Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

SA 2014: Stryd om ware demokrasie begin nou eers

Johann Rossouw

is die vertaler van onder meer Pascal Quignard se Elke Oggend van die Wêreld (Protea, 2000). Hy is tans besig met ’n proefskrif oor tegniek en republiek in die Afrikaanse gemeenskap onder leiding van Régis Debray aan die Universiteit van Lyon-III in Frankryk.
  Johann Rossouw

Onderwerp van bespreking: Minderhede, uitgesaai op 1 Augustus om 20:00 op kykNET.
Gespreksleier Van Zyl Slabbert, met deelnemers dr Pieter Mulder (leier, Vryheidsfront+), dr Neville Alexander (direkteur: PRAESA, UCT), dr Gillian Godsell (bedryfsielkundige), en mnr Anthony Wilson (akteur).

Soos 'n mens van iemand van die kaliber van Van Zyl Slabbert kan verwag, is die belangrike onderwerp oor die posisie van minderhede ook in hierdie gesprekkereeks ingesluit. Ten spyte van die sporadiese pogings om die gesprek oor minderhede as sodanig verdag te maak, is dit algemene kennis dat spanning rondom minderhede, hetsy etnies, kultureel, talig, of religieus, ten grondslag lê aan verreweg die meeste binnelandse konflikte sedert die einde van die Koue Oorlog, soos Pieter Mulder dan ook heel vroeg in die gesprek uitgewys het. Die feit van die saak is dat die oordeelkundige erkenning en hantering van minderhede vandag wêreldwyd 'n lakmoestoets van enige demokratiese staat is.

Minstens drie benaderings tot minderhede is vandag aan die orde van die dag:

  • Die eerste benadering is om minderhede gewoon te ontken. Hierdie ontkenning kan wissel vanaf regstreekse onderdrukking, soos China byvoorbeeld met sy Oeigoer-minderheid doen, tot minder regstreekse vorme van ontkenning, soos wat die Franse staat met sy Bretonse en ander taalminderhede doen.

  • Die tweede benadering is om minderhede as minderhede te erken en aan hulle gereguleerde beheer te gee oor sake wat vir hulle as gemeenskap van belang is. Hierdie sake sluit kwessies in soos onderwys, monumente en taal. Hiervan is Spanje se erkenning van sy Katalaanse, Baskiese en ander minderhede miskien die beste voorbeeld, met Kanada en sy Franse minderheid ook 'n voorbeeld.

  • Die derde benadering is om minderhede nieregstreeks te erken deur aan lede van 'n minderheidsgroep as individue beskerming te probeer verleen. Dit is die benadering wat byvoorbeeld die VSA met sy sogenaamde Afro-Amerikaanse en in toenemende mate Spaanse minderhede volg. Dit is ook dieselfde benadering wat tot 'n groot mate deur Suid-Afrika se grondwetskrywers en regerings sedert 1994 gevolg is, ten spyte van grondwetlike artikels soos Artikel 185, wat poog om minderhede ook op kollektiewe basis te erken, maar wat deels ontoereikend mag wees, en deels gebrekkig toegepas word, soos onder meer bewys deur die feit dat dit meer as nege jaar geneem het om uiteindelik die sogenaamde Artikel 185-kommissie laat verlede jaar saam te stel (en hul werksaamhede en doeltreffendheid sedertdien grootliks 'n duistere saak is).

    Die eerste benadering lei sonder uitsondering tot konflik.

    Die tweede benadering werk redelik goed in hoogs geïndustrialiseerde lande met 'n groot meerderheid van een groep en een of meer kleiner minderhede van 'n ander groep; maar dit is nie 'n model wat sonder meer in 'n land soos Suid-Afrika toegepas kan word nie - deels weens ons wisselende vlakke van industrialisering, deels weens 'n gebrek aan konsensus oor presies hoe ons ons minderhede moet definieer, en deels weens onverwerkte spanning en bitterheid oor ons apartheidsera.

    Die derde benadering, soos veral in die VSA toegepas, is ook nie juis 'n reusesukses nie, veral as 'n mens in ag neem dat statistiek oor sake soos werkloosheid, onderwyspeil, tronkbevolkings en dies meer na meer as veertig jaar se verskillende vorme van regstellende aksie aandui dat daar nog steeds nie werklik daarin geslaag is om die Afro-Amerikaanse minderheid op peil met die wit meerderheid te bring nie. Om die waarheid te sê kan 'n saak daarvoor uitgemaak word dat die mislukte beleid van regstellende aksie eintlik nog meer vervreemding onder Afro-Amerikaners in die hand werk, soos onder meer geïllustreer deur die groeiende tendens in hul geledere om Afrika as simboliese vaderland en Suid-Afrika as model te omarm - terwyl, ironies genoeg, net soveel (veral jonger) stedelike swart Suid-Afrikaners weer Afro-Amerikaners en hul leefstyl as suksesmodel omarm!

