BlitsdebatArgief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Toespraak by indien van mosie
(vir die vergadering van 10 November)

H Giliomee

Geagte mnr die President, dames en here van die Konvokasie

Die mosie wat voor u dien, vra dat:

1. die Konvokasie sy besluit herbevestig van 2002, geneem met ’n oorweldigende meerderheid, dat die Universiteit van Stellenbosch hom as ‘n Afrikaanse universiteit posisioneer wat meertaligheid bevorder

2. sy kommer uitspreek oor US se wegbeweeg van sy verbintenis tot Afrikaans en oor die proses van verengelsing

3. die Raad ‘n volledige plan opstel om Afrikaans op konkrete wyse verder te bevorder en te ontwikkel as voertaal en wetenskapstaal, en by uitstek Afrikaans te gebruik vir die doeleindes van transformasie.

Ek wil die vertroue uitspreek dat die Konvokasie vanaand die mosie wat nou voor u dien, sal aanvaar.

Waaroor gaan dit alles?

• Dat Stellenbosch ‘n plek moet wees waar enigiemand, ongeag ras, kleur of geloof kan kom leer as hy of sy in Afrikaans wil leer, en sy volle waarde van 100 persent doseertyd in Afrikaans kan kry.

• Dat hy of sy verseker kan wees dat hy/sy sonder beledigings van enige dosent werkstukke in Afrikaans kan lewer.

• Dat hy of sy vryelik op vergaderings toesprake in Afrikaans kan hou.

• Dat hy of sy met sy/haar koshuisvader of koshuismoeder Afrikaans kan praat.

• Dat ruimte gegee word aan diegene wat nie goed in Afrikaans vaardig is nie, om binne hierdie raamwerk Engels te skryf en te praat.

• Dat publikasies van die Universiteit en die studente nietemin oorwegend Afrikaans sal wees.

Dit gaan daaroor dat Stellenbosch ‘n inklusiewe Afrikaans instelling is.

Wat is dan die probleem?

Die kern van die probleem is die sogenaamde Tweetalige Opsie of dubbelmedium.

Die kern van die probleem is ook dat die Universiteit van Stellenbosch, om watter rede ook al, nie meer daarop staan dat studente wat hier wil kom leer, in Afrikaans vaardig moet word nie.

Die Universiteit bied, ten spyte van sy verbintenis tot tweetaligheid, min aansporing vir studente en dosente om in Afrikaans vaardig te word.

Die gevolg is ‘n konstante en groeiende stroom van Engels wat op die langer duur Afrikaans gaan verswelg

Dis die kern van die probleem.

Daarom het daar hierdie afgelope maand groot teenstand teen dubbelmedium opgebou en terselfdertyd steun vir die idee van US as ‘n inklusiewe Afrikaanstalige universiteit wat binne bepaalde perke Engels toelaat en verwelkom.

• Twee weke gelede het 3 500 studente binne ‘n week ‘n petisie geteken wat vra dat die Universiteit terugkom na sy 2002-beleid, wat die T-opsie tot die eerste jaar beperk.

• Meer as 130 van bekendste Afrikaanse skrywers en digters het hul ontsteltenis bekendgemaak oor die instelling van dubbelmedium in al die jaargange van die Fakulteit van Lettere en Wysbegeerte.

• Oor die afgelope twee weke het 1 800 alumni en ouers van studente elektronies hierdie mosie ondersteun. Dis merkwaardig hoe baie van die alumni Engelssprekendes en mense in die buiteland is.

Ek wil in die bestek van sewe minute sewe punte vinnig maak:

1. Ons baklei nie vir ‘n eksklusief Afrikaanstalige universiteit nie, maar wel vir ‘n inklusiewe Afrikaanse universiteit.

Daar is nie sprake dat hierdie mosie ‘n Afrikaanse universiteit wat eksklusief Afrikaans is, wil terug hê nie. Nagraads is US reeds hoofsaaklik Engels nagraads. Dis ‘n baie belangrike terrein wat Afrikaans reeds moes prysgee aan US. Ek vra u steun vir die standpunt dat US inklusief Afrikaans bly en dat die proses van verengelsing omgekeer word.

