Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

Garbo bewaar tot vandag haar geheim

Jean Meiring

Greta Garbo, die legendariese rolprentaktrise van die jare twintig en dertig, is vandeesweek 'n eeu gelede gebore. Sy bly een van die boeiendste en mees enigmatiese figure wat Hollywood nog opgelewer het.

Grusinskaya, Russiese prima ballerina, strompel haar kamer in Berlyn se Grand Hotel binne. Haar ster is aan 't verdof en sy's deeglik bewus sy is stoksielalleen in die wêreld. Vanaand het sy selfs geweier om die verhoog te betree. Sy verwilder haar diensmeisie met 'n skor sug: "I vant to be alone."

Soos 'n ingehokte voël pyl sy van telefoon na badkamer, en haar triestige toestand lok die ewe desperate baron Felix van Geigern uit die hangkas waar hy met 'n string pêrels, wat hy pas by haar gesteel het, skuiling soek. Hy wil haar troos, maar gou herhaal sy haar versugting: die enigste troos vir haar is om alléén gelaat te word.

In 1932 het Grand Hotel die Oscar vir beste prent verower en dié toneeltjie daaruit word steeds as een van Hollywood se onvergeetlikes beskou.

Greta Garbo, wat in haar sterk Sweedse aksent dié woorde geprewel het, was een van die twintigste eeu se silwerdoeklegendes, maar het self die praal en publisiteit wat haar beskore was, met mening vermy. Dis asof dié soebatwoorde haar eie hartsbegeerte uitgedruk het.

Greta Lovisa Gustafsson is op 18 September 1905 in die Sweedse hoofstad Stockholm gebore. Haar ouers het 'n sukkelbestaan gevoer en kort na haar veertiende verjaarsdag beswyk haar pa.

Die ongemaklike, lomperige tienermeisie moes haar skoolopleiding opsê om werk te soek, maar haar eerste baantjie - as skuimsmeerder vir die plaaslike barbier - het min belofte ingehou. Toe sy egter in 'n afdelingswinkel hoede begin verkoop, gee sy - onwetend - die eerste tentatiewe treë in die rigting van Hollywood se blink liggies.

Geleidelik het sy in 'n swaan verander - met 'n sterk beenstruktuur en emosiebelaaide, glinsterende oë. Sy was uiters fotogenies en is genader om in publisiteitsmateriaal vir die winkel te verskyn, en gou speel sy ook in 'n rolprentjie om die winkel te bemark. 'n Reklameprent vir 'n plaaslike bakkery volg en in 1922 speel sy in 'n komiese kortfliek.

Greta Gustafsson, hoedeverkoper, kry van oraloor positiewe terugvoer op haar eerste aarselende pogings as aktrise, en sy verwerf 'n beurs om toneelspel aan die Koninklike Dramateater in Stockholm te studeer.

Die Sweedse meesterregisseur Mauritz Stiller merk gou die jong student met die ysige skoonheid en sterk verhoogpersoonlikheid op en gee haar 'n rol in sy prent Gösta Berlings saga (1924). Dit behaal internasionaal sukses en die jong aktrise is onmiddellik op koers na groter dinge.

Stiller voel aan dat Greta is 'n ster-in-wording is en neem haar onder sy vlerk. Hy raai haar aan om haar van na die makliker Garbo te verander en in 1925 verskyn die herdoopte Greta Garbo in die Duitse prent Die Freudlose Gasse. Dié verhaal van 'n gesin wat met die nasleep van die Eerste Wêreldoorlog te kampe het, is droewig, maar Garbo se vertolking word hoog aangeprys.

Kort hierna word Stiller 'n kontrak deur die Amerikaanse rolprentmaatskappy Metro-Goldwyn-Mayer (MGM) aangebied, en hy dring daarop aan dat hulle ook vir sy protegé werk gee. Na aanvanklike teenstand stem MGM in.