    Kortom, dat minderhede erken moet word, is seker, maar hoe, is 'n ope vraag waarop ons in 'n land soos Suid-Afrika nog na antwoorde soek.

    Elemente van al bogenoemde was duidelik in Sondagaand se gesprek, veral rondom die glibberige kwessie van wat 'n Afrikaner nou eintlik is (sal dié tameletjie ons dan nooit met genadige rus laat nie?). Nogtans was die gesprek vir die uwe nie baie bevredigend nie, en wel om minstens drie redes, naamlik (1) die samestelling van die paneel, (2) die algemene gebrek aan 'n politieke bewussyn onder die deelnemers (weliswaar in wisselende grade by die verskillende deelnemers), en (3) enkele van die punte wat deur veral Mulder, Godsell en Alexander ter sprake gebring is.

    Wat die samestelling van die paneel betref: as 'n mens net kyk na die mense wat veral die afgelope vyf jaar onder Afrikaners die debat oor minderhede en demokrasie aangewakker het, is dit verstommend dat juis iemand soos Pieter Mulder gevra word. Mulder is oor die algemeen kundig oor aspekte van die minderheidskwessie wêreldwyd, maar volgens sy eie erkenning by geleentheid het hy baie geleer by figure soos Hermann Giliomee, ZB du Toit en Danie Goosen, om nou maar net drie intellektuele te noem. Die eerste twee het elkeen in die afgelope vyf jaar 'n reusagtige, weldeurdagte, byderwetse boek geskryf: Giliomee The Afrikaners, met implikasie vir minderhede, en Du Toit Die Nuwe Toekoms, spesifiek daarop afgestem. Du Toit was waarskynlik die enkele figuur wat die meeste gedoen het om die debat in 1999 in alle erns onder Afrikaners af te skop. Goosen het hom op sy beurt die afgelope vyf jaar in meer as 25 openbare referate voor 'n wye verskeidenheid gehore en in talle koerantartikels met groot insig oor hierdie kwessie uitgelaat. Wat is dit dan dat Afrikaners so sukkel om die regte mense uit eie geledere aan die gesprekstafel te kry?

    Maar dan was daar ook ander stemme uit en oor minderhede wat die gesprek boeiender kon maak en selfs meer op die politieke en alledaagse werklikhede kon afstem. Wat van Dawid Kruiper of 'n ander leier van die Boesmans/San (hoe 'n mens ook al veronderstel is om na hulle te verwys)? Hierdie groep het al 'n paar jaar gelede voorleggings aan die Verenigde Nasies gemaak en spesiale erkenning uit daardie geledere gekry. Wat van Floors van Jaarsveld van die Bosluis Basters (wat verlede Oktober uiteindelik hul grond na 'n lang stryd van die Grondwetlike Hof teruggekry het)? Wat van André Boezak of ander leiers uit die Khoi-San-geledere? Wat van die Vendas, wat toenemend 'n skerper politieke taalbewussyn begin vertoon? Wat van Robert Mopp (volgens laaste inligting nog die amptenaar getaak met minderhede in die Kantoor van die President)? Hoe kan 'n mens so 'n gesprek voer sonder om ook minderhede van 'n ander agtergrond en inslag aan die woord te stel, of sonder om minstens die regering ook die geleentheid te gee om sy saak te stel?

