Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Boeke /
Books
Opiniestukke /
Essays
Onderhoude /
Interviews
Rubrieke /
Columns
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Resensies /
Reviews
Nuus /
News
Slypskole /
Workshops
Spesiale projekte /
Special projects
Opvoedkunde /
Education
Kos en Wyn /
Food and Wine
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Reis /
Travel
Geestelike literatuur /
Religious literature
IsiXhosa
IsiZulu
Nederlands /
Dutch
Gayliteratuur /
Gay literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Bieg /
Confess
Sport
In Memoriam
Wie is ons? /
More on LitNet
Adverteer op LitNet /
Advertise on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

’n Doodskoot in dobbelland

Yvonne Beyers

(Na afloop van die Nasionale Begrafnisondernemersvereniging se jaarkonferensie, gehou te Grand West Casino op 27 Februarie 2003)


Death and the maiden

Dis ’n Donderdagoggend so skuins na agt en die verkeer op die N1 staan dik Kaap se kant toe. Ek is gedress in my mooiste frille en my rooigeverfde tone trap die petrolpedaal plat in die hoek: ek’s op pad na die Grand West Casino vir die mees morbiede funksie van die jaar: die Nasionale Begrafnisondernemersvereniging se jaarkonferensie. Funerex 2003.

Agter my cruise drie wit, blinkgepoleerde lykswaens met donker ruite. Slap slange wat ook die pad na Sodom volg. Ek hou my blind vir die doodsvloot op my spoor en knik my kop heen en weer op 5fm se musiek sodat die lykbesorgers agter my nie sal sien ek voel geïntimideer nie.

Ek kom om die geleentheid vir ’n koerant te dek, nie om my te skaar by die manne wat hul met Die Dood ophou nie.

My ma het jare terug Mrs Sourberry, ’n begrafnisondernemer se spookgesig-vrou, in die toneelstuk Oliver Twist gespeel. Nogal ewe in Port Elizabeth se operahuis. Haar voortande is met maskara vir die stuk swart gekleur, en sy en Mr Sourberry, wie se oë onder ’n swart keil versteek was, het my laat ril met hul liedjie: “We love coughs and wheezes and diseases called incurable … that’s your funeral, no one else’s funeral, that’s your FUNERAL.”

Ek slaan my oë hemelwaarts en bid dat die konferensiegangers nie in swart manelpakke geklee sal wees nie …

Buite Grand West sprinkel die sproeiers vrolik druppels oor die grasperke en is daar geen teken van swart keile en uittand-hekse nie. Die casino is leeg en vier vrouens stoot stofsuiers oor die matte om die vorige aand se sigaret-as, suiglekker-papiertjies en verfrommelde bierbottel-etikette op te slurp.

Vandag begin die Grand West oor. Blink en nuut. Die siele wat hier aan die duiwel verkoop is, is lankal vergete.

Ons sal lewe, ons sal sterwe

Die begrafnisondernemers kom van regoor die land — Gauteng, KwaZulu-Natal, die Oos-Kaap. Selfs van Knysna. Hulle’s hier om te kom luister na die Groot Kunstenaars van die bedryf:

  • Walter Lietz, ’n lykbesorger van Arizona in Amerika en lid van die rampbestuurspan wat die lyke moes identifiseer na die terreuraanval op die Wêreldhandelsentrum. Sy Stars & Stripes-das vou krom om sy pens en sy grimas wys ’n stel perfekte pêrels.

  • Shiya Ribowsky, adjunkdirekteur van New York se mediese-ondersoekkantoor. Vermoedelik ’n Ortodokse Jood met lang, donker sideburns waaroor hy ingedagte vryf terwyl hy sy notas bestudeer.

  • Keith Leverton, die Verenigde Koninkryk se Royal Funeral Director. Die oubaas wat prinses Diana, prinses Margaret en die koninginmoeder moes afsien.

    Die AVBOB-, Omega- en Goodall & Williams-locals kyk die sterre met verwondering aan. Hulle is manne wat weet van lyke. Wat sommer vinnig ’n sak liggaamsdele kan identifiseer en ’n massabegrafnis binne sekondes kan reël. Blomme, kerse, roubeklaers en al.

    Ons skuif in rye agter mekaar in en suig met klapwange aan die pepermente wat die organiseerders op die tafels gesit het. Vriendelik van hulle. Iets om aan te kou “terwyl die nag aan die dak knaag”.

    Lietz trek los met sy lesing en gee klein treetjies met ’n geboë kop tussen elke twee sinne. Lang pouses en skielike ontploffings afgewissel met sagte fluisterings in sy twangy aksent. “We have to be prepared for the next disaster. I can guarantee you that it will come. We all remember 9/11. We all remember exactly where we were on that chilling day … And it WILL happen again. It will happen HERE. And you are not ready for it … You won’t manage if it strikes tomorrow. You need to be prepared. For our job is to be ready … to drop everything when it happens and to go … to be there … IMMEDIATELY.”

