Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Sit dit af, sit dit af!

Zani Botes

Ek is nie mal oor televisie nie.

Dit was nie altyd so nie. Ek, soos al my maters, was wandelende TV-gidse. Een van my trotsste dae in standerd 2 (deesdae se graad 4) was toe ek Bophuthatswana Televisie (Bop TV) se weekskedule foutloos kon opsê. Vanaf die middag se kinderpret tot die aand afsluit met die gruwelike, maar hoogs verslawende V for Victory. V was seker die eerste program wat ons met die konsep van aliens in verbinding gebring het. (Klik hier om die geheue te verfris)

Tonele wat steeds uitstaan, is waar ‘n kêrel ‘n nooi oornooi (ek weet – hoe bevange lyk oornooi nie langs nooi nie!), ‘n drankie en ‘n lewende muis aanbied wat sy argeloos aan die pienk stertjie optel en in drie besonders groot slukke by haar keel laat afgly, terwyl die kyker moet luister na die hors d’oeuvre se fyn piepgeluidjies en die gekraak van bros muisbeentjies wat al sagter word. Dit was óf bros muisbeentjies óf die esofagus wat ietwat moes meegee om plek te maak vir die groterige, definitief harige lyfie. Maak ook nie werklik saak waar die geluide vandaan gekom het nie, die impak was gemaak. ‘n Ander is waar ‘n kêrel na ‘n dag se harde werk sy kop afskroef en dit op die normale staanplek langs die bed neersit voor ‘n televisiestel om bietjie af te skakel vir die dag, terwyl sy lyf gaan kos voorberei. In die eerste plek was die afskroef van die kop iets vreemd om my eie kop om te kry. Maar vreemder selfs was die feit dat die ou op TV besig was om TV te kyk … tien teen een van iemand anders wat besig is om TV te kyk … en dit terwyl ek besig was om dit alles op TV te kyk. Wat my dadelik laat dink het dat ek ook in ‘n TV-reeks is wat slaafs deur ander naïewe imbesiele soos ek nagevolg word. Ek het wel gesweer dat ek ‘n beter soundtrack sou hê. Die gevoel het oor die jare ietwat getaan, totdat ek The Truman Show gaan kyk het en heeltemal ontsenu die teater uitgesluip het. Vir weke daarna het ek na die hemel gestaar om die krakie te sien waardeur ons almal beloer word.

Gelukkig het ek weer ‘n ruk later tot my sinne gekom en besef dat dit maar net ‘n deel is van ‘n fantasiewêreld. Nóg later in my lewe besef ek dat dit ‘n fantasiewêreld is wat ek nie op my eie uitgedink het nie, maar wel een wat geskep is om my eie werklikheid op te kikker. Daarmee het ek nie noodwendig ‘n probleem nie. Dit is fantasties om die kassie aan te skakel en beelde te sien van die wêreld om ons. Dis heerlik om te leer van veraf lande, mense en bedrywighede en om met daardie kennis ‘n eie werklikheid vol drome en uitdagings te skep. Ek besit nie self ‘n televisiestel nie, maar hou daarvan om soms programme soos Weakest Link, Who wants to be a millionaire, Pasella, Top Billing en Free Spirit by vriende raak te loop. Ek kan nie beskryf hoe gelukkig ek was toe Flink Dink weer sy verskyning so paar jaar gelede gemaak het nie en het ook ‘n ongeëwenaarde passie vir Noot vir Noot … tot die grootste vermaak van vriende en geliefdes. Ek is beslis ‘n selferkende dokumentert wat af en toe tyd maak vir reekse oor moordvisse, puntoor-jakkalse, wolfmigrasies of aggressiewe rooimiere wat Amerika gaan opeet. Miskien hou ek net van gedurige veranderings en vernuwings. En al is dit die ou geykte resepte in elkeen van bogenoemde programme, is daar weekliks nuwe inhoud. Nuwe kennis, nuwe vrae, nuwe mense, nuwe plekke en in Noot vir Noot, nuwe uitrustings vir Johan. ELKE WEEK!!!

Nou maar vanwaar dan die TV-irritasie?

Goed, hier volg my bekentenis: Ek het ‘n reuseprobleem met sepies.