    Wat die gebrek aan 'n politieke bewussyn betref: die paneel het oor en oor saamgestem dat erkenning van mekaar se andersheid 'n belangrike voorwaarde is sodat ons ons eendersheid as Suid-Afrikaners ook kan uitleef. Maar hierdie erkenning is nie in die eerste plek op die vlak van die wetboek of persoonlike gesindhede nie, maar op die vlak van die politiek. Suid-Afrika het die afgelope vyftien jaar reuse politieke treë vorentoe gegee, juis omdat politieke dade ons soontoe geneem het: die laaste wit referendum van 1992 wat aan FW de Klerk 'n onderhandelingsmandaat gegee het, die daaropvolgende onderhandelinge, die algemene verkiesing van 1994, die aanvaarding van die Grondwet in 1996, en so meer. Dit kan selfs aangevoer word dat die oplaaiende frustrasie onder byvoorbeeld Afrikaners regstreeks voortspruit uit die feit dat daar oënskynlik sedert die aanvaarding van die Grondwet bitter min verdere konkrete, politieke inhoude aan die minderheidskwessie gegee is, nóg (en veral) deur hul beweerde politieke leiers, nóg deur die regering. President Mbeki het byvoorbeeld in 2000 aangekondig dat hy 'n spesiale taalafdeling in sy kantoor gaan stig, maar daar het tot dusver dadels van gekom. So 'n belofte en die uiteindelike implementering daarvan lê op die politieke vlak, en dit is die soort stappe wat die probleem werklik aanspreek. Uiteindelik het Sondagaand se gesprek bitter min ordentlike politieke en institusionele ontledings van die probleem verskaf, en nog minder oplossings voorgestel.

    Wat veral Mulder, Alexander en Godsell se bydraes betref, die volgende:

    Mulder het wel deeglik gewag gemaak van redelik suksesvolle voorbeelde van hoe minderhede in geïndustrialiseerde, betreklik homogene samelewings soos Spanje of Kanada hanteer word, maar glad nie erken dat hierdie lande se werklikhede totaal van ons s'n verskil nie. Spanje is nie self deur 'n koloniale geskiedenis nie, terwyl Kanada se kolonisasie, anders as in Suid-Afrika, die inheemse groepe feitlik heeltemal uitgewis het en so op brutale wyse die voorwaarde vir 'n homogene, gemoderniseerde gemeenskap geskep het. In Suid-Afrika het kolonialisme en apartheid mense nie soseer fisies uitgewis nie, maar eerder hul tradisionele ekonomiese praktyke en hul simboliese stelsels verwoes - vandaar dan ook die groot bitterheid wat nog onder baie mense heers (ten spyte van die verbete pogings om te beweer dat die WVK en die "Suid-Afrikaanse wonderwerk" hierdie bitterheid verwerk het).

    Ons sal in Suid-Afrika eerstens moet begin met die feit dat tot soveel as 60 persent van ons mense geensins of slegs gedeeltelik gemoderniseerd is (daardie tradisionele inwoners na wie Slabbert verwys het), en dat die Afrikaners, as gemoderniseerde minderheid, inderdaad ander belange as, byvoorbeeld, die landelike Boesmans/San sal hê. Om ons verskillende minderhede oor een kam te skeer, en te maak asof hulle almal dieselfde behoeftes het, is polities naïef en gevaarlik.

    Alexander het op sy beurt weer toegegee dat religie of taal inderdaad die basis van 'n minderheid kan wees, maar hy beskou kultuur as 'n "konstruk". Soveel waardering as wat die uwe vir Alexander het, is hierdie soort standpunt egter ongelukkig baie tipies van die soort wêreldvreemde houding wat soms onder intellektuele voorkom. Taal en religie is net soveel van 'n "konstruk" as kultuur, terwyl al drie se materiële basis ewe sterk is. Alexander moet dalk versigtig wees dat sy Marxistiese metodologie, met sy voorkeur vir die materiële bo die simboliese, hom nie blind maak vir die materiële en baie werklike aspekte van kultuur nie. Om te sê dat "kultuur" moeilik definieerbaar is, beteken nog nie dat dit nie bestaan nie, of nie ten minste vir baie mense baie werklik is nie. As jy wil erken dat religie en taal werklikhede is, en nie kultuur nie, is jy op dun ys. Om maar net een voorbeeld te noem: die Boeddhisme bestaan vandag uit meer as 200 skole na 'n geskiedenis van meer as 2 500 jaar, en dit is versprei oor seker meer as 40 lande. Die feit dat Boeddhisme so 'n polimorfe verskynsel is, en dus moeilik te definieer, maak dit nie onwerklik of onaantoonbaar nie.

