Argief
Tuis /
Home
Briewe /
Letters
Kennisgewings /
Notices
Skakels /
Links
Nuus /
News
Fiksie /
Fiction
Poësie /
Poetry
Taaldebat /
Language debate
Opiniestukke /
Essays
Boeke /
Books
Film /
Film
Teater /
Theatre
Musiek /
Music
Slypskole /
Workshops
Opvoedkunde /
Education
Artikels /
Features
Visueel /
Visual
Expatliteratuur /
Expat literature
Gayliteratuur /
Gay literature
Xhosa
Zulu
Nederlands /
Dutch
Rubrieke /
Columns
Geestelike literatuur /
Religious literature
Hygliteratuur /
Erotic literature
Sport
Wie is ons? /
More on LitNet
LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.

SA 2014: Voëls van verskillende partyvere

Bertie du Plessis*

Bring 'n klompie voëls van verskillende partyvere bymekaar, en jy kan nogal verwag dat hulle verskillende deuntjies sal sing.

Vir my was die opvallende egter dat daar 'n merkwaardige harmonie tussen Koos van der Merwe (IVP), Helen Zille (DA) en Bantu Holomisa (UDM) was (ek praat nie van Kurt Morias, lid van die EU-kommissie nie, dié het skaars 'n sprak gesprook en sy bes gedoen om soos die televisieskeidsregter by 'n rugbywedstryd onafhanklik, billik te lyk). Ja, ten spyte van hard probeer, volgens Van Zyl Slabbert, kon 'n ANC-verteenwoordiger nie gevind word nie, wat natuurlik op sy eie 'n hele program se woorde vol spreek.

En wat is dié veronderstelling nou wat die deelnemers, ten spyte van hulle verskille, so eenders laat klink? Dat die opposisie groeimoontlikhede het as ontevredenheid met die regering se dienslewering toeneem. Wat my betref is dit juis nie so vanselfsprekend nie. Apatie, ja, soos die jare aanstap, hier en daar 'n bietjie groei by die opposisie, veral wanneer 'n leier parmantig voorkom, ja. Maar werklik betekenisvol groei sodat die opposisie 'n egte belofte aan sy ondersteuners kan maak: "Ons kan die bewind oorneem"? Nee, ek dink nie so nie.

As dit waar is dat die ANC eerder 'n volksbeweging is as 'n politieke party, het die gebrek aan "delivery" 'n baie swakker vermoë om ondersteuners weg te dryf. En alles wat ek nog van die ANC in "close-up" gesien het, onderstreep dat ons hier met 'n trop, 'n kudde te doen het, eerder as 'n beginselgedrewe beweging. Kyk maar net hoe maklik kan soveel kommuniste 'n vryemarkstelsel dryf!

Waarskynlik omdat nie soseer die beginsel nie, maar die doelwit saak maak. Die doelwit is die oorlewing van die trop en as dit op 'n keer onderskrywing van Marxistiese beginsels was, dan was dit toe goed. As vrye mark nou die oorlewing van die trop dien, dan goed so ook, maar dit hoef nie môre nog dieselfde te wees nie ... Dit beteken dat die ANC eindeloos meer plooibaar is as wat opposisiepolitici vermoed.

Wanneer verloor 'n volksbeweging soveel lede dat hy in die gevaar kom om mag te verloor? Nou ja, ons het mos 'n voorbeeld hier te lande uit die onlangse verlede, die ou NP (nie verniet dat die NP en die ANC al twee daardie skuldige lettertjie "N" in hul akronieme het nie!). Die NP het begin split en begin betekenisvolle opposisie kry toe die eksterne druk so erg begin raak het dat die volk nie meer seker was oor watter koers die beste kans op oorlewing sou gee nie. Eers toe het die trop verbrokkel en het verskillende leiers in ander rigtings gebulk.

Op dié patroon moet die opposisie hoop op eksterne invloede op pad na 2014.

Volgens my voorstelling sal die ANC alleen onder druk van een of ander nog onbekende eksterne faktor in homself verdeel kan raak en 'n nuwe opposisie as broedertwis skep.