Spesifiek met Amerikaanse sepies. Daai lot borrels elke liewe weeksdag van 4-uur die middag tot minstens 8.30 – borreltyd.

Na ses jaar se sepies afsweer het ek onlangs by ‘n klompie vriende gaan kuier en moes tot my groot ontsteltenis om 4-uur agterkom dat hulle ‘n sepieslawe is. Soos alle sepieslawe het hulle die realiteit vaarwel geroep toe die laaste klokslag kwyn. Ogies het onmiddellik glasig geword, een krom handjie het by haar mou uitgekruip en iemand het prewelend … amper smekend … gevra of ons maar die TV kan aanskakel. Omdat ek nie onbeskof wou wees nie en omdat ek op daardie stadium nie veel beter gehad het om te doen nie, het ek myself uit eie vrye wil aan borreltyd blootgestel.

Wat gevolg het, was ‘n nare rit tussen Days, The Bold, en ‘n bedwelmde mengsel van Isidindong en Swewende Laan … alles netjies afgerond met die Negatiewe Nuus om 7. Ek vermoed ek moet my seëninge tel, omdat ek nie ook in dieselfde middag aan All My Children, Generations, Egoli, Passions, The Young And The Restless, Backstage en Scandal blootgestel is nie! Daar is wel diegene wat selfs die paar wat oorvleuel, sal opneem om later in te haal. Dit beteken dat hulle daagliks ‘n netjiese 6 uur en 5 minute aan sepies spandeer. Woes! Erger nog om te dink dat diegene wat The Bold nou al volg sedert sy ontstaansjaar in 1987, sowat 14 040 ure in die Forresters se lewens kon investeer. Klink vir my soos ‘n topbelegging!

Spot the difference - dasse tel nie

  
Bold and the Beautiful-span in 1987             Bold and the Beautiful-span: 2004

In swye het ek puntsgewys notas gemaak van my walgings, sodat ek vir nog ses jaar kan volhou met my eed. Ek deel graag ‘n paar puntjies:

