Alles boeke!Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Onderhoude /
Interviews
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Rubrieke /
Columns
Kos & Wyn /
Food & Wine
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Spesiale projekte /
Special projects
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Geestelike literatuur /
Religious literature
Visueel /
Visual
Reis /
Travel
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Bekendstelling van Die volledige versamelde gedigte van Eugène N. Marais in Protea Boekhuis, Stellenbosch op Dinsdag, 22 November 2005.

JC Kannemeyer, Kristèl Roets, Marni Viviers en Marissa Baard

JC Kannemeyer
Vir die kursus Dokumentasie – eintlik behoort dit Edisiewetenskap te heet – wat ek die afgelope drie jaar as deel van die honneursprogram in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch aanbied, het ek, in oorleg met die drie studente wat vir die kursus geregistreer het – Kristèl Roets, Marni Viviers en Marissa Baard – besluit om ’n volledige uitgawe van Eugène Marais se gedigte te versorg.

Dit is ’n projek wat N.P. van Wyk Louw reeds in 1936, kort ná Marais se dood, in ’n radiopraatjie in die vooruitsig gestel het, maar wat niemand nog in die sewentig jaar ná die pleidooi aangepak het nie. In vergelyking met die 32 gedigte van die Van Schaik-uitgawe kon ons 63 tekste van Marais vir ons uitgawe opspoor en die verskillende variante van sy verse in die verskillende tydskrifweergawes met mekaar vergelyk.

Vir my persoonlik was dit ’n boeiende ervaring om só saam met drie ywerige studente te werk en ’n nuwe en volledige uitgawe van Marais se verse honderd jaar ná die eerste publikasie van “Winternag” – die poëtiese inleiding tot die Tweede Afrikaanse Taalbeweging – op die mark te bring. Dit was spanwerk waaraan al vier van ons ’n eweredige aandeel gehad het. En daarby het ons uitgewer, Nicol Stassen, so ywerig meegewerk om steeds ontbrekende tekste op te spoor, dat ons hom graag as mederedakteur erken.

Ek wil nou graag vir Kristèl, Marni en Marissa die geleentheid gee om die een en ander oor die kursus en hulle werk aan die projek te sê. Kristèl sal ’n kort oorsig oor die kursus gee, Marni sal konsentreer op wat hulle uit die kursus gekry het en Marissa sal oor Marais se poësie praat.

Kristèl Roets
Ek wil graag begin deur ’n algemene oorsig te gee van die kursus Dokumentasiekunde wat ons in die eerste semester by prof. Kannemeyer gevolg het. Wat dít betref, gaan ek net aandag gee aan die ontwikkeling van die Marais-digbundel. Ek wil ook noem dat ek my graad in Uitgewerswese aan die Universiteit van Pretoria behaal het, voor ek my Honneurs in Afrikaans en Nederlands hier by die Universiteit van Stellenbosch kom doen het. Dit was ’n leersame ervaring om prakties te kon doen waarvan ek net in teorie geleer het.

Dit was ook vir my ’n groot voorreg om onder leiding van prof. Kannemeyer ’n projek soos die uitgee van hierdie digbundel aan te pak. Eugène Marais is uiteraard verantwoordelik vir die gedigte in hierdie bundel, maar ek wil graag van die geleentheid gebruik maak om op prof. Kannemeyer as hoofsamesteller te fokus en ’n paar opmerkings te maak oor hoe hy ons gelei het met die projek.

Elke Vrydagoggend om negeuur het ek, Marni en Marissa ’n twee uur lange afspraak met prof. Kannemeyer gehad. Ons het dadelik weggespring met ’n aantal gedigte en digbundels wat elkeen moes gaan opspoor. ’n Groot deel van die kursus het dus bestaan uit ure in die biblioteek tussen die rakke, op soek na ontwykende gedigte. Met ons volgende ontmoeting rapporteer ons dan terug met ons onderskeie fondse, waarna prof. Kannemeyer ons op die spoor van nog ontbrekende gedigte geplaas het. Insameling van stof het dus ’n groot deel van ons tyd in beslag geneem. Een dag wat helder in my geheue uitstaan, is die dag toe prof. Kannemeyer ons na die Nasionale Biblioteek in Kaapstad geneem het. Ons het ’n oggend in die biblioteek deurgebring om alle ontbrekende gedigte wat nie in die J.S. Gericke-biblioteek te vinde is nie, op te spoor.