Kyk maar net na oorkant die grens. Wat meer moet 'n regering-as-volksbeweging doen om nie te "deliver" nie?! En waar is die opposisie? Zim is soos Zim is omdat die eksterne druk grotendeels afwesig is, natuurlik omdat Zim te onbenullig is vir die internasionale gemeenskap om regtig aandag aan te gee.

Ek dink nie 'n mens moet ooit die band onderskat wat die lede van 'n kudde bind nie. Twee voorvalle spoel deur my geheue. In 1999, op die vooraand van die verkiesing, sit ek en gesels met 'n bruin vriendin, 'n hoogsbekwame beroepsvrou, en midde in die organisasie vir die algemene verkiesing. Sy het toe reeds opgemerk hoe die wind van Afrikanisasie en etnies swart in die ANC waai. Sy sê: "Bertie, maar na alles wat ek nou vir jou oor die ANC gesê het, weet ek, as ek in daardie hokkie gaan staan, sal daar 'n onsigbare hand my vingers vat en ek sal ten spyte van al my kritiek my kruisie by die ANC trek."

Dit het my gedagtes laat teruggaan na April 1974 (kort voor die algemene verkiesing van daardie jaar) by 'n tafel in die ou Departement Afrikaans-Nederlands van Stellenbosch se teekamer waar ek en WEG Louw gesit het. Louw, wat op twaalfjarige ouderdom tegelyk ateïs en Nasionalis geword het, was toe reeds - soos die meeste Afrikaanse letterkundiges - grondig vervreem van John Vorster en sy trawante en het dae lank al tydens teetyd heftig uitgevaar teen die Nasionale Party. Op dié dag bly hy skielik stil en sê: "Maar Bertie, na alles wat ek nou gesê het, weet ek as ek my kruisie moet trek, sal dit wees asof 'n onsigbare hand myne in syne neem en my lei om weer my kruisie langs die NP te trek."

Teen partye met 'n "N" in die akroniem veg jy teen magte wat sterker is as griewe.

Ek is bevrees die opposisie is nog vir baie jare deelnemers in die kompetisie vir die Groot Kampioenkapokhaantjie van die Landbouskou. Oftewel, verdoem om aan hulle ondersteuners maar net te belowe dat hulle "die regering op sy tone sal hou!". Ai, en eintlik moet die opposisie die regering op sy rug "lights-out" kan koudsit!



*Dr Bertie du Plessis bedryf MindPilot, 'n bemarkingskommunikasieagentskap. Hy was verantwoordelik vir die omskakeling van die ou Stigting vir Afrikaans na die SBA, en het ondersoeke geloods na die verengelsing van Afrikaanse universiteite en skole. Sy maatskappy is verantwoordelik vir die posisionering van ondernemings, sowel as projekte en produkte van sommige van Suid-Afrika se grootste korporasies. Hy het onlangs die sakboekpublikasie Back to Basics: Strategy gepubliseer.



LitNet: 13 Julie 2004

Wil jy reageer op hierdie artikel? Stuur kommentaar na webvoet@litnet.co.za om die gesprek verder te voer op SêNet, ons interaktiewe meningsruimte.


© Kopiereg in die ontwerp en inhoud van hierdie webruimte behoort aan LitNet, uitgesluit die kopiereg in bydraes wat berus by die outeurs wat sodanige bydraes verskaf. LitNet streef na die plasing van oorspronklike materiaal en na die oop en onbeperkte uitruil van idees en menings. Die menings van bydraers tot hierdie werftuiste is dus hul eie en weerspieël nie noodwendig die mening van die redaksie en bestuur van LitNet nie. LitNet kan ongelukkig ook nie waarborg dat hierdie diens ononderbroke of foutloos sal wees nie en gebruikers wat steun op inligting wat hier verskaf word, doen dit op hul eie risiko. Media24, M-Web, Ligitprops 3042 BK en die bestuur en redaksie van LitNet aanvaar derhalwe geen aanspreeklikheid vir enige regstreekse of onregstreekse verlies of skade wat uit sodanige bydraes of die verskaffing van hierdie diens spruit nie. LitNet is ’n onafhanklike joernaal op die Internet, en word as gesamentlike onderneming deur Ligitprops 3042 BK en Media24 bedryf.