Ridge Forreshoff

  • Ridge Forrester het nog nie in 18 jaar (dus sedert 1987) sy hare in ‘n ander haarstyl laat kap nie. Ek vermoed hy het ‘n reuse verlies-aan-kraakbeen-in-die-oor-probleem. Tien teen een opgedoen deurdat hy in sy tienerjare Amerikaanse voetbal gespeel het sonder ‘n helmpie. Dis ‘n wilde raaiskoot, maar ek moes my eie verbeelding met iets sus! Kyk mooi na die foto's van Meneer ForrestHOFF. Die man is sweerlik 'n hologram met net een gesigsuitdrukking. Ouers moet om vadersnaam versigtig wees om kinders te veel op 'n enkele karaktertrek te komplimenteer.
  • Brooke was al meer broekloos as met broek saam met al wat ‘n Bold is. Brooke kan in die vorige sin ook vervang word met Amber, Taylor, Sheila, Darla, Lauren, Macy, Bridget, Caroline ens.
  • Brooke en Ridge het steeds onverstaanbare obsessies met mekaar. Hope is weer terug in Bo se lewe soos ‘n ongesonde hoop wat maar net nie beskaam nie. Vang sepiekarakters dan nooit die skimp nie?
  • Borrelbabas bereik puberteit binne sowat ‘n jaar, dus is een borrelkindjaar sowat twee keer meer as ‘n hondejaar – onnatuurlik, selfs in die mees onstabiele gesin.
  • Aan die ander kant van die skaal sit die gelukkige borrelouers. Hulle bly tydloos en plooiloos, naai en verraai om elke hoek en draai, gee geboorte aan miljoene kinders. Hulle word deur demone bevaar, staan op uit die dood, lieg en bedrieg vir genoeg om minstens vyf leeftye heerlik bedrywig te hou. Wonderbaar!
  • Indien ‘n akteur besluit om die lang tranedal te verlaat word hy/sy vinnig afgesterf of die gat word gevul deur iemand anders met dieselfde haarkleur en kykers moet glo dat die karakter in ‘n traumatiese botsing was en ‘n nuwe gesig moes kry. Gelukkig is die nuwe sterre baie mooier en kan ook sing! (Foto regs: Thorne, Thorne en ... jip ... Thorne)
  • Sodra ‘n karakter ‘n fantasie het, word die skermpie erg wasig. Die kyker kry dus ‘n spesiale kykie in die fiktiewe karakter se fantasie en fikseer lekker saam. Dis sweerlik erger as my Truman-uitfreak.
Die ander groot rede vir my sepievrees is dalk nie so voor die hand liggend nie. Ek glo dat hierdie programme stadig maar seker mense se realiteite verdraai en veroorsaak dat slaafse volgelinge so vasgevang word in karakters se lewens dat hulle nooit by hul eie uitkom nie. Nou klink ek seker soos ‘n vingerswaaiende doemprofeet, maar dit is slegs omdat ek dit al self beleef het en omdat ek erg bekommerd is daaroor … Mense na aan my wat moet beplan sodat afsprake nie in die borreltyd plaasvind nie. TV-maaltye wat in doodse stilte afgesluk word terwyl daar in ‘n hipnotiese toestand na die kassie gestaar word en bewaar die een wat ‘n woord uiter! Nie ‘n enkele sekonde kan gemis kan word nie. Kan dit wees om nie die briljante dialoog te mis nie? Is dit om al die nuanses en karakterontwikkeling te beleef? Ek twyfel, want die dialoog is skrikwekkend eenvoudig en geyk en presies dieselfde karakters het na jare steeds dieselfde probleme. Die enigste verskil is dat die probleem nou uitgekring het en almal op die stel insluit … behalwe natuurlik die persoon met wie die karakter aanvanklik ‘n probleem/verknogting gehad het. Is dit dan nie algemene kennis dat die kortste pad tussen twee mense slegs tussen daardie twee mense bestaan nie? Hierdie swakkelinge kommunikeer in sirkels en skinder agter rûe … dieselfde rûe waarin daar reeds honderde dolksteke is. Dit voel al hoe meer asof ons bereid is om ons eie lewens op te offer vir hierdie karakters wat weier om enige lewenslesse te leer! En dit is ook nie genoeg om net drie ure van elke dag aan die kassie te offer nie. Die volgende dag word karakterkwessies bespreek deur bekommerde individue wat hulle eie realiteit opgee en verkies om fiktiewe karakters se probleme aan te neem eerder as om hulle eie lewens uit te sorteer.

Maar is ek nie dalk ietwat krities nie? Dis tog blote ontsnapping van die wrede/gejaagde/vervelige/chaotiese lewe?

Ek is onlangs weer daaraan herinner dat die brein so kragtig is dat dit wat ons dink, ‘n realiteit word. Dit vat slegs ‘n advertensie van ‘n stukkie brosgebraaide hoender wat sagkens op ‘n warm rolletjie val om ons monde te laat water. Dit vat letterlik ‘n fantasie om ‘n ereksie te kry! Geen fisiese, vatbare liggame hoef daarby betrokke te wees nie. Wat sê ons dus vir onsself as ons onsself peper met fiktiewe storielyne waarin karakters waarhede vermy, berge uit eenvoudige probleme maak en skinder en beledig om elke hoek en draai? The Young And The Restless word byvoorbeeld opgesom as “An exciting drama about John Abbott and his family and friends. The series touches on Aids, murder, suicide, accidents, love, hate, greed and treachery.”

Klink vir my asof ons maar die skeppers is van ons eie wrede/gejaagde/vervelige/chaotiese lewes. Ons kom net nie meer uit ons “beskermde” gaatjies nie, kyk nie meer rond om te sien hoe ons ons eie probleme kan oplos nie, leef nie meer ten volle in ons eie oomblikke nie, baljaar nie meer in ons eie tuine nie en spandeer nie genoeg kwaliteit-tyd saam met ons naaste nie.

Ek klim onlangs weer in iemand se sitkamer op my seepkis en verkondig wyd en syd my nuwe filosofie. Aan die einde van my pragtige eenvrou-monoloog kyk ek haar triomfantelik en uitdagend aand. Onbelangstellend kyk sy na my en sê: “As dit JOU pla, koop jou eie en sit dit dan af!”



LitNet: 23 Augustus 2005

Wil jy reageer op hierdie "fratsgolf"? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.