Die leeuedeel van 1925 word Garbo, wat met nouliks 'n woord Engels daar aangekom het, deur die MGM-beeldpoetsfabriek geskaaf en gepoleer. Sy word aan ellelange fotosessies onderwerp sodat sy as misterieuse anderwêreldse godin aan die Amerikaanse publiek bekendgestel kan word. In 1926 verskyn haar eerste Amerikaanse prent, The Torrent - natuurlik sonder klank. Haar meesterlike vertolking verstom die rolprentbase.

Soos Garbo se ster aan 't verskiet was, het Stiller s'n getaan, grootliks weens die rusies waarin hy gedurig gewikkel was. Na twee jaar in Hollywood keer hy na Europa terug: Garbo was nou op haarself aangewese.

Ook in 1926 verskyn die kommersieel hoogs suksesvolle prent The Temptress, en in 1927 speel Garbo teenoor John Gilbert in Flesh and the Devil én in Love, 'n verwerking van Tolstoi se roman Anna Karenina. Gilbert was toe MGM se grootste manlike ster, en teen die einde van dié produktiewe jaar was Garbo stewig op die troon as onbetwiste en onbereikbare koningin van Hollywood.

Maar haar allure as geheimsinnige eenkantvrou was nie maar net 'n produk van die MGM-stratege nie; sy was 'n individualis wat nie wou toelaat dat sy in 'n blik gedruk word nie. As die rolprentbase haar omkrap, trek sy haar onderlip op 'n punt en sê dreigend: "I think I will go back to Sweden." Keer op keer word hulle op dié manier oorgehaal om aan haar eise te voldoen.

Dit was egter nie net die karakters wat Gilbert en Garbo vertolk het wat stil-stil op die silwerdoek gevry het nie; gou was hulle self ook in 'n vurige romanse gewikkel. Hulle het op trou gestaan toe sy letterlik by die kansel haar rug op hom keer. Dis asof dié naelskraapse ontsnapping haar vir altyd die skrik op die lyf gejaag het, want Garbo het nooit die knoop deurgehak nie. Tog is haar naam deur die jare in dieselfde asem as 'n verskeidenheid mans en ook vroue genoem. Op 'n keer het sy egter gesê: "There's no one who would have me. I can't cook."

In 1928 en 1929 tree sy in 'n rits flieks op wat haar gewildheid verder laat styg. Almal het teater toe gestroom om Garbo te sien. Die rol wat sy vertolk het, was 'n bysaak. Sý was die spilpunt.

En agter die skerms het die stories van haar eksentrieke gedrag toegeneem. Sy't niemand op die stel toegelaat as haar tonele verfilm word nie - soms selfs nie die regisseur nie. Nooit het sy onderhoude toegestaan nie, en sy't pal haar rug op galageleenthede en prysuitdelingsfunksies gedraai.

Maar in die laat jare twintig het baie van die rolprentbase gemeen Garbo se dae is getel. "Talkies"s (oftewel rolprente met klankbane) het in 1927 op die kringloop begin verskyn, maar Garbo - met haar swaar Sweedse aksent - het eerder haar mond dig gehou. Anna Christie, 'n verwerking van 'n Eugene O'Neill-toneelstuk, wat in 1930 verfilm is, het dit als verander. Die reklameveldtog het heel eenvoudig op plakkate en biljette laat weet dié prent is anders want "Garbo Talks".

In die film vertolk sy die dogter van 'n Sweedse skeepskaptein wat noodgedwonge haarself tot prostitusie wend. Haar diep, skurwe stem en swaar aksent het die karakter eksieperfeksie gepas en fliekgangers was opnuut gaande oor Hollywood se grootste ster - wat skynbaar nie 'n voet verkeerd kon sit nie. Sy word vir haar spel in Anna Christie vir die Oscar vir beste aktrise benoem.

