek die stemme vandaan gekry het vir die verhaal “Vir vier stemme” as ek nie tussen baie soorte (volk-) stemme grootgeword het nie? Ouma was ’n wonderlike verteller, maar ook oorverteller. As sy ’n Fanny Eden-verhaal soos Moederloos vir my vertel het, was dit vir my baie mooier as die boek self, en het ek my wellustig oorgemaak aan verdriet. Maar daar is so baie dinge en boeke en mense wat op ’n mens inwerk in jou smeltkroes-tyd dat dit moeilik, dikwels onmoontlik, is om jou “eie stem” na bepaalde invloede, na bepaalde vertellers en skrywers, te herlei. Een invloed uit my puberteit kan ek wel noem: die merkwaardige populêre skryfster Marius Gie. Haar nieu-Gotiese vervolgverhaal “Almeloo” in Die Huisgenoot was vir my ’n stylmodel in sy swoelheid, maar ook na tema. Aan die universiteit het die prosa van MER ’n versoberende invloed op my gehad, en my mentors, dr Con de Villiers, Ernst van Heerden en Eitemal, het my streng teen “mooiskrywery” gewaarsku, en my ook gekapittel wanneer dit nodig was.

  3. Jou enorme algemene kennis, van die gewoonste sake soos boererate, of boeke, of die breër kulturele wêrelde, of mense, sou 'n mens laat dink jy sou meer genres toets. Het jy nooit 'n speurverhaal, liefdesverhaal of so iets onder 'n skuilnaam geskryf nie?

    Ek sou dolgraag ’n speurverhaal wou skryf, maar ek is doodgewoon te dom daarvoor. Ek sal verstrik raak in my eie “plot”, soos ek keer op keer verstrik raak in die “plots” van TV-speurverhale. Dis eers wanneer ek ’n tweede of ’n derde keer na dieselfde speurverhaal op die kassie kyk dat ek agter die kap van die byl kom. Maar ja, iemand móét ’n topspeurverhaal skryf oor al die onopgeloste moorde op gays in die Kaap – dié op Richard Rive, byvoorbeeld.

    Liefdesverhale lê eweneens nie op my pad nie. Dis nie dat ek sinies oor die liefde is nie, dis eerder dat ek te idealisties oor die liefde is en dr Rose Franzblau se definisie van liefde volkome onderskryf: “… the mutual support of two mature people involved in separate quests for self-realization”. Dié soort liefde het ek nooit ervaar nie, stellig om die een of ander defek in eie karakter. Feit is: wie nie die liefde op sy positiefste ervaar het nie, moet wegbly van liefdesverhale af.

    Nog ’n verswarende ding kom by: ek is ’n kortafstand-atleet. Die keer of twee dat ek ’n novelle begin skryf het, het ek teen bladsy 30 vir myself gesê: “Maar nou is jy mos besig met blote bladvulling.” En daar en dan het ek my novelle teruggesnoei na ’n kortverhaal.

    Maar die behoefte om myself uit te brei, links en regs van die kortverhaal verby, het van die sewentigerjare van die vorige eeu toegeneem in krag. Die tagtigerjare het my kabaretperiode geword, met gepubliseerde vollengte-kabarette en liedteksbundels. Die negentigerjare het my egodokumentasie-periode geword, met drie gepubliseerde dagboeke en ’n memorie getiteld In die vroegte. En tussendeur, ewewydig met my fiksie, was daar my “bewaringsprojekte” by wyse van bloemlesings, vyftien altesaam. Party, soos baie van my ondernemings, het te vroeg in die tyd gebeur. Ek treur veral oor Wys my waar is Timboektoe (1997), my bloemlesing oor Afrika. Dit het helaas verskyn voordat nostalgie ’n nasionale neurose geword het, ook onder buitelandse Afrikaanssprekendes, maar destyds was die verkope daarvan baie matig. Nou is dit verpulp, of staan by Africana-handelaars.

    Praat van verskuiwende paradigmas: niefiksie het al hoe belangriker vir my geword – belangriker, by tye, as fiksie. Hiervan getuig my talle resensies en artikels. Dis of niefiksie die omringende wêreld vir my beter begin uitsê as fiksie, ook in my eie werk. Ek is byvoorbeeld verslaaf aan die geskiedeniskanaal (nr 68) op TV.