Dit was interessant om deur al die uitgawes van die ou Volksblad en Sarie Marais te blaai. ’n Gevoel van genoegdoening kom telkens by ’n mens op as jy op ’n gedig van Marais op een van die vergeelde, dun blaaie van die ou koerante afkom. Dit is moeilik om nie uit te roep “Ek het hom!” nie.

Nadat ons die meeste gedigte kon insamel, moes ons die verskillende weergawes met mekaar vergelyk. Kommas, punte, hoofletters en aandagstrepe het skielik nuwe betekenis gekry. Wat werkswyse betref, is prof. Kannemeyer baie gesteld op deeglikheid en detail. ’n Mens kom agter hoe belangrik deeglike proefleeswerk is om te voorkom dat setfoute, soos ook in Marais se tyd, in die teks insluip.

Prof. Kannemeyer laat dit maklik lyk om ’n boek saam te stel, wat boekdele spreek van die kwaliteit leiding wat ons gekry het. Ten slotte wil ek opmerk dat dit baie bevredigend is om mee te werk aan ’n resultaat wat so tasbaar is soos hierdie Marais-digbundel.

Marni Viviers
Ek het besluit om vandag te praat oor dít wat ek gehaal het uit die Honneurskursus Dokumentasiekunde wat prof. John Kannemeyer aangebied het. Tydens hierdie kursus het ons Die volledige versamelde gedigte van Eugène N. Marais saamgestel en ek verwys graag na dít wat hierdie module vir my en my medestudente op akademiese vlak en andersins beteken het.

Ek het die graad BA (Taal en Kultuur) aan die Universiteit van Stellenbosch behaal. My hoofvakke was Afrikaans, Engels en Geskiedenis. Tydens my drie jaar lange voorgraadse studie het ek nooit te doen gehad met ’n kursus wat enigsins ooreengestem het met prof Kannemeyer se Dokumentasiekunde nie. Toe ek met my Honneursgraad in Afrikaans en Nederlands begin het, het ek besluit om dié module te neem, hoewel ek nie aanvanklik seker was hoe dit sou aansluit by my belangstellingsveld, die letterkunde, nie. Aan die einde van die kursus kan ek sê dat dit my heeltemal ’n nuwe blik op literatuur gebied het en ’n positiewe bydrae gemaak het tot my bestudering van literêre werke.

Waar ek as letterkunde-student voorheen te make gehad het met ’n finale produk, ’n gepubliseerde roman, gedig of kortverhaal, het ek nou die ontstaansgeskiedenis van ’n literêre werk bestudeer. Ek het dus te doen gekry met al die probeerslae wat ’n werk voorafgegaan het. Deur die eerste weergawes van byvoorbeeld ’n gedig met die finale produk te vergelyk, kom verskeie vrae by jou as navorser op. Waarom het die digter spesifiek hierdie woord gebruik en nie die tientalle ander woorde wat hy vooraf beproef het nie? Waarom het hy nié een van die ander woorde of frases gebruik nie? Waarom het hy soveel tyd bestee aan ’n sekere frase? Waarom is hierdie frase so belangrik binne die konteks van die gedig? So kom die navorser dan ook nader aan die betekenis van ’n sekere werk. Deur na al die omskrywings en weergawes van ’n gedig of verhaal te kyk, verstaan ’n mens die skrywer se doel daarmee beter.