Ons vra ook dat Afrikaans gebruik word vir transformasie en dat US hom dit ten doel stel om oor die kort tot medium termyn 30 persent van die voorgraadse studente te trek uit voorheen benadeelde gemeenskappe, veral bruin en swart studente wat in Afrikaans hier wil kom studeer.

2. US het die grondwetlike reg om oorwegend Afrikaans te wees.

Dit is binne die grondwet moontlik om ‘n oorwegend Afrikaanse universiteit te hê. Laas week was daar ‘n brief van André Gaum en Cobus Dowry (Gaum was ‘n provinsiale minister van onderwys). Hulle argumenteer tereg dat dit nie in die eerste plek die regering is wat US druk nie.

Daar bestaan nie ‘n suksesvolle dubbelmedium universiteit in die wêreld nie; om die waarheid te sê, ek soek nog vir enige dubbelmedium universiteit. (Ek praat nie van dié wat parallelmedium is nie.)

Die enigste voorbeelde is UWK en UP. In eersgenoemde het Afrikaans gesneuwel en ek dink by UP is dit aan die sneuwel.

Die voorsitter van die Raad sê US sal ’n middelmatige streeksuniversiteit word as ons nie mense aanstel wat nie Afrikaans kan praat nie.

Is dit nie ‘n belediging vir ons huidige dosente wat oorwegend Afrikaans is nie?

US staan vandag saam met UK heel boaan die lys van universiteite in die land wat die meeste geakkrediteerde wetenskaplikes het.

Die voorsitter van die Raad sê ons gaan 30 persent van ons studente in Lettere en Wysbegeerte verloor as ons op Afrikaans aandring. Waar kom hierdie storie vandaan? Hoekom het ons hulle nie verloor 30 jaar gelede toe 15 persent van die studente Engels as huistaal gehad het en daar net Afrikaans was nie? Hoekom nie in 1995 toe andertaliges 25 persent gevorm het nie?

Dit was nog voor daar enige sprake was van ‘n formele T-opsie, toe US amper ongekwalifiseerd Afrikaans as voertaal gehad het. Ons Engelssprekende studente is van die mees lojale Maties.

• Dit is nie die studente wat verander het nie, dit is diegene wat die taalbeleid maak, bestuur en implementeer.

• Die moeilikheid ontstaan wanneer die Universiteit self onseker raak oor US as ‘n inklusiewe Afrikaanse universiteit.

• Die probleme ontstaan wanneer die mense wil toegee oor Afrikaans.

In ’n opname wat die Universiteit self in 2004 gemaak het, het 95 persent van die studente aangedui dat hulle geweet het dat hulle Afrikaans moet verstaan as hulle aan US wil studeer.

Hoekom het Afrikaans dan nou skielik ‘n probleem geword?

Die probleem is dat mense wat die beleid maak en uitvoer, onseker geraak het oor Afrikaans. Natuurlik kry jy dan probleme met jou taalbeleid en met sommige studente. Dan dring sommige studente al sterker aan op Engels.

3. Moedertaalonderrig is pedagogies die doeltreffendste metode van onderrig.

Daar is al meer kenners wat meen dat moedertaalonderrig ook op tersiêre vlak die beste is om studente te leer om te konseptualiseer, formuleer en artikuleer. Op ‘n stewig moedertaalbasis kan studente dan ook vordering maak om ander tale op akademiese vlak te gebruik.

Met die T-opsie vat jy van dié student wat 100 persent in Afrikaans klas wil loop, die helfte van sy of haar tyd weg. Vir die student wat liewer Engels as voertaal wil hê, vat jy 50 persent van die klastyd weg. Geen wonder die swart studente-organisasie, Sasco, vra vir parallelmedium nie.

4. Die T-opsie het so elasties geword dat dit beter is om dit die Elasto-opsie te noem.

In 2002 is die Taalbeleid aangeneem. Die Rektor het op die Konvokasievergadering van 2002 die versekering gegee dat Afrikaans nie op ‘n glybaan sal kom nie.