  4. Rust-mijn-ziel ken ons almal teen hierdie tyd, ook as "landscape of the mind"; die verhaal waarin jou vader die hooffiguur is, "Nag van die ooms", is een van jou mooistes; maar watter invloed het jou ma en ander naaste familie gehad op jou as skrywer en jou skryfwerk?

    My ma het ’n groot en blywende invloed op my skryfwerk gehad. Sy het my aan Langenhoven en Hans Andersen voorgestel, met voorlesings uit hul werk, en dit nog in my voorskoolse jare. En sy het vreemde verhale vertel, van perdediewe, dwaalligte, meisies wat in die moeilikheid raak en selfmoord pleeg, Boere-oorlog-episodes, soos dié waar haar eie pa genl Smuts een nag in ’n nou kloof langs die Klaassmitsrivier, onder die Engelse se neuse, na veiligheid gelei het. My oupa aan moederskant is deur sy eie mense verraai, en my enigste foto van hom is waar hy in Graaff-Reinet saam met ander oorlogsgevangenes voor sy tent sit. Hy het altyd vertel hoe Gideon Scheepers elke man met die hand kom groet het voor sy teregstelling.

    En aan cousin Freda van oom Freek van Penhoek het ek byvoorbeeld die tema van “Vir vier stemme” te dank. My suster weer is ’n verbete leser, en maak aantekeninge wanneer sy lees. Ek het in onlangse tye dankbaar gebruik kon maak van inligting wat ek van haar gekry het, oor byvoorbeeld ’n poltergeist, wat in die volksmond “klopgees” heet, asook inligting oor psigiese honde.

    Talle sinsnedes en woorde uit my jeug duik nog by my op, nie net van familie nie, maar ook van hul vriende. Die taalgebruik van toe getuig van ’n konkrete kyk na die werklikheid, veral dié van die natuur. Ek hoor my oom Andries nou nog praat van “die neus van ’n berg”, en ek hoor Mona Vorster sug: “Dis so ’n penitensie om op ’n plankmatstoel te sit.” Gelukkig is daar van my veel jonger vriende, soos David Pepler van Groen-faam, en Pieter Strauss, wat wonderlike stories en woorde terugbring ná hulle vele reise – David van oor die hele land, saam met ’n filmploeg, en Pieter Strauss van sy hartland af, Boesmanland. Van Pieter Strauss het ek byvoorbeeld dié mooi veldblomnaam gehoor: aanskou-my-gou.

  5. Watter invloed het nie die ouer word self nie, maar die besef van ouer word op jou skryfwerk?

    O, ’n groot invloed, en positief. Die besef van ouer word is ’n belangrike kreatiewe dryfveer. Dit ruk jou uit limbo’s en letargieë, en dwing jou terug na “jou lessenaar en jou lamp”, soos Elize Botha altyd gesê het. Dit help jou met die seleksie van aktiwiteite. Ek sosialiseer al hoe minder, omdat dit soveel energie en tyd opeis. Aan die begin van ’n nuwe jaar vra ek my af wat ek nóg kan afgee om my met meer tyd en energie te laat. Vanjaar tree ek, ná ’n halfeeu, uit as resensent. Die paar driekwart-klaar manuskripte in lêers is nou my hoogste prioriteit. Elke jaar of twee sluit ek ook die een of ander belangstellingsterrein af. So het ek ’n paar jaar gelede my kabaretversameling – boekery en langspeelplate – aan die Universiteit van Stellenbosch verkoop. Ook het ek my korrespondensie aansienlik begin afskaal.

    Ons gemeenskaplike vriend, dr Hans Ester, het my ’n boek gestuur met al die wyshede van Herman Hesse oor die ouderdom. Dis nie aan almal gegee nie, sê Hesse, om hul hele lewe, tot en met aftakeling, te oorskou. Die vita contemplativa, dis ’n wonderlike seën. Ek wens ek kan dit vir tydgenote wat nog voortstrompel in die rotteresies aan die verstand bring. As ons nie aan “deze zijde van de graf” besin, nadink, oorpeins nie, wanneer dan? Seker in gereïnkarneerde vorm, sê maar as ’n rot?