As voorbeeld verwys ek na die gedig “Mabalêl” in Die volledige versamelde gedigte op bladsy 137. Die eerste drie reëls van hierdie gedig is deur dertien ander weergawes voorafgegaan. Die finale, bekende weergawe lui soos volg:

Vinnig langs die paadjie trippel Mabalêl.
Vrolik klink die liedjie
Wat die klingelinge van haar enkelringe vergesel.
’n Mens kan jou afvra waarom hierdie eerste drie reëls vir Marais so belangrik was binne die konteks van die gedig en hoekom hy soveel aandag daaraan bestee het. Uit die verskillende weergawes blyk dit dat Marais ’n bepaalde atmosfeer met die reëls wou skep. Ek verwys na die derde weergawe:
Vrolik tinkel al haar enkel ringe
Deur die vrede van die skemer
Deur die stilte en die vrede
Klink die lied van Mabalel.
Hier gebruik Marais twee keer die woord “vrede” sowel as die woord “stilte”. Dit is duidelik dat hy met hierdie eerste reëls ’n bepaalde vreedsame atmosfeer wil skep wat sterk kontrasteer met die einde van die gedig. Hy wil dus as ’t ware die leser gerus stel en dan geleidelik die spanning begin opbou voor hy sy leser skok met die krokodil-aanval aan die einde van die gedig.

Miskien is hierdie nie so ’n goeie voorbeeld nie. Die verskillende variante van NP van Wyk Louw se gedigte illustreer my punt veel beter. Sy moeilike, ontoeganklike gedigte word meer verstaanbaar as dit met sy vroeëre manuskripte vergelyk word, waar hy dikwels van eenvoudiger, meer uitgebreide frases gebruik maak as in die finale weergawe van ’n spesifieke gedig.

’n Volgende aspek waarvan ek bewus geword het deur die loop van hierdie module, is dat die skryfproses arbeidsintensief en langsaam is. Daar heers dikwels die wanpersepsie dat gedigte of ander literêre werke sommer oornag ontstaan. Die muse besoek die digter en dan skryf hy binne oomblikke wonderlike poësie. Tydens hierdie kursus het ek net weer eens besef dat skryf ’n lang proses is wat baie herskrywings en oefening verg. Selfs die grootste Afrikaanse skrywers het lank gevat en hard gewerk om hulle gedigte of verhale te produseer.

’n Derde aspek waarna ek wil verwys, is die rol van die redakteur. Vooraf was ek nie seker watter rol ons in die samestelling van hierdie bundel sou speel nie. Die rol van die redakteur is meer voor die hand liggend as die skrywer nog lewend is. Die redakteur help dan met die laaste skaafwerk aan die gedig of verhaal. Hy/sy wys op aspekte waaraan die skrywer nog moet werk en dui die gebreke van ’n teks aan. Die redakteur speel dus ’n definitiewe interpreterende rol – hy bring veranderings aan die teks in ooreenstemming met sy bepaalde visie daarvan. Dieselfde geld ’n bloemlesing. Ek verwys hier na die Groot verseboek wat volgens Opperman bestaan uit die “mooiste gedigte in Afrikaans”. Ook hier is die rol van Opperman as redakteur sterk interpreterend, aangesien die bundel bestaan uit die gedigte wat volgens hom die mooiste is in Afrikaans. Hy is dus ook die een wat die verskillende gedigte vir die bundel uitkies en versamel.

In die geval van ’n publikasie soos Die volledige versamelde gedigte, waar die digter reeds oorlede is en die redakteurs die uitgangspunt het om sover moontlik die oorspronklike gedigte van die digter sonder latere veranderings of wysigings te publiseer, is die rol van die redakteur minder ooglopend en oënskynlik geensins interpreterend nie. In die loop van hierdie module het ek egter agtergekom dat die redakteur steeds ’n groot rol in die samestelling van so ’n bundel speel. In die eerste plek moet die verskillende weergawes van al die gedigte versamel word; daarna moet die verskillende weergawes vergelyk word, waarna daar besluit moet word watter veranderings behou sal word en watter nie.