Die beleid lui dat Afrikaanse onderrig die outomatiese opsie vir kursusse is. Binne hierdie konteks van Afrikaans as die outomatiese opsie is die T-opsie of dubbelmedium toegelaat sodat studente, volgens die Taalplan, “optimaal doeltreffend kan studeer in modules met ‘n A-taalspesifikasie”, dws al daardie modules wat outomaties geld.

Wat gebeur vanjaar? Lettere en Wysbegeerte besluit die T-opsie is verpligtend vir alle kursusse tot aan die einde van die derde jaar. Die studente kan dan glo nie Afrikaans aanleer nie.

In 2002 was die A-opsie outomaties en die T-opsie ‘n uitsondering. En nou is die T-opsie outomaties en die A-opsie bestaan glad nie meer nie.

Afrikaans, eens die verstek-opsie, word nou Afrikaans, die versteek-opsie. Na ‘n paar jaar sal hulle hom glad nie meer kry nie.

Hoe kan iemand ontken dat daar ‘n dramatiese verandering in die beleid was?

Die T-opsie het so rekbaar geraak dat ons dit maar tot die Elasto-opsie moet herdoop. Met die Elasto-opsie-gebruik verbreek die Universiteit self die reëls van sy Taalplan. Met hul petisie het 3 500 studente die US daarop gewys.

5. Die eintlike probleem wat voortvloei uit die buitensporige toepassing van die T-opsie, is dat baie nie-Afrikaanse studente besluit het dis nie meer nodig om in Afrikaans vaardig te word nie.

Die Universiteit verplig alle studente om aan die begin van die jaar akademiese-geletterdheidstoetse te skryf. Daarna word die studente wat nie vaardig genoeg is nie, in ‘n risikoband geplaas en word hulle gevra om taalvaardigheidstoetse by die Taalsentrum te volg.

Vanjaar het 352 studente in Lettere en Wysbegeerte vir die eerste keer ingeskryf wie se eerste taal nie Afrikaans is nie. Slegs 24 van die nie-Afrikaanssprekende eerstejaarstudente het die kursus in Afrikaanse Taalverwerwing gevolg ten einde hul akademiese luister- en praatvaardighede in Afrikaans te verbeter. Dit kom neer op ‘n skrale 6,8 persent van hierdie 352.

Geen wonder die studente is nie na die eerste jaar vaardig in Afrikaans nie. Die Taalkomitee erken self dat die oorspronklike doelstelling van die T-opsie misluk het: studente het nie in hul eerste jaar daarin geslaag om genoegsaam Afrikaans te leer nie. Tans bestaan die T-opsie nie meer sodat studente gehelp kan word om in Afrikaans klas te loop nie; dit is daar sodat sekere studente in Engels klas kan ontvang.

Die groot vraag waaroor ons vanaand moet besluit, is: Mag US van studente verwag om in Afrikaans vaardig te word, en moet US baie beter fasiliteite verskaf en baie meer aansporings gee om hulle te help om dit te doen?

As u antwoord ja is, moet u vir die mosie stem; as dit nee is, stem daarteen.

Die T-opsie soos tans gedefinieer maak dit vir studente moontlik om sonder Afrikaans klaar te kom en in Engels te studeer. Wat die toekoms van Afrikaans aan hierdie universiteit betref, het dieT-opsie die groot enkele gevaar geword. Natuurlik skep dit ook moontlikhede, maar ons moet baie goed daarna kyk.

Die woord sal nou uitgaan dat met die T-opsie dit nie meer nodig is om Afrikaans te ken om op US te studeer nie. Nou sal die toevloei van studente uit agtergeblewe gemeenskappe wat deur voertaal Engels wil studeer, skerp kan toeneem.