  6. Destyds het jy teenoor André (Brink) se “engagement” die “personal ache” gestel en sodoende miskien die idee help skep dat jou werk nie betrokke is by onreg en politieke gebeure nie. Maar dis tog doodgewoon ’n vals beeld. By naskou, hoe voel jy nou oor die eis van “betrokkenheid” van die skrywer? Watter rol speel jou Dekadensie-trek in hierdie verband?

    Ek is betrokke by “die menslike kondisie” – punt, uit. Wat aangeplak word by hierdie basiese kreatiewe credo, ontaard spoedig in voorskriftelikheid. So was dit toe André my midde-in ’n resensie oor ’n ánder skrywer se werk aangeval het. Not toeing the party line, sien. Dis hoekom ek heftig gekant geraak het teen alle skrywersgildes, want in plaas van hul lede geregtelik te probeer beskerm, probeer ’n gilde, of sy heersende voorsitter, die gewetes van sy lede manipuleer om by “the flavour of the month” aan te pas. Modegrille, modesimpatieë, dis wat eerbiedig moet word, vergetende dat internasionale neigings nie noodwendig universele neigings is nie, en spoedig mag verjaar.

    In die praktyk kom dit hierop neer, dat jou “betrokke” skryf net aanvaar word as jy Big Brother – altyd ’n ideoloog – klakkeloos napraat. Eiesoortige betrokkenheid word nie geduld nie en word dus doodgeswyg. Mý politieke simpatieë staan in my kabaretwerk: in Met permissie gesê (1980) en bowenal in Slegs vir almal (1986). Laasgenoemde kabaret het diversiteit vooropgestel lank voordat “diversiteit” ’n leë politieke gonswoord geword het. Ek het ’n veelrassige en veelkulturige rolbesetting geëis – en gekry. Maar eensydigheid was toe, soos nou weer, die norm: jy moet van die Afrikaanssprekende blanke ál skurk in jou stuk maak, of jou “politiek” – lees ook: medemenslikheid – word by die agterdeur uitgeskop.

    En wat is die slagspreuk van die Nuwe Politieke meningbepalers? Weer eens, helaas: Die Gedanken sind nicht frei.

    Die vermaledyde frase “the private ache” word altyd uit verband geruk, en ek wil dit vir ’n soveelste keer in die korrekte perspektief stel. Dit kom uit Arnold Wesker se toneelstuk The Four Seasons, en die volledige aanhaling lui só:

    Do you want me to feel for starving children? I feel for them. Do you want me to protest at wars that go on in the mountains? I protest. But the heart has its private aches. You must allow the heart its private aches.

    Jy vra watter rol my “Dekadensie-trek” in my politieke betrokkenheid speel? Die Weimar-kabarette, met hul kragtige Joodse insette, was uiteraard antifascisties, en was my belangrikste opleiding as kabaretskrywer; sonder hierdie skoling sou my kabarette ’n kosbare dimensie verbeur het. Maar om die “Dekadensie-trek” meer persoonlik te kry: die gay is jou kwintessensiële buitestaander, of meer toeganklik gestel, “outsider”. Omdat hy hom met sy rug teen die muur bevind, weet hy hoe dit voel om kronies “beleër” te wees; en hieruit spruit nie noodwendig vrees en bitterheid nie, maar ’n mededoë met alle minderheidsgroepe op hierdie aarde. En humor. Dit is tog wat kabaret op sy kunssinnigste ons bybring, naamlik dat lag die ultieme oorlewingsmeganisme is.

  7. As jy terugkyk oor jou oeuvre, ook afgehandelde werk, wat vertel dit vir jou oor die nog ónafgehandelde? Wat wil jy nog net so graag skryf soos Bruidsbed en Volmink?