Ek verwys na ’n voorbeeld in die bundel, weer uit die gedig “Mabalêl”. In die weergawe van hierdie gedig wat in Die Burger voorkom, lui die laaste reël van die derde strofe soos volg: “om jou hart die skadu van die dood”. Marais verander dit egter met die 1933-publikasie na “om jou hart die handdruk van die dood”. Ons as redakteurs moes dus besluit watter weergawe ons gaan behou, aangesien beide deur Marais geskryf is. Die vraag was of ons die oorspronklike moes gebruik of die finale weergawe. Of, moes ons eerder “die beste” weergawe plaas? Ons het dan ook besluit om die “beste” weergawe te publiseer en het die “skadu”-variant gekies wat ons as “literêr die beste verantwoord” beskou het. Soos T.T. Cloete aandui, word ’n handdruk as iets vriendelik verstaan – die woord “skadu” het meer negatiewe konnotasies as “handdruk” en word ook elders in die gedig gebruik. Hier het ons dus ’n interpretasie gemaak. Met behulp van T.T. Cloete se kommentaar het ons besluit wat die beste weergawe van hierdie strofe is.

Ek wil afsluit deur te sê dat BA-kursusse dikwels daarvan beskuldig word dat dit nie prakties genoeg is nie. Ons máák nie iets soos ingenieurs nie en help ook nie mense soos dokters nie. In BA-kursusse teoretiseer ons net en produseer nie werklik iets nie. In hierdie kursus het ons egter wel iets gemaak: ’n boek. Ons was betrokke by al die prosesse wat die boek voorafgegaan het – die versameling van inligting; die vergelyking van variante; die skryf van die verantwoording en die proeflees van die voorlopige weergawes van die bundel. Hoewel ek nog nooit met die kritici van BA-kursusse saamgestem het nie, moet ek erken dat dit baie bevredigend is om aan die einde van ’n kursus ’n produk soos hierdie in jou hande te kan vashou.

Marissa Baard
My eerste kennismaking met die poësie van Eugène Marais het op laer skool plaasgevind. ’n Maatjie het sy alombekende gedig “Die dans van die reën” vir ’n voordrag-eisteddfod ingeoefen. Ek was glad nie beïndruk nie. Wat vir ’n gedig is dít, dit rym dan nie eers nie, het ek gedink. Genadiglik het ek intussen tot ander insigte gekom!

Met die aanvang van só ’n projek sou ’n mens jouself kon afvra: is daar werklik soveel voorheen ongebundelde verse deur Marais dat die samestelling van hierdie bundel die moeite werd sou wees?

In dié geval was die antwoord beslis ja. Marais se vroegste verse het in die 1880’s, toe hy ’n skoolseun in die Paarl was, in die Paarl District Advertiser verskyn. Hierdie vroeë werk is alles in Engels. Ander Engelse verse word afgedruk in F.G.M. du Toit se Eugène N. Marais: Sy lewe en werk. Onder laasgenoemde gedigte is daar egter net enkeles volledig afgedruk – uit die res word slegs fragmente aangehaal.

In Land en Volk, waarvan Marais ook die redakteur was, het kort voor die aanbreek van die twintigste eeu enkele verse verskyn wat tot nou ongebundeld was. Verder is Marais se verse van tyd tot tyd in tydskrifte gepubliseer – selfs in Die Huisgenoot (deesdae ondenkbaar!). Ander plekke waar sy verse verskyn het, was natuurlik as deel van sommige kortverhale en dramatekste. Hiervan is die bekendste voorbeeld sekerlik die sogenaamde “Boesmangedigte”, wat deel uitmaak van Marais se Dwaalstories.

In die twee versamelings van Marais se poësie (Gedigte van 1925 en Versamelde gedigte van 1933) wat tydens sy leeftyd verskyn het, is gedigte uit al bogenoemde bronne nie opgeneem nie. Dit was dus interessant om te sien hoeveel verse daar in ander bronne opgespoor kon word, en hoe die aard en kwaliteit daarvan wissel wanneer sy oeuvre as geheel beskou word.



LitNet: 28 Desember 2005

to the top / boontoe

Wil jy reageer op hierdie artikel? E-pos ons by webvoet@litnet.co.za.

© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.