In my termyn binne die Departement Politieke Studies by die Universiteit van Kaapstad het ek ervaar hoe die proporsie swart studente binne 12 jaar van 5 persent na 52 persent toegeneem het sonder dat standaarde gedaal het. Dit was moontlik omdat daar net een voertaal was en omdat ‘n uitmuntende Akademiese Steunprogramstruktuur hierdie studente se agterstande ondervang het. Niemand sou eers vir een oomblik gedink het aan 50-50-doseertyd in Afrikaans en Engels om akademiese standaarde te handhaaf nie, want studenteprotes oor doseertydverkwisting in ‘n taal waarin hulle nie wil leer nie, sou opslae gemaak het. As ons aan UK Engels en Afrikaans saam in ‘n T-opsie moes gebruik, sou daar na die 10 jaar niks van Afrikaans oorgebly het nie.

6. Die universiteit maak nie meer erns daarmee dat dosente in Afrikaans moet vaardig word nie.

Die beleid was nog altyd dat dosente na twee jaar vaardig genoeg moet wees om in Afrikaans klas te gee en werkstukke na te sien.

1. Agtien maande gelede het ‘n lid van die Taalkomitee aan my gesê 8 van die 24 nuwe aanstellings in Lettere en Wysbegeerte is nie in staat om in Afrikaans klas te gee nie. Toe ek hom vra of hulle nog verplig word om hierdie vaardigheid te verwerf, het hy ontwykend geantwoord.

2. Uit ‘n insiggewende gesprek verlede week met die hoof van die Eenheid vir Afrikaans van die Taalsentrum het die volgende ontstellende werklikheid duidelik geword: die Eenheid het sedert sy ontstaan in 1995 ‘n Taalaanleerprogram vir Dosente op verskillende vaardigheidsvlakke aangebied. ‘n Dosent met geen Afrikaans hoegenaamd nie sal byvoorbeeld deur vier fases moet beweeg, wat beteken dat hy ongeveer 360 kontakure benodig as hy in die Afrikaanse lesingsituasie – dus selfs in die T-opsie – professioneel moet optree en werkstukke moet nasien. Op my vraag hoeveel dosente oor die afgelope tien jaar tot op die vlak gevorder het waar hulle in Afrikaans kan funksioneer, was die lakonieke antwoord: “Uit ‘n personeelgetal van 72 tot op hede? Slegs die ongelooflike getal van EEN!”

En tog stel die Universiteit tans koshuisvaders en koshuismoeders aan wat glad nie in Afrikaans vaardig is nie. Dit beteken dat huiskomiteevergaderings in Engels gehou moet word.

Die indruk is dat US nie in die eerste plek meertaligheid wou vestig omdat dit pedagogies gesond is nie, maar na meertaligheid gryp om politieke probleme op te los.

Meertaligheid is die tendens van die toekoms. Maar dan moet jy beplan vir verrykende tweetaligheid, nie vir afbrekende tweetaligheid nie. Jy moet jou hooftaal as stewige basis behou en studente en dosente wat nie Afrikaans en Engels goed magtig is nie, aansporings gee om behoorlik tweetalig te word; jy moet jou dosente wat in meer as een taal publiseer, ekstra subsidies gee; jy moet daarna streef om werklik tweetalige studente te lewer.

Ek dink nie dit is wat aan US gebeur nie. Daar is nie verrykende tweetaligheid nie, maar afbrekende tweetaligheid. Wat Engels wen, verloor Afrikaans.

7. As die huidige tendense nie omgekeer word nie, is US noodwendig op pad na ‘n Engelsmedium universiteit

Daar bestaan nie so iets soos ‘n dubbelmedium universiteit nie, behalwe in Suid-Afrika. In Suid-Afrika was daar eksperimente en die uitslag was klokhelder: die kleiner taal sterf. Vat UWK, vat UP.

Wat belangrik is, is nie hoe getrou dosente tans die 50-50-formule handhaaf nie, maar die proses en die rigting waarheen ons beweeg. ‘n Stroom dosente en studente word ingevoer wat nie in Afrikaans vaardig is nie en geen aanmoediging het om dit te word nie. Dit sal elke klaskamer, elke komiteevergadering, elke huisvergadering meer en meer beïnvloed. Ons moet daardie stroom omkeer, en studente lewer wat werklik tweetalig is.