    Oor die materiële basis van kultuur kan 'n mens ook baie sê, maar dit is nie die doel van hierdie kommentaar nie, behalwe om miskien te noem dat byvoorbeeld die tegniese stelsel waarmee Afrikaners as herkenbare groep ontstaan het, verskil van die tegniese stelsel waarmee, sê, Zoeloes ontstaan het, en dat hierdie tegniese stelsel inderdaad 'n nuttige riglyn is om te bepaal hoe Afrikaners sal dink oor tyd, ruimte, die wêreld, religie, ekonomie en dies meer (terwyl dit vanselfsprekend nie 'n absoluut veralgemeenbare riglyn vir elke enkele Afrikaner kan wees nie - om nou ook die nodige erkenning aan Alexander se sensitiwiteit oor voorskriftelikheid oor kulturele identiteit te gee). Alexander behoort tog te besef dat dit net so min moontlik is om na 'n standaard-Afrikaner as na 'n standaard-Christen of -Boeddhis te verwys, maar dat dit nie beteken jy kan sê daar is nie so iets nie.

    Wat Godsell betref: sy verwys tereg na die noodsaak van ware veeltaligheid as voorwaarde vir ware diversiteit en die erkenning van minderhede, maar sy kon nie Slabbert se vraag oor die fisiese uitvoerbaarheid van veeltaligheid in die skoolstelsel beantwoord nie. Moontlik is een van die redes vir haar onvermoë om hom te beantwoord toe te skryf aan die feit dat sy ooglopend - miskien weens haar agtergrond as sielkundige? - nie kan of wil beweeg na die politieke terrein nie. Die mislukking of geslaagdheid van veeltaligheid in die onderwys hang vandag veral van die politieke wil daartoe af, en die einste Alexander se Praesa het al goeie werk gedoen om te bewys dat ten spyte van 'n beleid vir veeltaligheid in die onderwys, die politieke wil daarvoor ontbreek, moontlik omdat die huidige regeerdes se politieke bewussyn nie in hul moedertale gevorm is nie, moontlik omdat dit die interne kohesie van die ANC kan bedreig - na alles is lojaliteit aan die ANC (en nie die Grondwet of ons gemeenskappe nie) vandag die belangrikste politieke waarde in ANC-geledere (net soos dit onder die ou NP voor 1994 was …).

    Ook kon Godsell nie haar idealisme oor veeltaligheid temper met 'n geworteldheid in die alledaagse lewe nie: die meeste mense sal waarskynlik nooit meer as drie Suid-Afrikaanse tale kan praat nie, en hiervoor kon sy meer ruimte gemaak het. Dit is goed en wel dat ons veeltaligheid as maatstaf onderweg na minderheidserkenning en diversiteit neem, maar die eintlike maatstaf bly die erkenning van al ons gemeenskappe by wyse van aantoonbare politieke dade.

    Laastens is waarskynlik die heel grootste probleem van die huidige Suid-Afrikaanse politiek, nie net vir minderhede nie, maar vir almal in die land, hoegenaamd nie gehanteer nie. Dit is naamlik so dat minderhede nie net gedefinieer word aan die hand van hul klein getalle nie, maar ook aan die hand van hul swak magsposisie. 'n Groep kan byvoorbeeld baie groot wees, maar as hy min mag het, bevind hy hom in die posisie van 'n minderheid - dit was byvoorbeeld die posisie van swart mense gedurende die apartheidsera. Kyk 'n mens na die huidige Suid-Afrika, sien jy dat die eintlike besluite in die land nie in die parlement geneem word nie, maar wel tussen die politieke en korporatiewe elites - baie soos in die ou bedeling. Met ander woorde, in die naam van die meerderheid word Suid-Afrika vandag weer deur 'n klein magsgroepie geregeer, oftewel 'n ander vorm van minderheidsregering as wat ons voor 1994 gehad het, maar met baie dieselfde handelswyse as dit by gewone mense se lewens kom. En die meerderheid gewone Suid-Afrikaners bevind hulle gevolglik in die posisie van 'n (mags)minderheid!

    Kortom, verkiesings en 'n modelgrondwet beteken nog nie dat ons die ou probleem van politieke onverantwoordbaarheid in Suid-Afrika opgelos het nie. Inteendeel, dit kan met stelligheid beweer word dat ons tans sien hoe die staat en die korporasie in die naam van Afrika en demokrasie (en "the people") gebou word, maar dat dit van sleg na slegter met ons gemeenskappe gaan, Afrikaner sowel as Afrikaan (of dit nou simbolies slegter of materieel slegter is). En daarom begín ons nou maar eers met die stryd om ware demokrasie, waar die gemeenskap en diversiteit ons politiek bepaal, en waar die "demokraties" gesanksioneerde eliteminderheid wat ons vandag regeer (of oorheers?) tot ware verantwoording aan al Suid-Afrika se mense geroep kan word.



    LitNet: 4 Augustus 2004

    Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.


  • © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.