Die sleutel tot Garbo se suksesvolle aanpassing was waarskynlik dat sy telkens buitelandse karakters vertolk het - lewensmoeë, melankoliese vroue wat moeilik vir kategorisering vatbaar was. Haar swaar aksent was dus 'n voordeel: vir 'n Amerikaanse gehoor kon 'n Sweedse byklank net so goed Russies of Duits wees.

En Anna Christie blyk gou geen gelukskoot te wees nie. In 1932 vertolk Garbo op verruklike wyse die titelrol in Mata Hari, oor die berugte vrouespioen tydens die Eerste Wêreldoorlog, en in die sterbelaaide Grand Hotel is sy die balletdanseres Grusinskaya, 'n rol wat weens die "I vant to be alone"-reël sinoniem met haar sou word.

Kort na die verfilming van Grand Hotel stamp sy met die MGM-base koppe oor haar kontrak. Vir meer as 'n jaar is die rolprentteaters Garbo-loos totdat sy die oorhand kry en feitlik volle beheer oor die prente waarin sy speel, verseker. Sy kon voortaan kies wie die regisseur én manlike ster sou wees.

In die aanloop tot die verfilming van Queen Christina (1933), die lewensverhaal van die groot Sweedse koningin (1626-89), besluit sy ná die eerste repetisies om die grote Laurence Olivier met haar eertydse minnaar en medespeler John Gilbert, wie se loopbaan nie juis die talkie-era oorleef het nie, te vervang.

In 1935 speel sy in Anna Karenina en in 1936 verskyn Camille, gebaseer op die bekende verhaal deur Alexandre Dumas, oor die Paryse prostituut Marguerite wat aan tering ly. Haar vertolking word as 'n meesterstuk - waarskynlik haar heel beste - beskou. En met verwysing na die bemarkingstruuk vir Anna Christie is daar oraloor grappenderwys gesê dié prent se treflyn behoort te wees "Garbo Coughs".

In 1939 speel sy vir die eerste keer 'n komiese rol, in Ninotchka, 'n ligte satire wat met die kommunisme die draak steek. Haar komiese vaardigheid verstom selfs haar getrouste aanhangers. En soos te verwagte, pryk op die prent se reklamemateriaal die sinnetjie "Garbo Laughs".

In 1941 verskyn sy vir die laaste keer op die silwerdoek, in die middelmoot Two-faced Woman. Op die skrale ouderdom van 36, en met vier Oscar-benoemings op haar kerfstok, besluit Garbo om haar aan die rolprentwêreld te onttrek.

Sy trek na New York, waar sy in afsondering woon. Haar allesoorheersende soeke na stilte en alleenheid het sy eenmaal só verduidelik: "I feel like a criminal who is hunted. When photographers come, they draw crowds. I am frightened beyond control. When so many people stare, I feel almost ashamed."

In 1954 word sy met 'n spesiale Oscar vir haar "onvergeetlike vertolkings" vereer.

Op 15 April 1990 sterf Greta Garbo in New York. Haar enigma leef egter voort.

Voetnoot

Alex Duval Smith skryf uit Stockholm vir The Observer van 11 September 2005:

Greta Garbo did not want to be alone. Instead she spent her life in isolation and despair because she wanted to be with her drama school sweetheart, the Swedish actress Mimi Pollak.

Private letters released in Sweden to mark the centenary of the film star's birth throw a new and and tragic light on the tormented life of the pauper girl from Stockholm who became "The Face" of Hollywood in the Thirties, made 27 films and spent the last 50 years of her life as a recluse.

But it was not merely the unrequited love for Pollak - with whom Garbo maintained a correspondence for 60 years - that overshadowed the star's life up to her death in 1990. Two exhibitions in Sweden and a new book reveal that, before she left for the "uggly" [sic] United States in 1925, Garbo was self-obsessed, depressive and ashamed of her latrine-cleaner father.



LitNet: 26 September 2005

 

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.

boontoe / to the top


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.