Nou kry ‘n mens ‘n gegoël met syfers. Daar word nou gesê 50 persent van die kursusse is nog in Afrikaans, en dit word nou skielik aangedui as ‘n rede om fees te vier en geesdriftig te wees oor die toekoms van Afrikaans aan US.

Gerrit Komrij, die Nederlander wat ‘n groot bloemlesing van Afrikaanse poësie saamgestel het, het geskryf: “Wat die toekoms van Afrikaans betref is die Afrikaanssprekendes self die grootste bedreiging vir die taal.” Toe het hy hierdie woord gesê wat almal behoort te skok: “Afrikaans is dalk lewend dood … soos ‘n gesonde spartelende liggaam waarvan mense besig is om die ledemate af te sny” (Die Burger, 24 Desember 2003).

Aan US is kursusse wat Afrikaans binne tien jaar heeltemal teruggesny het tot 50 persent – om Komrij se simboliek te gebruik: een gesonde been van Afrikaans is afgesit en die mense wil hê jy moet bly wees en sê: “Ja. Kyk hoe gesond is Afrikaans. Hy kan darem nog huppel op die een been. Kyk hoe mooi huppel die fraai ou kruppel eenbeentaaltjie op US.”

En in elk geval: Hoe word hierdie syfer bereken? Deur die Jaarboek-inskrywings? Daar is talle kursusse wat geen verband hou met die taalopsie wat in die Jaarboek gegee word nie.

UP het ook dubbelmedium en is US tien jaar voor op die roete van dubbelmedium. Daar is volgens die handboek tans net 10 persent van die kursusse in Engels. Maar almal weet in die praktyk is die feit dat UP al 60 tot 70 persent Engels is.

Jy kan oor tendense aan US praat slegs as jy onpartydige en betroubare syfers het.

Ons wantrou mekaar se syfers.

Die Konvokasie en die Raad moet saam ‘n onafhanklike oudit instel sodat ons vertroue in mekaar se syfers kan hê. In die oudit moet mense soos verbruikerswaghonde onaangekondig in die klas gaan sit. Ons het ook ‘n onafhanklike taalombudsman vir klagtes nodig.

Ten slotte: Waaroor gaan dit?

Dit gaan eerstens oor die feit dat US ‘n inklusiewe Afrikaanse universiteit moet bly. Dat Afrikaans die basis van onderrig, kommunikasie en openbare gesprekvoering moet bly, en dat ons vanaf hierdie stewige basis ander tale soos Engels en Xhosa moet akkommodeer in ‘n verrykende vorm van veeltaligheid in plaas van die afbrekende vorm wat tans by US in swang is.

Dit gaan tweedens daaroor dat US Afrikaans as taal ontwikkel en uitbou. Ek gewaar min daarvan die afgelope aantal jare.

Dit gaan derdens daaroor dat US in Afrikaans sy transformasieverpligtinge nakom. Veral is dit nodig om ‘n strategie te ontwikkel om die gemeenskap te help wat die meeste agtergelaat is van al die gemeenskappe: die bruin Afrikaanssprekende gemeenskap, van wie net 5 persent onderrig op tersiêre vlak ontvang, teenoor die 55 persent van blanke Afrikaners.

Daarom stel ons ‘n komitee voor, bestaande uit verteenwoordigers van die Raad, Konvokasie, Senaat, Studenteraad en Institusionele Forum, om saam ‘n plan op te stel wat gelyktydig Afrikaans en transformasie bevorder.

Die mosie vra dat US sy plek as ‘n inklusiewe Afrikaanstalige universiteit herbevestig, dat die proses van verengelsing omgekeer word, dat ‘n volledige plan opgestel word om Afrikaans op konkrete wyse verder te ontwikkel en te gebruik vir die doeleindes van transformasie.

Ek stel die mosie.



LitNet: 10 November 2005

Wil jy reageer op hierdie Blitsdebat? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.