    Dis nou tien jaar laas dat ek ’n kortverhaalbundel gepubliseer het, maar skielik – dis nou al ’n jaar of drie aan die gang – meld verhale hulle weer aan, talle aangestig deur biografiese en outobiografiese materiaal. Ek voer historiese figure ten tonele, soos Ernst van Heerden, Carl Nietzsche, Anna M Louw, Anthony Sher. Party verhale weer is “protobiografies”, om William Boyd se term te gebruik. Die ander verhale lyk vir my na konvensionele kortverhale. Die manuskrip heet ’n Vreemdeling op deurtog. Dis hoogs twyfelagtig of daar hierna weer ’n kortverhaalbundel sal wees. ’n Mens besef op ’n dag dat jou toegemete storievoorraad haas opgebruik is, en dat selfherhaling dreig. Jy aanvaar dié waarskuwingsinjaal sonder rancune of selfdramatisering, maar as bloot nog ’n natuurfeit.

    Daar is darem nog een bloemlesing wat ek sou wou saamstel – ek het trouens al baie tyd daaraan bestee – en dit heet Die Verlorenes: variasies op ’n Bybelse gegewe. Pleinweg gestel: die Gelykenis van die Verlore Seun, soos dit hom in die Suid-Afrikaanse letterkunde aangemeld het. Aan die prosakant is daar byvoorbeeld William Plomer, Elise Muller, Zoe Wicomb, Margaret Bakkes. Die oorwig lê agter aan die poësiekant, van WEG Louw tot by TT Cloete.

    Dan is daar die manuskripte wat nog in die pylvak is: my opstelle oor die kabaret van ’n eeu (Koffer in Berlyn); my opstelle oor homoseksualiteit in die kunste en die letterkunde (Op die man af); my aforismes en ander halwe waarhede (Vlugsout).

    Meer as genoeg om my lank onledig te hou.

  8. Die aantal Afrikaanse boeke op rakke word al hoe minder. Is daar iets wat ons vergeet, oorgesien het, Hennie? Meer wat ons wááraan kon gedoen het?

    Gemarginaliseerde tale en kulture word in baie lande bedreig deur die “killer language”, soos Engels tans genoem word, en Afrikaans voel dit pynlik op verkoops- en akademiese terrein.

    Maar Afrikaanssprekendes het ook self skuld aan die krimpende aantal boeke in Afrikaans wat jaarliks verskyn. Ek sê dit weer, en selfs heftiger as vroeër: die Afrikaanse boek het seker tien maal meer lesers as kopers. Geld is daar nog altyd vir duur uiteet, vir duur motors, vir duur haarkapsels, vir duur sportgerei, maar wanneer dit by boek koop kom, stap gegoede lui na die naaste biblioteek. En as dié oor ’n jaar of vyf nie meer bestaan of nie meer Afrikaanse boeke kan/mag aankoop nie? “Te laat” is die bekendste refrein binne die Afrikaner-kultuur.

    Neem die boek na die mense toe, lees voor daaruit, en jy het skielik kopers, soos die nooit volprese Saterdagse oggende in die Protea Boekwinkel in Stellenbosch telkens bewys. Onthou jy nog AM Luyt se ontwerp vir ’n boekereeks, van die ou Nasionale Boekhandel as ek dit reg het? ’n Man kom reg te perd op die leser aan, en links en regs van die perd is daar mense wat gretig die hande uitsteek na die boeke wat hy aan hulle uitdeel. ’n Boekkultuur blý, volgens my, die fondament van ’n beskawing.

    Skrywers moet weer, soos die reisende toneelgeselskappe van vroeër, die platteland in bussies invaar en hulself – en in dieselfde asem Afrikaans – verkoop. Smous op die markplein is op stuk van sake die oudste, en miskien nog altyd die effektiefste, vorm van handeldryf.

    Aktivering van dít wat daar is – Afrikaans en sy boeke – dít moet die missie wees van elke Afrikaanssprekende wat gesteld is op geestesgoedere en -waardes. Teen alle “vuil geskreeu” in. Of anders gaan gebeur wat Jeremy Taylor by sy vertrek uit Suid-Afrika voorsien het, dat die Afrikaner, soos die Boesman, ’n tragiese herinnering in dié wye en droewe land gaan word.

<< Back to the main chain <<


LitNet: 09 May 2006

Have your say! Send your feedback to webvoet@litnet.co.za.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.