    Ek voel hoe die gees oor die gehoor neerdaal, hoe die rye kisbeamptes oproerig word. “Amen, Hallelujah!” Die vrou voor my skud haar kop, die man aan die punt van my ry klap sy hande stadig teen mekaar. Hulle sal gereed wees! Hulle wil gereed wees! Hulle gaan met grawe, handskoene en kamers vol kiste op aandag staan wanneer ons D-dag kom. Ons sal lewe, ons sal sterwe … en ons sal daar wees om die lyke in pine te verpak.


    Jou kadawer en my kadawer*

    Die manne met geruite hemde en vroue met effekleurige pakkies en blombloesies se kele krap van al die ge-”hear, hear!” en hulle staan teetyd nader vir koffie. Hulle is opgewek en klap mekaar op die skouer wanneer hulle groet. Die vroue soen links en regs: almal ken mekaar. Een groot familie. Almal erf ewe veel, so daar is geen afgunstigheid nie. Lighters flikker en die rookwalms hang dig bo die angelierrangskikkings.

    Een ondernemer check my uit die hoek van sy oog, vroetel sy goue hangertjie tussen sy vingers en staan nader. “So jy is van Die Burger? Is Riana nog daar?” Ek mompel iets van nog nie lank daar nie, ken nog nie almal nie, maar hy slaat sy kollega op die blad en lag met ’n rookhoes. “Jirre, maar daai girl het nou vir jou ’n lekker paar stêre!” My mond gril ’n glimlag en ek maak asof my selfoon lui om te ontsnap.

    Dis elfuur en die casino het teen dié tyd volgeloop. Strepe ooms en tannies staan voor die dobbelmasjiene en slaan verbete vir die boerpot. Hulle beloer mekaar onderlangs en die ooms knik vir mekaar wanneer die blondes wat agter die roulette-tafels werk, verbyloop. Hier’s omtrent ’n hele ouetehuis se inwoners en rolstoele en kieries is volop onder die hoopvolles wat speel vir die Grote. So probeer hulle seker maar elke dag. Terwyl hulle wag vir die verligting van die jackpot of die dood. Whichever one comes first.

    Die blue rinse-brigade is salig onbewus van die konferensie in die kamer langsaan. Niksvermoedend oor die begrafnisondernemers wat hul hande teen mekaar vryf en grynslag vir elke gryskop wat verbydwaal.

    Hulle speel vir lewe, speel vir dood. En sit buitendien reeds lankal maandeliks ’n bietjie geld van die pensioen opsy vir toekomstige begrafniskostes.


    Call no man happy until he is dead**

    Die konferensie se PR neem my aan die arm, lig haar wenkbroue en fluister in my oor: “Wil jou gou iets gaan wys. Die uitstalling. Die ander gaan eers vanmiddag na die laaste spreker kyk, maar jy kan maar solank kom koekeloer.” Sy lei my na ’n reuse saal aan die anderkant van die gebou: “Hier’s alles wat jy moontlik kan nodig kry.” Dis ’n uitstalling van die gereedskap en geriewe wat gebruik word wanneer die donker jou kom haal.

    Honderde kiste in pine, plastiek, aluminium, veselglas. Bruin, goud, silwer, blou, pienk, wit. Yslike sarkofage vir ’n gevalle Goliat en klein tamatiekissies vir babas wat nooit die eerste gil gee nie. “Cheapste is R64, duurste R6 500. Make your pick!” knipoog ’n assistent vir my.

    Plastiekblomme en voëltjies om die groot dag mee te versier. Satynnagrokke om in te sluimer na ’n mens sag heengegaan het. En lykswaens met oop deure en kattebakke wat smeek vir ’n vrag. Een 4 x 4 lykswa — maroen met ’n diff lock en trekkerwiele — se venster is beplak met stickers waarop vingers die victory-teken wys. “V stands for victory!”

    “Wait till they see this. They can’t beat this up there in America. Not te hel. No way. Best in the business. Costs a shitload, most of it. But it’s worth it, hey. Who doesn’t want to say cheers in style?” Die assistent stop ’n flyer in my hand. “Go tell your granny an’ granpa. Everyone’s got to peg someday, hey.”


    Die disco aan die einde van die tonnel

    Ek jaag terug om ’n storie oor die kongres te gaan skryf. Ribowsky het my nadergewink voor ek weg is en gevra dat ek bly vir sy toespraak. “You’ll be back. Mark my words …,” het hy met toe oë gesê toe ek groet.

    Dié keer is die pad lykswaloos, maar ek sit in elk geval die radio aan om Mrs Sourberry se stem uit te doof. Dis Robby Williams wat sing. “Come and live a life supreme, no one ever gets you down, everybody looks for love …”

    Grand West gaan vanaand weer swartsakke vol geld maak. Kiste vol kleingeld.

    * Breyten Breytenbach

    ** JM Coetzee

    boontoe / to the top


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.