Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

SA 2014: Moenie namens ons praat nie, want ons het monde!

Deon Rolse

is 'n finale jaar Opvoedkunde student by Pentech. Hy neem op 24 Oktober deel aan Die Jakes Gerwel Gesprekkereeks met INSIG tydens die Suidoosterfees. Die onderwerp van die gesprekkereeks is Re-imagining Identity: Hoe lyk ons nou?
  Deon Rolse

Ek lewer graag kommentaar oor SA 2014 se program op 12 September. Die tema het gegaan oor Suid-Afrikanerskap, en die ateljeegaste was Jakes Gerwel, Johann Rossouw en Denis Beckett.

Dit was vir my verblydend om te sien dat daar ook 'n jonger deelnemer op die paneel was. Maar dit was van korte duur, want Johann Rossouw het vroeg reeds begin kla omdat universiteite hul reg om te kies wie hulle moet inneem, verloor het.

Ek kon die genoegdoening op Jakes Gerwel en Dennis Beckett se gesigte sien: "Aai tog! Die voortvarendheid van die jeug." Ek kon onmiddellik agterkom dat Rossouw se ideologie nie verteenwoordigend is van die Suid-Afrikaanse jeug nie. Hy verlang gans te veel terug na die vleispotte van Egipte. Na 'n bestel waar net die farao's en die res van die adelstand in weelde geleef het en die gepeupel maar net hul lippe moes aflek.

Gerwel en Beckett is terdeë bewus van die probleme wat ons in Suid-Afrika het, maar is nog steeds optimisties en droom oor die toekoms.

Ek weet nie juis hoekom ek die volgende opmerking gaan maak nie, want dit is voor die hand liggend: Afrikaans sal slegs gehoor word as ons veg vir veeltaligheid. Natúúrlik het die taal sy status van voor die '94-verkiesing verloor. Dit maak mos ook verder sin dat al die ander Afrika-tale ook erken moet word en ons 'n lingua franca moet hê, anders is daar 'n Babelse verwarring.

Afrikaans het nou die gulde geleentheid om 16 Junie 1976 te herskryf deur aan die voorpunt te staan van die onderhandelinge vir moedertaalonderrig en veeltaligheid in die breë.

Ek is daarvan oortuig dat baie van die antwoorde en oplossings waarna ons soek, in die jeug opgesluit lê. Dit is opgesluit omdat die jeug nie 'n kans gegun word nie. Ons is deur die media gedoop as die Yizo-Yizo, of die verlore generasie. Van Zyl Slabbert het 'n opmerking gemaak dat ons met oorbelle, hanggat-broeke en 'n cool houding rondstap en apaties is teenoor wat rondom ons gebeur. Wel, hier volg my antwoord: Los ons uit! Hou op karring! Moenie namens ons praat nie, want ons het monde! Is die toestand van die land nie juis te wyte aan julle generasie nie? Die laaste sin klink amper so na Mike and the Mechanics, of hoe?

Daar is sekere werklikhede in ons samelewing wat erken en aan gewerk moet word. Die Afrikaanse gemeenskap (of is dit gemeenskappe?) is so verwyderd van mekaar soos die Noorde en die Suide. Ek kan onthou hoe sommige mense in my eie gemeenskap met my die spot gedryf en op my neergesien het omdat ek swart is. So asof dit 'n skande is om swart te wees. Ek het eers baie kwaad en hartseer geword, totdat ek hul onkunde besef het. Ek het begin verstaan dat hulle slawe is van slawe, en die slawe onder wie hulle gebukkend gaan, is ook slawe - van hoogmoed, 'n meerderwaardigheidsindroom en harteloosheid.

Ek woon 'n hanetree van 'n Afrikaanse Afrikanerkerk en wou gedurende die Pinkster só graag 'n draai daar gaan maak, omdat ek nie vervoer het om na my eie kerk toe te gaan nie. Ek het maar die gedagte laat vaar, want ek was té bang dat ek met agterdog bejeën gaan word. Diep binne-in my siel weet ek dat dit vir baie lidmate nie saak sou maak of ek net "Op berge en in dale en oral is my God" wil sing nie. My pigmentasie is nie "reg" nie. God hou Hom mos nie met k… op nie. Die mooi woord is "heidene".

Ek is regtig nie nou aan die huil nie. Ek is OK, want ons grondwet praat van 'n nierassige, nieseksistiese samelewing, waarin ek as landsburger erken word. Die huidige debat onder Afrikaanses oor identiteit gaan my nie beter laat voel nie, want ek is moeg daarvoor om geëtiketteer te word.

Die volgende grondbeginsels is egter vir my belangrik:

  • dat ons almal as Suid-Afrikaners beskou word
  • dat alle amptelike tale erken en bevorder moet word
  • dat ons ons verskille moet erken en respekteer, en
  • dat al 40 miljoen plus inwoners van Suid-Afrika soos eersteklas burgers voel.
  • Sommige mense wat my van geen adamskant af ken nie, vra my soms: "Nou wat is jy nou eintlik?" Ek antwoord graag: "Ek is Deon Wilfred Rolse. 'n Vrye Suid-Afrikaner en ek praat Afrikaans."



    LitNet: 21 September 2004

    Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.


    © Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.